“Ek het gesien ons gewere word in die kas gepak, want die tyd van vervulling van ons vryheid is nog nie aanstaande nie… Die groen grashoop word intussen witdroog — jare van verdeeldheid en verwarring onder die Afrikaner sal hom op moedverloor se vlakte laat. Dan word die gras weer groen — die oorlog word hervat en die hoop herleef.”
(Hierdie artikel sluit aan by die vorige een getiteld: Die heropstanding van Duitsland se Weermag.)
Nadat die traktaat met Duitsland in 1914 deur die rebelle geteken is het Siener ‘n toekomstige tydperk vir ons volk beskryf waar verwarring en verdeelheid sou heers. Dekades later, in September 1940, is die traktaat oor die Duitse radio weer bevestig maar het weinig impak gehad. Duitsland is in puin gelê en ons volk het ‘n nuwe en vrugbare era betree onder die Nasionale Party.
Die traktate wat ons met Duitsland meer as ‘n 100 jaar gelede geteken het sou eers baie later, op God se tyd, tot vervulling kom.
Deesdae is Duitsland weer aan die beweeg in Suider-Afrika. Dit is nie oorloë of ideologie wat hulle trek nie, maar grondstowwe, energie, logistiek en veiligheid. Namibië word skielik weer ‘n belangrike kernpunt waarom nuwe strategiese belange draai, en daarmee, doelbewus of onbewustelik, raak Duitsland weer aan ons volk. Nie uit vriendskap nie maar uit strategiese noodsaak; en nie as veroweraars nie, maar moontlik as bondgenote.
In 2023 het Duitsland se nasionale veiligheidstrategie vir die eerste keer drie groot bedreigings as ewe ernstig uitgelig:
- Rusland se aggressie
- Duitsland se afhanklikheid van buitelandse grondstowwe
- en die risiko dat belangrike seeroetes ontwrig kan word.
Volgens hierdie uiteensetting het Duitsland ‘n strategie bepaal wat hulle beskryf as “Vorsorge durch Vernetzung” (voorsorg deur netwerkvorming). Suider-Afrika en Namibië word nou vir hulle ‘n kern noodsaaklikheid vir Europa se sekuriteit.
Die ontwikkelings in Afrika, veral in Namibië en Suid-Afrika, is van sentrale belang vir Duitse grondstof- en energiesekerheid.
Deutscher Bundestag (2024)
Die onlangse plenêre debat in die Deutscher Bundestag (2024) het die volgende beklemtoon:
“Die ontwikkelings in Afrika, veral in Namibië en Suid-Afrika, is van sentrale belang vir Duitse grondstof- en energiesekerheid.”
Die rede is eenvoudig: as die Suez-kanaal of Noord-Atlantiese roetes onbruikbaar raak, bly die Kaapse seeroete een van die min oorblywende alternatiewe.

Die militêre vermoë van wêreldmoondhede soos Rusland en Amerika vereis enorme hoeveelhede natuurlike hulpbronne en energie. Suid-Afrika en Namibië huisves reeds van die wêreld se grootste reserwes van mangaan, platinoïede en grafiet, maar bied boonop ook sogenaamde “groen waterstof-korridors” wat noodsaaklik is vir Duitsland se staalbedryf. Só lank as wat dié toevoerroetes via Kaap de Goede Hoop loop, kan Berlyn dit nie aan plaaslike onstabiliteit of wanbestuur oorlaat nie. Ná die sabotasie van Nord Stream-pype in die Baltiese See, het die Bundeswehr-strategie begin terugskuif na die suide.
Die Kaapse skeepsroete het nou skielik weer ’n nuwe belang gekry vir die hart van die Europese Unie ingeval die Suezkanaal ontoeganklik sou wees of NAVO-seelyne in die noorde bedreig word.
Tussen 2023 en Maart 2025 het die Duitse vloot herhaaldelik fregatte (soos die FGS Hessen, Hamburg, en die nuwe Baden-Württemberg van die F126-klas) na Kaapstad én Walvisbaai gestuur. Daar is verskeie oefeninge gehou, soos Exercise Good Hope VIII, wat selfs lugverdediging en strandlanding-simulasies ingesluit het. Só iets sou ’n dekade of wat terug ondenkbaar gewees het.
‘n Strategie rondom skuld
As deel van ’n versoeningspoging met die Ovaherero en Nama het Duitsland ’n reuse-heropbouprogram van €1 miljard in Namibië begin, plus nog €50 miljoen vir navorsing en ontwikkeling in plaaslike gemeenskappe. Maar dit gaan nie net oor om verskoning te vra vir die verlede nie. Duitsland is besig om aktief aan die toekoms te bou.

