Die Krimoorlog, Turkye en Rusland

Daar word die afgelope dae druk in die korporatiewe media en veral op sosiale media gepraat van die moontlikheid dat ons ons op die vooraand van die Derde Wêreldoorlog bevind. En miskien is dit nodig dat ons ook ‘n slag in diepte daarna kyk. Baie van wat hier gesê word, is miskien al aan u bekend. Maar ‘n paar nuwe gedagtes én insette wat bykom, gee dalk vir ons ‘n duideliker prentjie van waar ons op die profetiese lyn staan. Ons wag nog net vir  die laaste strooi wat die kameel se rug gaan breek.

Pres. Wladimir Poetin het blykbaar die punt bereik waar hy geen doekies meer omdraai nie. Sy aankondiging dat die Russiese militêre magte voorberei vir ‘n volskaalse oorlog teen Amerika en sy bondgenote, bewys dit. En dat Siener se rooi bul en witrug bul uiteindelik aanmekaar gaan spring, staan reeds profeties opgeteken. Poetin bevestig dit net met hierdie woorde: “As Saudi-Arabië, Turkye, die VSA of enige ander land troepe in Sirië se grondgebied instuur sonder die toestemming van die Siriese regering, sal Rusland dit beskou as ‘n oorlogsverklaring!”

Hy het hierdie waarskuwing uitgereik nadat prins Mohammad bin Salman Al-Saud, die 30-jarige Saudi-Arabiese leier, aan CNN gesê hy gaan grondtroepe na Sirië stuur om “ISIS te beveg. En die besluit is finaal en onherroeplik“.

Poetin se reaksie was dat Salam Al-Saud dit as ‘n rookskerm gebruik, eerstens om pres. Basjar al-Assad tot ‘n val te bring, en tweedens, om Jerusalem in te val en die Al-Agsa Moskee in Jerusalem vir die Moslems weer in besit te neem.

Maar intussen verloor ISIS veld in Sirië. Pres. Basjar al-Assad se magte en Hisbolla-vegters het weer daarin geslaag om die dorp Azaz, noordwes van Aleppo, in te neem. En dis wat Saudi-Arabie gaan dwing om troepe in die streek te ontplooi.

Op ‘n vraag aan die Turkse eerste minister Ahmet Davutoglu, of hulle Azaz gaan terugneem, was sy antwoord. “Wag ‘n paar dae en jy het die antwoord.”

Dit klink na ‘n dreigement.

Die volgende paar weke hou vir ons die sleutel tot die antwoord. Saudi-Arabië gaan 18 dae lank ‘n reuse-militêre oefening op sy noordelike grens hou en dan moet die 350 000 troepe wat vir die “oefening” daar saamgetrek is, óf teruggaan huis toe óf Sirië binneval.

Laasgenoemde lyk die mees waarskynlikste, want behalwe vir die 350 000 troepe, sal 20 000 tenks, 2 450 vegvliegtuie en bomwerpers, en 450 van die mees modernste helikopters, ook aan die oefening deelneem. En militêr gesproke, is dit die grootste ‘vryetydse’ oefening in die militêre geskiedenis. Dit staan bekend as Noord-Donder.

Die bevel vir hierdie “oefening” kom van die 30-jarige prins Mohammad bin Salman Al-Saud van Saudi-Arabië. Net soos die CIA in Tunisië, Egipte, Irak en Libië met die hulp van binnelandse terroriste chaos, verwarring en burgeroorloë veroorsaak het, het hulle Salam ook gehelp om Jemen in ‘n bloedige burgeroorlog te dompel om ‘n regeringsverandering te weeg te bring. Om dieselfde in Sirië en Iran te doen, het Salman 25 Moslem bondgenote opgekommandeer om saam met sy magte aan die oefening deel te neem. Van die lande is die Verenigde Arabiese Emirate, Egipte, Jordanië, Bahrain, Soedan, Koeweit Marokko, Pakistan, Tunisië en nog tien ander nasies.

