G A Watermeyer: sy visioen van Atlantis se verdwyning

GA Watermeyer

Die bekende Afrikaanse digter Godfried Andreas Watermeyer is op 15 Oktober vanjaar presies 100 jaar gelede op die plaas Spitskop in die distrik Middelburg in die Noordoos-Kaap gebore. Hy sterf op 4 Junie 1972 aan ’n hartaanval in Johannesburg.

Op twaalfjarige ouderdom word hy ernstig beseer wanneer ’n perd op hom val. Die nagevolge van hierdie ongeluk bly hom vir die res van sy lewe by en hy is soms vir maande bedlêend. Die ongeluk het veroorsaak dat die suurstoftoevoer na sy brein belemmer is, met die gevolg dat hy periodiek in ’n koma beland het. Hierdie ongelukkige toestand het hom ’n lewenslange probleem besorg met afwisselende insinkings in sy gesondheidstoestand.

Hy aanvaar in 1937 ’n betrekking in die Departement van Lande in Transvaal, vanwaar hy spesiale korrespondent word vir Die Transvaler in die Vaalhartsnedersetting. Hy word egter uit hierdie posisie ontslaan wanneer hy in Die Transvaler ’n skerp aanval doen op sy eie Departement weens hulle optrede teen die deur droogte geteisterde boere van die streek. Hy keer terug na sy geboortestreek en werk ’n jaar lank in die Poskantoor op Middelburg in die Kaap waar hy weereens teenstand ondervind.

Tussen 1941 en 1948 woon en werk hy in Johannesburg. Hy ontmoet die aktrise Letsie Ferreira, oorspronklik van Willowmore, in November 1942 en hulle is in Maart 1943 getroud. Tydens die oorlogsjare word ’n seun, Fred, uit die huwelik gebore.

As gevolg van sy siekte en oorlogsviktimisasie sukkel hy om ’n vaste betrekking te behou en is hy by tye van sy vrou afhanklik as broodwinner. Hy verloor byvoorbeeld sy betrekking by die Rand Club wanneer sy opvattinge oor die Tweede Wêreldoorlog bots met die destydse beleid van Jan Smuts se regering.

Na die verskyning van sy debuutbundel Sekel en simbaal in 1948 studeer Watermeyer met die steun van vriende en organisasies soos die Reddingsdaadbond en Helpmekaarfonds van 1949 af voltyds aan ’n B.A.-graad aan die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat. Nadat hy die B.A.-graad verwerf het, keer hy terug na Johannesburg.

Daar huur die gesin ’n woonstelletjie, maar kan slegs een bekostig wat só klein is dat dit net plek het vir sy vrou en seun, sodat hy by ander mense in ’n solderkamer moet slaap. Oor hierdie omstandighede skryf hy: “Ek het bykans geen aardse besittings nie – terwyl ander mense geld maak, lê ek in die bed en probeer gedigte skryf. Al wat ek het, is my vrou en kind en selfs hulle mag nie by my wees nie, my seuntjie moet bedags by vreemde mense bly tot my vrou saans na werk tuiskom, en ons het geen vooruitsig op ’n huis nie.”

Die Republiek van ‘n Duisend Jaar

In 1957 kon hy geen uitgewer vir sy bundel verse Die Republiek van ‘n Duisend Jaar kry nie, en publiseer dit self met finansiële hulp van Volkskas Bank (Toe nog óns bank!) In hierdie bundel tree die digter na vore as ’n ware Godsman, Volksman, Taalman en Patriot in murg en been. In byna profetiese taal beskryf hy hoe sy volk eers verstoot en vertrap word; homself dan herontdek om uit die stof op te staan en uit te groei tot die nuwe heerser van die toekoms. Elke vers kom gloeiend uit die rooi kool van die hart se blaasbalkvuur – om strak, kantig en fors geklink te word op die aambeeld van die gees, en daarna ysterhard in die waters van Bloedrivier af te koel.