Een voorbeeld is die Hyphen-projek in die Tsau/Khaeb Nasionale Park, wat beplan om teen 2030 tot 1,8 miljoen ton groen ammoniak per jaar te vervaardig. Die eerste produksie begin reeds teen die einde van 2027, met volle kapasiteit beoog teen 2031. Intussen het die HyIron-projek in Oshivela geskiedenis gemaak toe hulle die eerste groen waterstof in Suider-Afrika vervaardig het. Dié projek het groot planne. Hulle wil van 28 000 ton in 2025 opskaal tot 700 000 ton direkte gereduseerde yster (DRI) teen 2030, volgens hul 2024-volhoubaarheidsverslag.

Strategiese Bronne
Waterstof, grafiet, mangaan, ammoniak en kopersink is van groot belang vir sowel nywerhede as militêre tegnologie. Waterstof dien as vuurpylbrandstof, speel ’n rol in kernwapens en help met die vervaardiging van ammoniak, wat noodsaaklik is vir kunsmis en sekere chemiese wapens. Grafiet word gebruik in batterye, smeermiddels en kernreaktors; mangaan versterk staal en legerings vir wapentuig; en koper-sinklegerings (afkomstig uit kopersinkmyne) is noodsaaklik vir ammunisie en mariene toerusting.
Hierdie grondstowwe maak deel uit van die ruggraat van moderne ekonomieë. Waterstof word ook as skoon energiebron ondersoek, terwyl grafiet en mangaan krities is vir metaalverwerking. Ammoniak speel ’n sentrale rol in landbou en nywerheid, terwyl kopersinkmyne ook belangrik is vir masjinerie en elektriese komponente. Saam maak hierdie hulpbronne ’n streek soos Suider-Afrika strategies waardevol, beide in vredestyd en oorlog..
In 2024 het Orion Minerals ook €250 miljoen aan beleggings losgeslaan. Dit was deels uit Duitsland en deels uit Suid-Afrikaanse bronne, insluitend die Industriële Ontwikkelingskorporasie (IDC) en is gedoen om ’n nuwe kopersinkmyn in die Noord-Kaap aan die gang te kry. Intussen het Transnet hul Network Statement oopgestel vir privaat belegging, met spesifieke verwysing na ’n voorgestelde logistieke korridor wat Prieska via Kimberley aan die kus wil verbind.
Een van die belangrikste infrastruktuurontwikkelings wat nuwe strategiese moontlikhede vir die streek skep, is die herstel van die ou spoorlyn tussen Prieska en Lüderitz. Dié lyn, oorspronklik tydens die Eerste Wêreldoorlog deur die Unie van Suid-Afrika gebou vir militêre doeleindes, verbind die hawe van Lüderitz met die Noord-Kaap. In 2019 is bevestig dat treindienste weer op dié roete hervat sou word. Vanaf Lüderitz, via Ariamsvlei en Nakop, oor die Oranjerivier tot in die binneland. Die projek is deur TransNamib in samewerking met die Roads Contractor Company (RCC) aangepak. Die hawe self is ook onlangs opgegradeer met ’n nuwe rangeerterrein en vragfasiliteite om groter volumes, insluitend koper en sink uit die Noord-Kaap, te hanteer.


Blou Briewe
Wat hierdie ontwikkelings in Namibië besonder merkwaadig maak, is wat Siener jare gelede oor hierdie gebied gesien het. In sy visioene, soos vertel is deur Oom Joos Haasbroek, sien hy “drie blou briewe” wat in die parlement aankom. Waarskuwings of ultimatums aan die regering. Daarna volg die aankoms van vaartuie aan die Weskus, en ’n opmars van ons volk na Prieska, waar Duitse wapens ontvang word. Dit word voorafgegaan deur verdeeldheid onder die volk, wat eers met geestelike leiding tot eenheid kom. In die onstuimige wêreld waar strategiese lyne weer om die suidpunt van Afrika loop, sal Duitsland genoodsaak word om om direk in Suider-Afrika op te tree en sy belange hier te beskerm. In die proses sal sy pad weer met ons volk kruis, nie as veroweraar nie maar as bondgenoot.
Wat ook al in Europa gebeur, blyk dit dat Suid-Afrika op een of ander manier deel gaan wees van die wêreldwye ontwrigting.
“Die gras brand in Europa en die aarde word daarvan daan na hier swart.” – 10 Julie 1925
Alhoewel Duitsland (en veral die regering) in die afgelope dekades nie as ’n “vriend” van die blanke Afrikaner of Boervolk beskou kan word nie (veral as gevolg van sy geweldige liberale standpunte) bly dit moontlik dat God self hierdie Europese reus in ’n situasie plaas waar hulle weer betrokke moet raak. ’n Ommekeer van hart by die Duitse bevolking of selfs dele van hulle regering is nie onmoontlik nie. Die belangrikste is nie of hulle dit uit liefde of nood doen nie, maar dat hulle dit doen. En dit is moontlik wat Siener beskryf het. Die hulp wat ons volk gaan kry is nie van nie van ’n wyse wêreld wat tot inkeer kom nie, maar van ’n mag wat, onder druk van globale gebeure, met ons paaie kruis.