Hierdie is maar net nog ‘n uitvloeisel van die Arabiese Lente wat in Desember 2010 in Tunisië begin het met beloftes van bloeiende demokrasieë, pluralisme, vrede, vryheid en verdraagsaamheid. Dis elke dag in nuusverslae oor die radio en TV, asook artikels in koerante en tydskrifte, wêreldwyd uitbasuin.

En nou? Nou lê dit al daardie beloftes begrawe onder puin- en vullishope, woon die mense in krotte en murasies, sonder krag, sonder water, sonder infrastruktuur, sonder hoop; almal verwilderde, verskeurde volke, gestroop van alle menslike waardes en kenbare bestaansordes; want radikale Islamiete wat die wettige en  gematigde regerings vervang het, is nou in beheer. Die verderwer wat geskape is vir die afgrond en om te verniel.

Sedert 2010 het daardie pes feitlik oor die hele wêreld versprei. En die kanse dat ons almal oor 18 dae daarmee besmet gaan raak, is, volgens Jay Will van Before It’s News, byna ‘n voldonge feit.

Prins Mohammad bin Salman Al-Saud
Prins Mohammad bin Salman Al-Saud

Hy skryf: “Ek dink nie ek het al ooit ‘n meer gunstige situasie gesien wat die Derde Wêreldoorlog kan ontketen nie. Hoewel Turkye en Saudi-Arabië nie troepe na Sirië kan stuur sonder die Obama administrasie se toestemming nie, is beide pres. Erdogan en prins Salman Al-Saud arrogant en roekeloos genoeg om dit op eie gesag te doen.”

Vir die 18 dae wat die maneuvers gaan duur, sal die lugruim oor die noorde van Saudi-Arabië gesluit wees.

Is dit dalk toevallig dat die oefening net 18 dae gaan duur? 18 = 6+6+6.

Ons weet mos al dat niks ooit toevallig gebeur nie. En nou is die laaste en finale Groot Wêreldstryd vir die duur van daardie tydperk op ‘n mespunt gebalanseer!

Oekraïne, aanloop tot die 3de Wêreldoorlog?

(Siener: “Ek sien ’n seeppot met vuur onder in die ooste van Europa in Rusland, en dit gaan ’n ontsaglike burgeroorlog wees.”)

Na die val van die Berlynse Muur in 1989 het Rusland ‘n tydperk van rus en vrede beleef totdat geweld in Kiëf, hoofstad van die Oekraïne, losgebars en sluipskutters minstens 82 betogers doodgeskiet het. Die wettig verkose president, Wiktor Janoekowitsj, moes daarna in aller yl uit die stad vlug.

‘n Handperd van Amerika, Petro Poroschenko, het die leisels in Kiëf oorgeneem en kort daarna die seperatiste (pro-Russiese rebelle) in die Krim-gebied aangesê om oor te gee of totaal uitgewis te word. Hierin is hy op 5 Desember 2014 ten volle gesteun deur die Amerikaanse kongres wat in Resolusie 758 indirek ook oorlog teen Rusland verklaar het. En vir die eerste keer sedert die 2de Wêreldoorlog is Amerika en Rusland weer besig om swaarde te kruis!

(Siener: “Ver in die Noorde staan ‘n donkerrooi bul met sy kop na die ooste; hy staan net soos ‘n bul wat wil baklei. Toe kom ‘n rooi witrug bul van die weste na die ooste en sy horings is baie skerp.”)

 Dat Poetin ook betrokke is by die bloedige burgeroorlog in Sirië, maak dat Rusland ’n groter krisis in die gesig staar as met die 1917-revolusie.

Hy beskuldig Barak Obama daarvan dat hy doelbewus die vure aanblaas om ‘n wêreldkonflik te ontketen.

In ‘n verslag wat op 6 Maart 2014 deur die Veiligheidsraad van die Russiese Federasie (SCRF) uitgereik is, word ook gesê dat Rusland voor die “mees gevaarlikste tyd in sy geskiedenis” te staan gekom het, en gereed moet maak om hom met alle beskikbare mag teen Amerika te verdedig, wat ‘n “vasal staat” van die Europese Unie Konfederasie is, en op die punt staan van totale ineenstorting.