Die konserwatiewe uitgewery in die Noorde, Perskor, wou die bundel in die vroeë negentigs heruitgee, maar is met soveel woede en weerstand vanuit liberale kringe oorval, dat hulle dit toe maar laat vaar het.

Maar Godfried Andreas Watermeyer se medevolksgenote het hom nie vergeet nie en in September 2005 publiseer prof. JJ Pienaar  ‘n pragtige huldeblyk oor hierdie geliefde volksman met die titel GA Watermeyer – die verwaarloosde volksdigter: “Hy was ’n beskeie man, ’n vergete man wat as boerseun op die plaas groot geword het,” skryf prof. Pienaar, “en wat sy volk innig liefgehad het, maar nooit die erkenning gekry het wat hom toekom nie. Juis die feit dat hy sy volk so innig liefgehad het, het ook teen hom getel…”

Die bewys daarvan kry ons dan ook by die Boervolkhater en liberale, verwaande literêre snob en skaamtelose ANC-rugklopper, JC Kannemeyer. In ’n venynige resensie kan hy nie genoeg woorde vind om sy weersin en minagting vir Die Republiek van ‘n Duisend Jaar uit te druk nie. Hy skryf o.a.: “Naas die reseppies wat Watermeyer by herhaling in hierdie pleidooie vir apartheid, suiwerheid van bloed of ras en moedertaalonderwys gebruik, banaliseer hy sy verse verder deur die aanwending van die bekende simbole van die Afrikanervolk (“Majoebaberg”, “Bloedrivier, “Vierkleur”, ens.” Duidelik verag Kannemeyer alles wat volkseie, edel en behoudenswaardig is!

‘n Ander verloopte ANC-Afrikaner wat homself Pieter Odendaal noem, het nie geweet nie waar om sy kop in te druk toe hy die bundel by die J.S. Gericke Biblioteek wil uitneem nie: “Ek hoop maar die meisie by die toonbank (gewis ‘n anderskleurige!) lees nie die titel terwyl sy die boek scan nie … (want) Ek lees “Geroepe Volk”, die eerste vers, ek lees “Erfenis”, ek lees “Swart Steen”, en ek kry lelik skaam vir hierdie woorde wat in die naam van my mense en taal geuiter is.” (My mense? Dink Odendaal jou waaragtig waar dat GA Watermeyer van sý mense is? Hy was seker besig om daar in die biblioteek te hallusineer!)

Miljoene sal in Sondvloed sterf

Terwyl Watermeyer in April 1953 weer ernstig siek was, het hy ‘n profetiese blik gekry op die verdwyning van Atlantis, die magtige eilandryk in die Atlantiese Oseaan wat onder die see weggesink het, asook ‘n reeks toekomstige visioene van rampe en onheile wat op Europa en Suid-Afrika wag. Onder uiters moeilike omstandighede en vir homself onverklaarbaar, begin hy die tonele wat voor hom afspeel, een aand in Engels en in digvorm neer te skryf. Die gedigte word in 1954 uitgegee as ‘Atlantis or The crying of the waters’.

Sy visioen begin met ’n openbaring van die geheime rondom die ondergang van die legendariese Atlantis, waaruit parallelle getrek word met die eietydse samelewing. In die daaropvolgende visioene kry hy ’n vreesaanjaende blik op die totale verwoesting en oorstroming van die voormalige koloniale heersers Engeland, Nederland, België, Frankryk en Portugal.

Gebeure uit die antieke tye word ook aan hom geopenbaar en hy kry opdrag om dit alles neer te skryf. Terwyl hy hiermee besig is, dring dit tot hom deur dat dit eindelik ’n geestelike boodskap is, ’n boodskap van die koms van die Messias wat weer op die aarde sal wandel.

Die hele verloop van die profetiese gebeure wat voor hom afspeel, word in vier afdelings saamgevat.

