Met hierdie plae of rampe sou Engeland se mag finaal gebreek word, het Siener gesê. Na die verskyning van die wolke sien hy ’n swart perd met ’n ruiter die see instap. Die seewater klap toe oor hom, en net so die Farao en sy manne destyds, verdwyn perd en ruiter onder die see. Dit wys dat Engeland nog eendag in die dieptes sou wegsink.
Maar vóór hierdie dinge gebeur, het hy gesien hoe Engeland eers al sy kolonies verloor, gevolg deur ‘n toestand van groot ellende en hongersnood.
Daarna sien hy varke wat oor ’n damwal hardloop. Die dam word leeg en dan sit daar ’n groot voël onder op die straatklippe. ’n Klein voëltjie kom toe aangevlieg, en word byna dadelik deur die grote ingesluk.” Hy het die gesig self verklaar: “Die dam water is Amerika wat geld aan Engeland leen, maar dit sal uiteindelik tot gevolg hê dat Engeland finansieel gebreek word.”
En laastens sien hy groot troppe swart beeste (mense uit Afrika en Indië) die land van die oostekant af binnehardloop. Die een bees sal nog vassteek en terugkyk. Oom Nicolaas sê dit dui aan van watter kant af die gevaar kom: al die gekleurde rasse uit Sy Majesteit se voormalige kolonies sal na Engeland toe stroom en groot rasseprobleme tot gevolg hê — want in Afrika en die Ooste sal daar verskriklike ellendes heers en desperate hordes vreemdelinge gaan in Engeland en ander dele van Europa ’n heenkome soek.
Oor Engeland se einde het Siener gesê: “Engeland gaan totaal verwoes word — dat net so hier en daar ’n ou maer vark in die modder oorbly. Engeland het mos ander nasies se lande met vuur afgebrand — soos by ons en Duitsland, toe ons vrouens en kinders vermoor is, so sal aan haar gedoen word…”