Maar Poetin se hand van vriendskap aan Al-Assad kan dalk tot gevolg hê dat nog visioene van Siener van Rensburg bewaarheid word.

Hy het gesê die “ontsaglike” burgeroorlog in Rusland (die Oekraïne) en die eskalasie van chaos en geweld in Europa en die Midde-Ooste sal uiteindelik uitloop op die Derde Wêreldoorlog:

  1. “‘n Swart gordyn val oor Rusland en na die weste is die aarde omgeploeg.”

  2. “Die gras brand in Europa en die aarde word daarvandaan na hier swart.” (In Europa woed ’n volskaalse oorlog wat uiteindelik ook hierheen sal uitkring).
  3. “Toe word die aarde in Europa zwart.”

  4. “In Europa is ’n groot misvuur met donker rook in middel en buite om brand die vuur.” Sy beskrywing van die burgeroorlog in Frankryk.

  1. “Ek sien die aarde is pikswart … Dan slaan die aarde brand en sien ek ’n gesig van ’n aaklige oorlog; van perde met bloed wat van die perde se  stange sal afloop…”

Invallers se begraafplaas

‘n Russiese militêre oorwinning oor Turkye en Saudi-Arabië sal nie net die begin van die 3de WO wees nie, maar Rusland ook beheer gee oor van die wêreld se rykste olievelde. Poetin se beskuldigings teen Obama kom saam met Al-Assad se dreigement aan Amerika dat Sirië die ‘begraafplaas van enige invaller sal wees’.

Die burgeroorlog in Sirië woed nou reeds 4 jaar lank terwyl rebellemagte probeer om die regering van pres. Basjar al-Assad omver te gooi. Die rebelle word gesteun deur Saudi-Arabië, Turkye, Quatar Koeweit en Pakistan – almal Soenni-Moslems, terwyl Al-Assad se regering, Iran en Hisbolla Sjiiete Moslems is. Die Soeniete en Sjiiete is bittere vyande.

 Die VSA steun die ISIS rebelle omdat hy Sirië wil destabiliseer net soos hy in Toenesië, Irak, Libië, Jemen en ander Midde-Oosterse lande gedoen het waar daar vandag totale chaos heers. (Die ISIS terroristegroep is deur die CIA gestig en word via Saudi-Arabië van wapens voorsien.) ISIS het reeds daarin geslaag om verskeie streke in die Midde-Ooste én Sirië oor te neem en hulle oliebronne te beroof waarmee terroristegroepe wêreldwyd befonds word. In Sirië het hulle tot onlangs nog beheer gehad oor die tweede grootste stad, Aleppo; terwyl hulle in Iraq beheer het oor Mosul.

Maar wat die res van die wêreld tot onlangs toe nie geweet het nie, is dat Turkye in die geheim saam met ISIS gekonkel het om duisende olietenktrokke na Irak en Sirië te stuur waarin gesteelde olie dan na Turkye vervoer is. Hierdie diefstalle het aan ISIS ‘n netto inkomste van nagenoeg $100 miljoen per maand besorg!

Dit was vóórdat Rusland in September verlede jaar pres. Al-Assad as bondgenoot begin bystaan het. Poetin wou verseker dat die Siriese regering nie dieselfde pad loop as ander Arabiese state wat deur Amerika gedestabiliseer is nie; terselfdertyd wou hy die ISIS rebelle se plundering van die olievelde stuit.

Met behulp van sy uitstekende intelligensiediens kon Rusland presies vasgestel waar en hoe die rebelle opereer. En binne weke nadat Russiese bomwerpers met hul aanvalle begin het, is talle ISIS basisse en olietrokroetes verwoes en die rebelle verjaag; soveel so dat Al-Assad se magte weer gedeeltelik beheer oor Allepo verkry het.