Die eerste afdeling handel oor Atlantis, waarin hierdie vrederyk in al sy glorie beskryf word, gevolg deur die koms van wellus en gierigheid wat die ryk se vrede versteur en dit in sonde dompel. Met die Sondvloed uit Bybelse tye word Atlantis oorstroom en sink dit na die bodem van die see.

In ‘n ander afdeling of reeks gedigte ‘The destiny of England and the Low Lands lying to the west’ word die vernietiging voorspel van die Britse Eilande en die laerliggende Europese lande weens ’n siedende en oorstromende vloed. In die laaste afdeling ‘The great awakening’, aanskou hy die wonderbaarlike herstel van die idilliese ryk van Atlantis en die duisendjarige vrederyk wat daarmee gepaard gaan.

Die bundel is destyds egter nie goed deur die liberale media in die Suide ontvang nie, al het Elisabeth Eybers in die inleiding tot die bundel met groot bewondering geskryf van Watermeyer se verrmoë om in twee tale uiting aan sy diepste gevoelens te gee. Sy skryf: “As dit inderdaad waar is, soos die digter glo, dat hierdie werk ‘n visie bevat van die versluierde oudheid en tegelykertyd profeties vir die toekoms is, is sy keuse van Engels ’n gelukkige een; want Atlantis or The Crying of the Waters, handel oor ’n tema wat die ganse mensdom raak…”

Na vele versoeke deur vriende en kennisse stem Watermeyer uiteindelik in om die merkwaardige verhaal rondom die ontstaan en skryf van hierdie visioene bekend te maak; dit word op Vrydag 23 Julie 1954 in Die Brandwag gepubliseer.

Ons gee hier net kort uittreksels:

“Ek het een aand aan die begin van die winter van 1953 in my stoel voor die kaggel gesit en my eerste boek oor Atlantis – dié van Ignatius Loyola Donnelly – opgeneem het om te lees.

“Ter verduideliking kan ek miskien net hier sê dat Atlantis die naam is van die kontinent wat volgens legende in die Weste in die see verdwyn het. Sommige meen dat dit die land van die ondvloed was wat in die Bybel beskrywe word, met uitsondering dat dit nooit weer bo die waters uitgestyg het nie. Plato het ’n boek oor Atlantis geskryf wat ongelukkig nooit voltooi is nie, en sedertdien het daar alreeds meer as ’n duisend boeke oor die onderwerp verskyn wat die verbeelding van denkers deur die eeue vasgegryp het.

“Hoe dit ookal sy, ek het in die stoel teruggeleun en begin lees aan Plato se beskrywing van die verlore Atlantis wat Donnelly in sy boek oorgedruk het. Nadat ek sowat drie bladsye deurgegaan het, het ek lomerig begin voel – ek het toevallig ‘n vermoeiende dag agter die rug gehad – en aantaltes gemaak om te gaan slaap. Maar ek was skaars in die bed of ’n eienaardige rusteloosheid het my beetgepak en woorde het deur my kop begin maal. Uiteindelik het ek opgestaan en (spontaan) die volgende reëls neergeskryf:

The waves have drawn us to the deep,
The waves have veiled us and we sleep
Among drowned pillars and the stone.

“Hier het ek, ’n Afrikaanse digter, skielik Engels begin skrywe, maar dit was nie al nie. Terwyl ek daar voor die lessenaar gesit het, het daar ineens voor my geestesoog ’n uitgestrekte vlakte verskyn met berge aan die een kant wat steil afloop in die see. Op die berge was daar paleise en tempels en in die middel van die vlakte het ’n geweldige pilaar hoog in die lug opgeskiet.

”Ek is nie heldersienend nie; ek is nie ’n persoon wat met geeste omgaan nie, en daarby was ek hoegnaamd nie in ’n beswyming of ‘trance’ nie, maar wakker en doodnugter. Ek het voortgegaan om ’n beskrywing van die pilaar te gee en toe gaan slaap. Toe ek twee dae later weer die boek opneem en verder lees, kom ek etlike bladsye verder aan tot my verbasing op Plato se beskrywing van hierdie pilaar af.