In Februarie 2025 het Pretoria weer gekies om nie saam te stem met NAVO-resolusies oor Oekraïne nie, maar skaars ’n maand later het Suid-Afrika gesamentlike vlootoefeninge met Rusland en Sjina in Richardsbaai gehou. Hierdie diplomatieke touwerk kan dalk presies die rede wees vir die “drie blou briewe” in Siener se gesig wees.
As die ANC (of enige regering wat hulle opvolg) aanhou om lojaal te wees aan Rusland en Sjina, gaan dit nie net Suid-Afrika se sogenaamde neutraliteit laat wankel nie, maar dit kan ook vir Duitsland groot kopseer gee oor hulle strategiese belange in Namibië, veral rondom Walvisbaai. In so ’n geval gaan Berlyn nie bloot toekyk hoe ’n vyandige of onbetroubare regering beheer neem oor een van Europa en Duitsland se belangrikste strategiese seeroetes via die Kaap nie.
Suid-Afrika sal moet kies: óf neutraliteit, óf samewerking met die Weste. En indien daardie keuse verkeerd uitval (onder druk van Rusland en Sjina), kan Duitsland genoodsaak wees om nie net diplomaties nie, maar selfs met n direkte militêre mag op te tree in Suider-Afrika.
Die implikasies vir ons volk
As die oorlog in Oekraïne verder uitbrei tot ’n volskaalse konfrontasie tussen NAVO en Rusland, en die Suez-kanaal onbruikbaar raak, verskuif die wêreld se strategiese fokus vinnig suid. In so ’n scenario raak Suid-Afrika en Namibië weer van kritieke belang. Kaapstad en Walvisbaai is van die min plekke waar NAVO-vlootmagte vanuit die Middellandse See of Oos-Asië realisties kan herbevoorraad en Walvisbaai, met sy diepwaterhawe, bestaande brandstoflyne en nuwe infrastruktuur, staan gereed.
Duitsland, wat ná 2022 sy energiebelange na Afrika begin verskuif het, is reeds betrokke by groot projekte in Namibië. Maar as Suid-Afrika onder invloed van BRICS lojaliteit aan Rusland en Sjina kies, mag Walvisbaai die enigste lewensvatbare vastrapplek vir die Weste wees. In só ’n konteks word Siener se visioen van “blou briewe,” Duitse skepe, en wapens wat aan die Boervolk oorgedra word baie moontlik ‘n geopolitieke werklikheid. Nie uit vriendskap nie, maar uit strategiese noodsaak. En dalk is dit presies hoe God bepaal het dat hul paaie weer met ons gaan kruis.
Samevatting
Vir dekades het dit gelyk asof Siener se visioen van Duitse hulp aan die Boervolk niks meer was as ’n vrome hoop nie. Die bande tussen ons en Duitsland het verweer, en daar was bitter min aanduiding dat die Europese reus, vasgevang in skuldgevoel en selfverwerping, ooit weer na die suide sou kyk. Maar dan bars ’n oorlog in die Ooste los. Duitsland begin sy weermag opbou. Die Bundeswehr word versterk, wapens word bestel, en Duitse oorlogskepe verskyn skielik weer in Walvisbaai en Kaapstad. Spoorlyne, hawens en minerale belange bring Berlyn terug na die suide – nie net uit skuld nie, maar uit strategiese noodsaak.
Wat Siener lank terug gesien het soos ’n burgeroorlog in Rusland, vure in Europa, en Duitse wapens wat by Prieska afgelewer word, klink nie meer heeltemal so verregaande nie. Dit sou kortsigtig wees om nou al te sê dit sal gebeur. Maar dit sou netso kortsigtig wees om die ooreenkomste nie raak te sien nie. Die tye het verander. En dalk, net dalk, is ons besig om ’n profesie te sien ontvou waarvan die implikasies nog lank nie ten volle begryp is nie.
Maar ongeag wat in Europa of die Weste gebeur, moet ons volk weet: daar ís ’n lig aan die einde van die tonnel. Die pad wat vir ons volkie voorlê, gaan moeilik wees, maar dit is nie sonder hoop nie. Vir meer as tagtig jaar het God die woorde van Sy profeet bewaar om ons eendag moed in te praat, sodat ons kan weet: God is met hierdie volk.
Van ons uittog uit die Kaap, by Bloedrivier, deur die Anglo-Boereoorlog en al die jare wat ons saam met die Vader deur apartheid gestap het, was ons nooit verlaat nie. Ons het tye van stryd en verlies geken, maar nooit verwerping nie. En vir die bitter moeilike tyd wat kom, het God deur Sy profeet ons uit die verlede geroep en gesê: Wanneer ons donkerste uur aanbreek, wanneer die wêreld om ons inmekaar tuimel en wêreldmagte oor ons lot besluit, dan moet ons nie moed verloor nie.
Al staan ons met ons rug teen die muur, met ’n oormag vyande wat regstaan om ons uit te wis, moet ons altyd onthou – God is met ons:
"Moenie vrees nie, want Ek is met jou; moenie verskrik wees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou; ook ondersteun Ek jou met my regverdige regterhand." — Jesaja 41:10