Selfs die Koerdiese magte het groot suksesse behaal en dele van noord-Sirië van ISIS bevry. Hulle bewoon die grensgebiede tussen Turkye, Sirië, Irak en Iran en veg al jare lank vir ‘n eie staat.

As gevolg van die Russiese aanvalle op ISIS se stellings het die Turkse regering erge finansiële verliese gely. So ook pres. Recep Erdogan en sy twee seuns wat al drie groot winste uit die oliediefstal gemaak het. Erdogan was so briesend oor Rusland se betrokkenheid en die verliese van hulle gely het, dat hy wraak gesweer het. Op 24 November doen hy dit toe ook deur ‘n Russiese Su-24-bomwerper met twee van sy F-16 vegvliegtuie bo die grens tussen Turkye en Sirië af te skiet.

Poetin het hierdie eerlose daad beskou as ‘n steek in die rug van Rusland deur handlangers van die terroriste. En gewaarsku dat enige verdere aanvalle op een van sy vliegtuie as ‘n daad van oorlog beskou sal word. Hierna het Russiese vlieëniers ISIS daagliks genadeloos met tussen 60-70 lugaanvalle gebombardeer sodat hulle feitlik nie meer kan funksioneer nie.

Barak Obama kon in 4 jaar oënskynlik niks uitrig om ISIS se opmars te stuit nie. En het tot nou toe lugsteun gegee aan NAVO en sogenaamde “gematigde” rebelle. Maar hy is so in die skande gesteek deur Poetin se suksesse dat hy ewe skielik ook besluit het om terroriste basisse in Sirië aan te val.

Dit het sy bondgenootskap met Turkye erg versuur, en op Vrydag 12 Februarie rig Erdogan ‘n waarskuwing aan Amerika dat hy met sy optrede ‘n “see van bloed” in die Midde-Ooste gaan veroorsaak!

Want dit het nie net Saudi-Arabië se planne (om van Al-Assad ontslae te raak) in die wiele gery nie, maar ook ISIS verhinder om die miljoene gesteelde vate olie na Turkye te vervoer.

Toe Siriese magte met Poetin en Iranse hulp verlede week begin het om Aleppo te omsingel en die stad van rebellemagte te bevry, het beide Turkye en Saudi-Arabië besef hulle sal nou drasties moet optree om te keer dat ISIS finaal uitgeknikker word.

En op 13 Februarie begin Turkye om die Koerdiese magte in die noorde van Sirië te bombardeer. Die wêreld het asem opgehou, gewag vir Rusland se vergeldingsaanvalle, maar niks het gebeur nie. Daar is deur sommige korporatiewe media woordvoerders gesê “Poetin het bang geword”. Maar volgens ingeligte Russiese bronne wag Poetin om te kyk of Saudi-Arabië na afloop van sy militêre oefening op 28 Februarie saam met Turkye grondtroepe na Sirië gaan stuur. As dit gebeur, word gesê, sal Poetin sy woord hou en tot die aanval oorgaan.

Selfs ‘n versoek van die VN se Veiligheidsraad dat Turkye die aanvalle moet staak, het op dowe ore geval.

Intussen kondig die Turkse minister van buitelandse sake, Mevlüt Çavušoglu, aan dat Saudi-Arabië straalvliegtuie gestuur het na ‘n basis in Oos-Turkye, asook dat die twee lande voorberei vir ‘n grondaanval op Sirië om teen die Islamitiese Staat te baklei.

‘n Openlike botsing tussen Turkye en Rusland sal aan Ankara die reg gee om hom op die NATO-handves te beroep en bondgenootbeskerming vir ‘n lidstaat wat aangeval word, te eis.

Die Amerikaanse visie-president, Joseph Biden, blaas die oorlogsvure verder aan met sy uitlating dat die VSA en Turkye gereed is vir ‘n militêre oplossing in Sirië as daar nie ‘n politieke ooreenkoms gemaak kan word nie. Op sy beurt het die Amerikaanse sekretaris van verdediging, Ashton Carter, op 13 Februarie sy NAVO-bondgenote gevra om die Amerikaanse koalisie te steun om grondtroepe in Sirië in te stuur.