”In die begin was ek dronkgeslaan, maar nou het dit saans my gewoonte geword om met potlood en papier voor my lessenaar te gaan sit en wag, net maar wag. Weer moet ek beklemtoon dat dit nie ’n geval was dat my potlood deur ’n onsigbare hand bestuur is, soos spiritistiese mediums na bewering ondervind nie, maar dat woorde in my kop gekom het en dat ek hulle neergeskryf het.

”Ek het afgelei dat die ramp van Atlantis herhaal gaan word, dat die aarde deur ’n tweede sondvloed bedreig word, en nou het ek begin begryp waarom hierdie inspirasie na my toe gekom het. Dit moes dien as ’n waarskuwing aan die wêreld. Tot op hierdie stadium het ek egter nie geweet of die ganse aarde of slegs ’n gedeelte daarvan deur die see bedreig word nie.

“Dit het vir my duidelik geword dat lande in die Weste bedreig word en dat die reëns wat van Tuscany (Italië) na die suide beweeg, ’n teken van genade is – ’n teken dat die Suide nie in die ramp betrokke sal wees nie.

Koningin Elizabeth sal nog op die troon sit

”Maar die Weste is natuurlik ’n baie wye begrip, en dit was eers op die aand van die kroning van Elizabeth II dat ek nader besonderhede omtrent die lande wat spesifiek bedreig word, gekry het. Ek het die volgende reëls neergeskryf:

The lone-last Queen, she walks tonight
the banquet hall; Old England’s might
lies shattered in the broken call
that cries it’s writing on the Wall
of Visions.

”Etlike dae later het ek die noodlottige gedig ‘Southhampton Docks’ geskryf, ’n vers wat so fatalisties is dat ek dit nie in my bundel opgeneem het nie en ook hier enkele reëls verswyg:

The birds are wheeling a westward flight.
A sea horse drives up Buckingham way,
the land grows pale and the towers sway…
Southamptons Docks are tumbling down
Treading the way for all to drown.
England lies broken half in half
Southampton Docks are diving down
Leading the way for all to drown.

(Volgens hierdie beskrywing van die digter gaan die vernietiging van Engeland waarskynlik plaasvind terwyl Koningin Elizabeth II nog op die troon sal sit).

“Hierna volg ’n gedig wat daarop dui dat nie net Brittanje nie, maar al die laaglande in die Weste bedreig word, veral Holland en België. Daarby sal hierdie lande nie weer uit die see gered word nie, maar ewig in die golwe verdwyn.

“Maar waarom word juis hierdie lande getref? Hierop is ek nie bereid om ’n antwoord te verstrek nie. Ek het nie ATLANTIS OR THE CRYING OF THE WATERS geskryf met die doel om te veroordeel nie, maar slegs om te waarsku.

“Op hierdie stadium kan ek miskien net meld dat die skrywe van die gedig nie sommer so voor die wind gegaan het nie. Baie aande, veral wanneer ek moeg was, het ek vergeefs gesit en wag op die inspirasie. En wanneer die inspirasie dan wel gekom het, was dit gewoonlik net twee of drie reëls en ek moes die res voltooi deur moeitevol terug te tas in die onderbewuste. Ek is gedurig voortgeja deur die besef van die geweldige taak wat op my skouers gelê is.

“Maar hoe meer beangs ek geword het om die werk betyds klaar te kry, hoe meer teenslae het ek ondervind. Dit was asof die magte van Goed en Kwaad om my saamgetrek was, en terwyl die Gode (Engele?) my met inspirasie begunstig het, het die donker kragte alles in hulle vermoë gedoen om daardie inspirasie te vernietig. Teen die middel van November het ek in ’n toestand van gedeeltelike rugverlamming in die bed beland.

