Die boodskap van Geloftedag vir ons volk

Vanjaar herdenk ons die Slag van Bloedrivier weer op ‘n Sondag – die dag waarop dit oorspronklik plaasgevind het. Hierdie besondere dag het vir ons as volk nog steeds ‘n besonderse boodskap, wat ook opgeteken staan in Psalm 81:8 – “In die nood het jy geroep (ná Bloukrans, Moordspruit en Weenen), en Ek het jou uitgered; Ek het jou geantwoord in die skuilplek (die laer) van die donder (kanon- en geweerskote); Ek het jou getoets by die waters van Mériba (Bloedrivier). Sela.”

In ons geskiedenis het die gebeure van 16 Desember 1838 onder verskillende name bekend gestaan. Sarel Cilliers het aanvanklik daarna verwys as “Wendag”. Later het hy dit “Die Slag van Dingaan” genoem, nog later het dit “Dingaansdag” geword. Toe “Geloftedag”, en met die aanbreek van die Nuwe Suid-Afrika “Versoeningsdag”. In verband met “Dingaansdag” het Sarel Cilliers gesê: “Dingaan het sy dag gekry”.

Sarel Cilliers het in 1810 as 12-jarige seun ‘n ondervinding gehad wat hom later sou bestem om as die “Vader van die Gelofte” bekend te staan.

Dit was ‘n Saterdagmiddag op die winterveld van Hans Lubbe se plaas toe hy saam met ‘n paar maats in die koelte van ‘n rots gespeel het, dat die gedagte skielik by hom opkom het: “Ek wil in God se wingerd gaan werk.” Hy het sy maats bymekaargeroep en hulle hiervan vertel. Daarna het hy in hulle teenwoordigheid ‘n verbond met God gesluit dat hy alles sou doen wat van hom verwag word, solank dit tot die eer van God is.

En dit was daardie insident wat hom 28 jaar later die vrymoedigheid gegee het om wéér ‘n verbond met die Heer van die leërskare te maak, nie net vir homself en sy kamerade nie, maar ook vir hul nakomelinge.

Jare na die Slag van Bloedrivier het hy die volgende oor homself gesê: “Ek was nie geleerd nie – ek was agter die ploeg en die skape. Ek was in God se skool.”

In die dae wat opgeloop het na die Slag van Bloedrivier, het die drie Trekkerleiers, Andries Pretorius, Sarel Cilliers en Karel Landman die naderende onheil bespreek om te besluit wat hulle daaromtrent gaan doen. Tydens een van daardie gesprekke het Andries Pretorius voorgestel dat hulle ‘n Gelofte moet aflê.

Ek haal aan uit FA Venter se boek, Gelofteland. Andries Pretorius is aan die woord:

“Ek wil hê dat ons aan Hom ‘n gelofte moet doen dat as ons oorwin, ons daardie dag as ‘n Sabbat sal herdenk tot Sy eer. Daardie dag moet deur die nageslag gedenk en geheilig word as ‘n dag van die Allerhoogste wat ons gebede verhoor het … Hoe voel julle daaroor?”

Hulle sit lank stil en elkeen probeer die volle betekenis van wat hy gesê het, deurgrond. Al drie huiwer voor die gedagte wat hy uitgespreek het.

“Dit is so gewigtig dat ‘n mens bang is om daaroor te dink,” sê Karel Landman. “Sonder Hom kan ons nie oorwin nie – dit glo ek vas. As ons nie iets doen tot eer van Sy Naam nie, verdien ons nie om te oorwin nie. Laat ons dit doen – laat ons die dag aan Hom wy…”

Sarel Cilliers sit sy hand op die Statebybel.

“‘n Kosbare ingewing, Generaal. Ek wonder net…Sal ons dit nakom? Kan ons die nageslag bind? Ons weet nie waarheen die volk sal groei nie. Ons is so verganklik en sondig, maar Hy is ewig. As die nageslag die gelofte nie in ere hou nie, sal Hy dit nie teen hulle in rekening bring en hulle oorlewer aan die swart geweld wat ons nou aandurf nie?

“Wat die nageslag doen, dit staan op die boek van die nageslag,” antwoord Pretorius.

Hulle het toe die Gelofte afgelê en ook die oorwinning behaal.

Die vyand is verslaan sonder dat ‘n enkele een van die 464 man in die laer gesterf het.

Sarel Cilliers het ook sy volk goed genoeg geken om te weet wat die uiteinde sou wees: dat die nageslag nie die Gelofte sou nakom nie, wat die Almagtige sou noop om dit teen ons in rekening te bring en dat ons oorgelewer sou word aan die swart geweldenaars wat deur hulle oorwin is.

Dit is letterlik bewaarheid!

Eerwaarde Erasmus Smit

Die aand na die oorwinning van 16 Desember 1838 is voorbereidings getref vir die agtervolging van die Zoeloes die volgende dag; daarna het Andries Pretorius ‘n dankseggingsdiens gehou. Dit is as die eerste nakoming van die Gelofte geïnterpreteer. Maar Pretorius en die ander manne wat aan die slag geneem het, het nie daarna die Gelofte nagekom nie. Sarel Cilliers en eerw. Erasmus Smit het dit wel gedoen.