Dieselfde aand nadat hierdie verklaring uitgereik is, het die Russiese eerste minister, Dimitry Medvedev gewaarsku dat “die voorneme van Amerika en sommige Arabiese state om grondtroepe in Sirië in te stuur, die begin van die Derde Wêreldoorlog sal wees!”

So, hier het ons dan die volledige prentjie: Die moontlikheid dat Basjar al-Assad se regering deur Turkye, Saudi-Arabië en hulle bondgenote oorrompel kan word, is baie sterk, tensy Russiese magte Sirië te hulp kom.

En dis presies wat Obama wil hê, want net ‘n wêreldkonflik kan Amerika nog van ‘n totale finansiële ineenstorting red.

Weer ‘n Krimoorlog?

Daar is ‘n gesegde wat lui dat “die geskiedenis herhaal homself”. En dit lyk of dit weer die geval kan wees, want vandag beleef ons feitlik dieselfde situasie wat hom 160 jaar gelede met die Krimoorlog by die Swart See afgespeel het.

Destyds was daar spanning tussen Rusland en Turkye, en laasgenoemde se twee bondgenote, Engeland en Frankryk. Vandag staan Rusland weer teenoor Turkye en al sy NAVO-bondgenote. En daar is geen twyfel nie dat as ‘n oorlog tussen Rusland en Turkye uitbreek, Engeland en Frankryk hulle weer aan Turkye se kant sal skaar.

Napoleon IIIIn 1850 het gebeure in Europa die Britse regering verontrus: Frankryk het pas ’n nuwe staatshoof gekry Napoleon III, ’n broerskind van Napoleon I, wat aan die begin van die eeu ’n bedreiging vir Brittanje was. Die Britte het die nuwe Franse keiser ook nie vertrou nie. Die wantroue het skaars gewyk of die optrede van Rusland het spanning veroorsaak. En toe Rusland Turkye militêr bedreig, het Engeland en Frankryk oorlog teen Rusland verklaar.

Dit was die begin van die Krimoorlog wat eers in 1856 met die Vrede van Parys beëindig is.

Die belangrikste rolspelers in die konflik was die Turkse Ryk saam met Frankryk en Engeland teen Rusland.

Die magtige Russiese vloot het korte mette gemaak van die Turkse vloot en dit nie net totaal vernietig nie, maar ook die reg verkry om via Konstantinopel na die Middellandse See te vaar.

(Volgens Siener gaan ons met die uitbreek van die 3de Wêreldoorlog ‘n herhaling hiervan sien: “Gedurende die nag storm Rusland baie vinnig deur Turkye op pad na die Suez gebied, terwyl Turkye geen weerstand bied nie.” Hy sien In Europa bars die Russe deur na Spanje op pad na Gibraltar, en as hulle ook daar voorgekeer word, dan draai hulle op na Engeland en val hulle uit die lug aan. Engeland word geheel en al verwoes).

In die Krimoorlog het Engeland die oorname van die Middellandse See-gebied as ‘n bedreiging gesien, want tot in daardie stadium was die Britte baas van die Middellandse See. Engeland soek toe ‘n bongenoot om teen Rusland op te tree, en hy kry dit in keiser Napoleon III, wat geglo het dat ‘n oorwinning oor Rusland sy posisie sou versterk. In 1854 vaar hulle toe saam op in die Middellandse See om die Russiese vloot aan te val.

Die Russiese tsaar, Nicolaas I, wou egter konfrontasie vermy en trek sy vloot terug in die versterkte hawestad Sebastopol, hopende dat dit die Britte en Frankryk sou ontmoedig. Maar omdat hulle die Russiese marine totaal wou uitskakel, besluit hulle om Sebastopol te verower.