“By die geestesspanning wat ek ondervind het, is nou fisiese pyn en vrees omtrent my bestaansveiligheid gevoeg – en daarby het daar die gevaar bestaan dat ek miskien nooit weer soos ’n normale mens sou kon beweeg nie. Nag na nag het pyn en bekommernis my tot drie- vieruur in die oggend wakker gehou voordat ek bietjie ingesluimer het.

“Daar is diegene wat meen dat Atlantis die land van die Paradys, die verlore Eden, is. Ek onderskryf dan ook hierdie gedagte. Maar met inbegrip van die verhaal van die Sondvloed in die Bybel en Plato se beskrywing word daar slegs gemeld dat die mense op Atlantis sondig geword het.

“In die gedig ‘Atlantis Warns’, word daar ’n waarskuwing gerig dat die seë weer sal styg. Maar hierdie bundel bevat nie net ’n voorspelling van die ondergang van sekere lande nie, dog dit voorspel ook ’n groot wedergeboorte vir die mensdom en die koms van ‘n Nuwe Profeet.

“Eienaardig genoeg het ek op etlike plekke in die bundel geskryf dat die ondergang van bedreigde lande die wedergeboorte van Atlantis aandui, en eers later het ek verneem dat daar ’n legende bestaan dat as die een land ondergaan, ’n nuwe stuk aarde uit die see opkom…” (Tot sover die digter se beskouing van sy profetiese gedigte).

Ons lees in die Bybel dat ’n saak op die woord van twee of meer getuies bekragtig word. Daarom wil ek hier drie van Watermeyer se visioene noem omdat dit ooreenstem met drie gesigte van Siener van Rensburg.

In die eerste visioen het Watermeyer gesien hoedat nie net Brittanje nie, maar ook al die laaglande in die Weste soos Holland en België in die see verdwyn, en hierdie lande sal nie weer (soos Atlantis) uit die see gered word nie, maar vir ewig onder die golwe wegsink.

Siener het ’n soortgelyk gesig gehad van Engeland en groot dele van Europa wat weens die stygengde waters onder die see gaan verdwyn om nooit weer gesien te word nie.

In ’n ander gedig uit Die Republiek van ‘n Duisend jaar, het Watermeyer die volgende toekomsgesig gesien:

Elke man moet kolskoot skiet
Want hierdie dag is dinamiet
En elke volksvrou Trekkertrou
Haar laaiplek in die laer hou:
Die groter impi’s van Dingaan
Het uit die langgras opgestaan;
Die lib’ralis lê linievas
Dwars oor die witpad van ons ras;
Keelgate wat verkanker is
Skreeu hierdie land tot wildernis…

Siener beskryf sy gesig hieroor weer só:

“Ek sien ’n klomp swartes halflyf uit die gras orent kom. Hulle is almal met gewere gewapen en die gewere is op my (die Getroue Afrikanervolk) gerig. Net toe ek dink hulle gaan my skiet, toe word die geweerloop weggeklap en dan begin hulle op mekaar te skiet … dan sien ek hulle agter ’n newel verdwyn. Maar vóór dié tyd het ek ook ’n donkerte oor die land sien neerdaal.”

In Watermeyer se derde visioen het hy gesien hoe Suid-Afrika op staatkundige, kulturele en geestelike gebied in die toekoms die toon in die wêreld gaan aangee, ons land sal ontwikkelinge beleef wat groter hoogtepunte gaan bereik as wat Europa en Amerika ooit kon bereik, want die wysheid van Atlantis (o.a. dat God net sy lewende asem net in die blanke ras geblaas het) – gaan hier binne ons landspale herbore word.

