Afrikaanse skrywers in die laaste loopgraaf

Aanrandings, inbrake, kapings, verkragting en moord op blankes is nou al soveel jaar die vernaamste disse op ons daaglikse spyskaart, dat niemand dit meer raaksien of selfs daaroor kla nie. Maar so nou en dan is daar ‘n uitsondering en skielik is die ganse wêreld in beroering daaroor.

Ek verwys hier na die skryfster Riana Scheepers se bejaarde ouers wat in ‘n plaasaanval beseer is.

Pas daarna het sy die volgende verklaring gemaak, waarskynlik om die publiek oor haar ouers se linkse politiek gerus te stel: “My ma en pa was nie twee rassiste wat in ’n wit toring gesit het nie.” Dan Roodt van PRAAG wou toe by haar weet of “wit rassiste dan verdien om aangeval te word … want jou ouers is dan nie sulke mense nie. Is dit korrek? Hy vra toe ook die vraag “wat is ’n ‘wit rassis’?” Riana was so woedend hieroor dat sy aan Roodt gesê sy het nie op die oomblik die energie om in ’n idiotiese polemiek betrokke te raak nie!

En van Riana se medeskryfsters, Fransi Phillips, het weer gevra “of dit beteken dat alle rassiste dan die doodstraf verdien?”

Voor daardie vraag beantwoord kan word, moes ons eers aanvaar dat om in die NSA “blank” te wees, beteken outomaties dat jy ook ‘n rassis is. Riana Scheepers se uitlating was dus bloot ‘n instinktiewe refleks. Sy moes eenvoudig op haar “wit volk” se kollektiewe bors slaan en uitroep: “My ma en pa was nie twee rassiste wat in ’n wit toring gesit het nie.” Dis al manier hoe sy die verleentheid, pyn en dooie las as “wit rassis” effens kon verlig. Net soos die skryfster, Jeanne Goosen, wou sy die wêreld daarbuite laat verstaan: “ons is nie almal so nie”. Wat dit ook al mag beteken.

Roodt gaan dan verder: “Soveel Afrikaanse skrywers wat in 1987 by Dakar as nuttige idiote deur die ANC gebruik of misbruik is om die politieke mag in ons land te bekom, is vandag tjoepstil oor geweld. Nog minder skryf hulle oor die taal- en rassediskriminasie wat soveel van ons mense vandag kasty”.

Maar dis nie net Scheepers se naasbestaandes wat al onder die knuppel-, panga- en AK-47-broers deurgeloop het nie, André P. Brink se kinders is in die Pêrel beroof, en sy suster, Elsabé, se seun deur hulle doodgeskiet. ‘n Ander skrywer, Chris Barnard, is nie so lank gelede nie op sy plaas in die Laeveld aangeval. Aan Rapport het hy gesê hy kon nie glo dat dit met hom gebeur het nie: “…ek was die laaste tyd so hiperbewus van die voorreg om daar te kan bly. Die rus en vrede, die sebras wat voor my wei, die wildebeeste en rooibokke… En dat ek gesond is, in my gemoed vrede het, en dat ek kan skryf en musiek luister…”

In rus en vrede kan skryf en musiek luister? Totaal onbewus van mede-volksgenote wat daagliks rondom jou doodbloei, in haglike ellende verkeer en uitgebuit en verdruk word; elke dag die verskrikking van kapings, inbrake, roof, verkragtings en dood in die gesig staar?

En dan gebeur die onmoontlike: hulle staan skielik “voor jou met rewolwers en hulle sê: ‘Don’t ­move,’ dan dink jy dis nie waar nie…”

Nee, dit kan nie waar wees nie! Want het jy dan nie al destyds jou mede-sestigers gehelp om alles vir jou ten goede te laat verander nie? Ja, sodat jy in vrede kon skryf, na jou musiek kon luister… En nou, nou het húlle alles kom verander. Nou moet jy die plaas verkoop! Ek wonder of hy ooit sy eie aandeel daaraan sal erken? En ook of hy besef dat hy, Brink, Breytenbach en kamerade met hulle kaping van die Afrikaanse taal, die skrywersmark stadig maar seker doodgewurg en ondergrawe het.

Min mense is seker bewus daarvan, maar skrywers soos Barnard, Brink,  Breytenbach, Abraham de Vries,  Ettienne van Heerden, Elsa Joubert, Jan Rabie, ens., ens., het in die dae van die gehate apartheid, heerlik op die vette van die aarde geleef, want hulle pennevruggies is klokslag deur die Departement van Onderwys voorgeskryf en letterlik honderde duisende eksemplare is verkoop. Ons weet van sommige skrywers wie se tantième ‘n miloen rand of meer beloop het.

Miskien het die uitgewers in ’94 so deur die euforie en dronkenskap oor apartyheid se dood, ‘n angsdroom gehad dat hulle stem vir die ANC ook ‘n stem was vir die wurgtou om die strot van die eens florende Afrikaanse boek! En dat hulle hom in sy laaste loopgraaf moet gaan bewapen. Want nog skaars het Madiba die politieke mag oorgeneem, of ek en my vrou ontvang uit die bloute besoek van een van die land se bekende uitgewers, en ons verneem by hulle van die nuwe skrywersprojek wat beplan word.

In kort kom dit daarop neer dat hulle in die toekoms populêre romans wou publiseer met temas waarin die veragtelike kleurskeiding geen rol sal speel nie; m.a.w. die hooftema moes wees ‘n liefdesverhouding tussen swart en wit. Toe ons dit summier van die hand wys, is aan ons gesê dat hierdie mark braak lê en skrywers baie groot geld kan verdien. Ons het egter voet by stuk gehou, en dit was toe ook die einde van ‘n meer as 20 jaarlange verbintenis met hulle.

Met verloop tyd is daar in die media berig dat Afrikaanse uitgewers begin noustrop trek; sommige moes noodgedwonge saamgesmelt om te oorleef en ander het net eenvoudig in die niet verdwyn. Skrywers wat gedigte en kortverhale wil publiseer, moet nou self daarvoor betaal.

Later het ons ook verneem dat die glansende reënboog-“skrywersprojek” ‘n totale mislukking was – die gemiddelde blanke Afrikaanse leser wou eenvoudig net nie aan hierdie ‘gruwel’ byt nie. Dit het daartoe gelei dat uitgewers derduisende rande verloor met boeke wat op die rak bly staan het, of verpulp moes word.

Dus, om te kon oorleef, was hulle toe maar verplig om weer óm te draai en terug te keer na Jeremia se beproefde “ou paaie”.
Sela!

SIENER VAN RENSBURG

Lorem ipsum dolor sit amet consectetur adipiscing elit dolor

RAAD VIR KWALE

Vir slegs R120

Die verborge boeke van Eden
Openbaringe van Paulus & Petrus
Die Boek van die Opregte

R370

R470