Na ‘n beleg van 10 maande slaag die koalisie daarin om Sebastopol in te val en die Russe te verslaan. Brittanje wou die oorlog voortsit, maar Napoleon was tevrede dat hy sy posisie versterk het. Engeland wou toe nie alleen die stryd verder voer nie en het in 1856 die Vrede van Parys gesluit. Die oorwinnaars kom ooreen dat die Swart See neutrale sal wees en dat geen Turkse óf Russiese oorlogskip voortaan daar mag vaar nie. Die Krimoorlog het 650 000 lewens geëis.

(In hierdie oorlog sal egter meer mense omkom as in beide die 1ste en 2de Wêreldoorlog saam. Daarin het 76 miljoen mense gesterf. Siener beskryf dit so: “Terwyl atoombomme dood en verderf saai, sal nasies en volkere uitgedelg word, terwyl party ophou om te bestaan, sal andere nog daar wees, maar geen waarde meer hê nie”. In ‘n gesig wat handel oor die einde van hierdie laaste Groot Oorlog (wat nou op hande is), en waarin Rusland weer teen Turkye, Engeland en Frankryk te staan gaan kom, het hy gesien “Rusland is kapoet” verslaan met Amerika se geheime wapens. Onder die ander lande wat hy sê totaal verwoes gaan word, is Palestina, Engeland en die ganse Europa).

Maar ook Sirië se hoofstad Damaskus gaan, volgens die profeet Jesaja, “ophou om te bestaan”. Ek glo dit sluit die landstreek Sirië self ook in. Jesaja: 17:1-2 “Godspraak oor Damaskus. Kyk, Damaskus word weggeneem, sodat dit geen stad meer is nie, maar dit sal ‘n vervalle puinhoop word. Die stede Aroër sal verlate wees; vir die troppe vee sal hulle wees wat daar sal lê sonder dat iemand hulle skrikmaak.” Jer: 49:27 “En Ek sal ‘n vuur aansteek in die muur van Damaskus, en dit sal die paleise van Bénhadad verteer.”

Ten slotte: Net ‘n brokkie interessante inligting oor Napoleon III:

Die Boere van die ou Republieke is groot dank aan hom verskuldig, want in dieselfde jaar wat die Krimoorlog begin het, het Napoleon by die Britte daarop aangedring om die onafhanklikheid van die Transvaalse en Vrystaatse Boererepublieke te erken. Dit het daartoe gelei dat Sir George Clerk en die republikeinse verteenwoordigers op 23 Februarie 1854 die Bloemfontein-konvensie onderteken, waarna die Oranje-Vrystaat tot stand gekom het.

Die soewereine onafhanklikheid van Transvaal is ook formeel erken en Brittanje het onderneem om geen verdrae meer met die inboorlingstamme ten noorde van die Vaalrivier te sluit nie.

Die Zandrivierkonvensie van 1852 was ‘n “volle waarborg van die kant van die Britse Goewerment aan die Emirgante-boere wat ten noorde van de Vaalrivier woon, dat hulle die reg het om hul eie sake te bestuur en oor hul onderdane te regeer, volgens hul eie wette…”

Sover ek weet, bestaan daar geen dokument vir die onafhanklikheid van die Afrikaner nie.

Maar getrou aan hulle aard, het Engeland daardie waarborg skandelik verontagsaam.

Maar ons profeet het sewe dekades later die belofte ontvang dat sy volk weer in die toekoms die Boererepublieke in besit sal neem. Dus weet ons reeds dat die geskiedenis hom nie net gaan herhaal nie, maar ook dat Hý Getrou sal bly aan sy Woord…

 

DIE OERLA-LINDA

Nou weer beskikbaar! Die Oera Linda boek is die verhaal van die magtige Friese Ryk wat die destydse beskaafde wêreld oorheers het. Maak ook kennis met hul taal wat ‘n duidelike voorloper van Afrikaans is.

RAAD VIR KWALE

Vir slegs R120

Die verborge boeke van Eden
Openbaringe van Paulus & Petrus
Die Boek van die Opregte

R370

R470