Siener se visioen lui so: Die Boere neem die Unie in besit en brei uit al hoër op. Baie kolonies daar ver sluit by ons aan…Boere en Duitse kommando’s trek saam op in Afrika om die land weer veilig en bewoonbaar te maak vir die Witman. Almal hier is eensgesind en werk eendragtig saam. Ons word ’n groot en voorspoedige nasie en baie immigrante (behoudendes) kom hierheen. En ons is nou Een Nasie, Een Taal, Een Wapen, Een Volk en ons dien Een GOD…”)

4000-jaaroue Atlantis-verhaal in Afrikaans!

Wat GA Watermeyer nie besef het nie, is dat daar reeds in sy tyd en dag ’n volledige verhaal oor die geskiedenis en ondergang van Atlantis bestaan het, nl. Thêt Oera Linda Bok; ’n Nederlandse vertaling is in 1891 gepubliseer, maar die ‘skokkende’, kontroversiële politieke en godsdienstige uitsprake daarin het veroorsaak dat die Kerk- en volksleiers só heftig daarteen te velde getrek het dat een van die merkwaardigste boeke wat nog ooit die lig gesien het, spoedig in vergetelheid geraak het. Selfs die Engelse vertaling van 1876 deur William R. Sandbach is ook baie vinnig doodgeswyg. Vaandel Uitgewers het in 1998 ’n Afrikaans vertaling onder die titel Die Oera Linda Boek, uitgegee.

Die bekende taalkundige van die vorige eeu, dr. Eelco Verwijs, verbonde aan die Leeuwarden Provinsiale Biblioteek in Friesland, het hierdie oeroue geskrif as “die grootste vonds van die eeu” bestempel; en die Nederlandse vertaler, dr. J.G. Ottema, het met die publikasie van die Nederlandse uitgawe in 1871 gesê: “Als antiquiteit van taal en skrift, geloof ik te kunnen seggen, dat dit boek geheel enig in zijne soort is…”

Die Oera Linda Boek vertel die verhaal en geskiedenis van ’n blanke Westerse beskawing in Adland/Atlantis) wat, tot ’n eeu gelede nog nie bekend was nie. Hulle het hul eie skryftaal ontwikkel wat tot vandag toe nog in gebruik is; voorts het hulle ’n geweldige invloed gehad op alle beskawings waarmee hulle in aanraking gekom het. Hulle was wêreldreisigers van faam en onoorwinlik.

Plato en die 16de eeuse historikus, Jean De Serres was van die eerste persone wat Atlantis met die Bybel verbind het. Later het talle moderne skrywers soos David Hershiser, J.D. Brady, William M Pierce en Damien Mackey van Australië, die ooreenkomste in diepte nagevors en daaroor geskryf; veral is daar aandag gegee aan Esegiël se profesie waar hy eers Tirus (Atlantis) se aansien, grootsheid, prag, krygskunde en wêreldroem as seevader en koophandelaar in detail beskryf voordat hy ’n klaaglied aanhef en ’n verdoemende oordeel oor Tirus uitspreek weens sy trots en verregaande hoogmoed wat tot materialisme en dekadensie gelei het. Dieselfde het met die Egiptiese, Griekse en Romeinse beskawings gebeur.

In Esegiël 27 kry ons ’n breedvoerige beskrywing van die noodlottige pad wat Tirus/Atlantis geloop het om uituidelik ook, net soos bogoenoemde drie beskawings, sy eie ondergang te bewerkstellig. Ek haal net ’n paar teksverse aan:

Eseg. 27:1-4: “Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Maar jy, mensekind, hef ‘n klaaglied oor Tirus aan,  en sê aan Tirus, wat woon by die ingange van die see, wat handel drywe met die volke na baie kuslande toe: So spreek die Here HERE: o Tirus, jy sê: Ek is volmaak in skoonheid. In die hart van die seë is jou gebied; jou boumeesters het jou skoonheid volkome gemaak. (27-28) Jou goed en jou handelsartikels, jou koopware, jou seevaarders en jou stuurmanne, die wat jou lekplekke reggemaak het en die wat jou koopware verhandel het, en al jou krygsmanne wat in jou is, saam met jou hele menigte wat in jou is—hulle sal val in die hart van die seë op die dag van jou val.  Van die harde geskreeu van jou stuurmanne sal die oop velde bewe. (30) En hulle sal hul stem oor jou laat hoor en bitterlik skreeu; en hulle sal stof op hul hoofde gooi, hulle wentel in die as. (32)  En hulle sal in hul weeklag oor jou ’n klaaglied aanhef en oor jou sing: Wie was soos Tirus, die doodstille daar in die see? (33-34) Toe jou handelsware uit die see voortgekom het, het jy baie volke versadig; met die menigte van jou goed en jou koopware het jy die konings van die aarde ryk gemaak. Nou is jy verbreek van die see af in die dieptes van die waters; jou koopware en jou hele menigte het saam met jou weggesink.”

In Die geskrif van Gosa erken die Adladers self hulle ondergang is veroorsaak deur “die bedrieglike priesters en die goddelose vorste, wat altyd saamgeheul het om sonder ontsag vir die wette van reg en geregtigheid heimlik hul bose en onwaardige bedrywighede uit te voer, sonder om hulself te verraai deur te hakkel of te bloos. Maar wat is hieruit gebore? Net so maklik as wat die saad van goeie kruie, wat deur goeie mense in die daglig gesaai word, in die grond ontkiem, net so maklik bring die tyd die bose saad aan die lig wat deur goddelose mense in die verborgenheid en duisternis gesaai is!” (Hierdie teks stem feitlik woordeliks ooreen met die Messias se gelykenis van die goeie saad en die onkruid in Mat. 13:24-28):

“’n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n man wat goeie saad in sy land gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook. En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan?  En hy antwoord hulle: ’n Vyandige mens het dit gedoen.”

Die Addlanders was lank en fors gebou, blank van vel, met blonde hare en blou oë. Op sommige plekke is hulle selfs as gode en godinne aanbid. Hulle was ’n magtige volk wat die wêreld oorheers het. Hulle was nie net belese, vindingryk en groot seevaarders, nie maar het ook oor verstommende tegnologiese kennis beskik.

Terwyl die ander volke rondom hulle ’n barbaarse en wettelose bestaan gevoer het, het hulle hul nie net apart gehou nie, maar ook ’n baie hoë sedelike en etiese lewenstandaard gehandhaaf. So bv. was een van hulle onbuigbare reëls dat geeneen in Atlantis met iemand uit ’n ander volk of ras mag ondertrou nie. Indien daar wel oor die kleurskeidslyn getrou is, is die skuldige sonder meer uit die gemeenskap gedryf.

Verder het hulle streng wette gehad en moes elke persoon hom daarby hou. Die wette is dan ook op die buitekant van hulle vestingmure gegraveer sodat almal daarvan kon kennis neem. Hoewel ’n baie onverskrokke volk, was hulle tog uiters regverdig. Oneerlikheid van ander volke het hulle nie geduld nie; as ’n handelaar dit sou waag om sy klante te verkul, is hy die mark van daardie burg verbied. Hulle was ook baie erg oor familiebande en het soms ’n byna Spartaanse bestaan gevoer. Hulle volk was vir hulle alles —hulle volk en hulle God wat bekend gestaan het as Wralda – wat beteken Alvader of Oudste Een. (Vergelyk Daniël 7:9 waar daar na die God van Israel verwys word as die ‘Oue van Dae’).

’n Mens kan die Boervolk in hierdie selfde vorm giet. Hulle moed en durf is al baiemaal deur ander volke aangeprys. Ongelukkig het hulle misplaasde skuldgevoel hulle daartoe gebring om sonder slag of stoot hul Godgegewe land, godsdiens, kultuur en die opvoeding van hul kinders aan die plunderaars uit te deel. Ironies genoeg het dieselfde gebeure hom in die tyd van Atlantis afgespeel toe hulle dieselfde pad gevolg het en uiteindelik geswig het voor die enigste wapen waaroor die hordes beskik, nl. hul bedelbakke en die medelye wat hulle daarmee uitlok.

Die Oera Linda Boek wek dan onwillekeurig by ’n mens die gevoel dat jy hier te doen het met ’n prototipe van die Boervolk: ’n volk wat sy eie land wil bewoon, oor homself wil heers; nie met ander nasies wil vermeng nie en glad nie oorlogsugtig is nie.

Die seevaarders se embleem

Selfs die Skeppingsverhaal in Die Oera Linda Boek toon besliste ooreenkomste met dié van ons Bybel: Na die verskyning van grassoorte, bome, kruieplante en diere, het éérs die swart volke (Lida se mense), en toe die geel ras (Finda se mense) die aarde bewoon, voordat die wit ras (Frya se mense) geskape is. Slegs húlle kon deel in die ‘goeie dinge’ wat vir die dag (lig) bestem was, terwyl die ‘slegte dinge’ deel was van die nag (duisternis). En hulle het hulleself ook beskou as Wralda (God) se uitverkore volk, want Hy het sy Ewiglewende asem slegs in Frya se mense (m.a.w. die wit ras) geblaas.

(Dít en Adland se onbuigsaamheid oor apartheid, was die twee aspekte waaroor die kerk in opstand gekom het!)

Atlantis se tyd van benoudheid

Die verwoesting van Atlantis word só beskryf:

“Gedurende die hele somer was die son agter die wolke verskuil asof dit onwillig was om na die aarde te kyk. Daar was ewige windstiltes en die klam rook en mis het soos ’n nat seil oor die huise en vleie gehang. Die lug was swaar en drukkend en in die harte van mense was daar nóg vreugde nóg blydskap. Te midde van hierdie stilte het die aarde begin bewe asof dit besig was om te sterf. Die berge het oopgeskeur om vuur en vlamme te braak; party het net weggesink in die boesem van die aarde en op ander plekke het berge uit die vlaktes opgerys. Aldland, wat deur die seevaarders Adland genoem is, het verdwyn en die woeste golwe het so hoog bo berge en dale gerys dat alles in die see begrawe is. Baie mense is deur die aarde ingesluk en ander wat uit die vuur ontvlug het, het in die waters vergaan …”Woude is die een na die ander verbrand, en toe die wind daarvandaan opsteek, is ons lande met as bedek. Riviere is verlê en by hul mondings is nuwe eilande uit sand en opdrifsels gevorm.

“Drie jaar lank is die aarde so kasty, maar uiteindelik het dit opgehou en kon die mense sy verwoesting aanskou. Baie lande was onder water en op ander plekke het land bo die see verrys en die helfte van Twiskland (Duitsland) se woude is vernietig. Bendes van Lida en Finda se volke het gekom en hulle op die onbewoonde dele gevestig. Hulle het ons verstrooide mense uitgewis of slawe van hulle gemaak.

“Toe is waaksaamheid dubbeld by ons ingeprent, en in die tyd het ons geleer dat eendrag vir ons ’n sterke burg is. En op die muur van die Waraburg by Aldegamude is daar die volgende woorde geskrywe: Berge, buig julle hoofde; ween julle strome en wolke. Ja. Skênland bloos, jy is ’n volk tot slawerny gemaak, vertrap is jou gewaad, O Frya!” Die skryfstyl van hierdie teks  toon duidelik ooreenkomste met die Bybelse idioom.

SIENER VAN RENSBURG

Lorem ipsum dolor sit amet consectetur adipiscing elit dolor

RAAD VIR KWALE

Vir slegs R120

Die verborge boeke van Eden
Openbaringe van Paulus & Petrus
Die Boek van die Opregte

R370

R470