Presies 42 jaar later te Paardekraal het Paul Kruger die sowat 5 000 burgers wat daar ‘n klipstapel gebou het, gevra dat die burgers wat bereid was om ‘n verbond met God te sluit dat “wij elkander de hand geven, als mannen, broeders, plegtig belovende trou te houden aan ons land en volk, en met het ogen op God zamen te werken, tot den dood toe, voor de herstelling van onzer Republiek”. Die Vierkleur is bo-op die klipstapel gehys.

En op 16 Desember 1880 het die eerste skote geval. Niemand het blykbaar daaraan gedink dat dit Geloftedag is nie. Net meer as twee maande later, op 27 Februarie 1881 is die beslissende Slag van Amajuba gelewer. ‘n Diepe dankbaarheid het oor die volk gespoel vir die bykans ongelooflike oorwinning oor die magtige Britse Empire. Vanaf 13 tot 16 Desember 1881 is ‘n volksbyeenkoms op Paardekraal gehou, en daar het Paul Kruger weereens die Gelofte van 1838 met hierdie woorde herbevestig: “opdat die ouders aan hun kinderen tot in het vêrste nageslacht kunnen verhalen wat God aan ons gedaan heeft.”

Maar anders as met die Slag van Dingaan en die Eerste Vryheidsoorlog, is daar vóór die uitbreek van die 2de Vryheidsoorlog nie ‘n Gelofte afgelê nie. Die burgers het geglo hulle sal met genl. Piet Cronjé en hul mausers die Engelse die see injaag. Dit was juis waarteen Siener hulle gewaarsku het om nie op die vleeslike arm van hul voormanne staat te maak nie, want dié sal hulle tog net teleurstel. En skaars vier maande na die uitbreek van die oorlog het die einste genl. Piet Cronjé met 4 000 man by Paardeberg oorgegee, en moes die burgers op hulle mausers staatmaak.

Genl. Piet Cronjé

Dat hulle die Gelofte erg verwaarloos het, getuig ‘n oorkonde wat in die  Oorlogsmuseum in Bloemfontein hang. Dit is in sierskrif met rooi en swart Indiese in geskryf en lui soos volg: “Wij belijden voor den Heer onze zonde, dat wij Dingaansdag of zoo zeer hebben verwaarloosd of hem niet hebben gevierd volgens de gelofte door de Vaderen gedaan, en wij doem Hem heden de plechtig belofte, dat wij met Zijne hulp met onze huisgezinnen van nu voortaan deze 16 den dag van December altoos als een Sabbat tot Zijne eer zullen vieren en dat als Hij ons het leven spaart en ons en ons volk die verlangde verlossing geeft, wij Hem zullen dienen zoolang wij leven…”

Die gelofte is op 16 Desember 1901 in hut nr. 7 in Fort Ahmednagar, Indië, afgelê deur Ds. T.D. Viljoen en van sy medekrygsgevangenes tydens hulle ballingskap. Dit was na ‘n week van gebed en verootmoediging. Van die ander krygsgevangenes wat daar was, en nie bereid was om die gelofte af te lê nie, is die geleentheid gegee om hulle te onttrek.

In 1949 het Dr. Malan die volgende oor 16 Desember gesê: “Dingaansdag is in ons lewe ‘n jaarlikse skoonmaak, ‘n geleentheid vir die volk om as volk sy gemoed gereinig te kry. Dis nie bloot ‘n dag tot herdenking van ou geskiedenis nie, maar ‘n oproep om met die beste en edelste in ons volksgeskiedenis in voeling te kom.”

Daar is drie basiese elemente wat met die aflegging van die Gelofte neergelê is:

  1. “Dit is ‘n dag van danksegging aan en verootmoediging voor God;
  2. dis ‘n dag waarop die verlede van veg, swaarkry en stryd in herinnering geroep word, en
  3. dis ‘n dag waarop die volksbewussyn versterk moet word.

Ongelukkig is hierdie basiese voorskrifte nie deurgevoer nie, want in plaas daarvan om die Gelofte in ere te hou, het ons as volk verkies om liewer brûe na die vyand te bou.

Ahmednagar kamp, Indië

En een van die eerste brûe was die sogenaamde Versoeningsbrug (“Brug van verraad”), wat in 2013 by die Bloedrivier-terrein voltooi is. Die brug verbind die feesterrein met die Zoeloes se monument aan die oorkant van die rivier vanwaar die Zoeloes hulle aanslag gelewer het.

Dit was die volksverraaier, Constand Viljoen, destydse leier van die Vryheidsfront, wat op 16 Desember 1998 oorgestap het na waar die Zoeloes ‘n halfvoltooide monument onthul het, om met hulle te gaan blad skud en te “versoen”.

Daarmee het hy sy veragting getoon vir die heilige eed wat die Voortrekkers in die Bloedrivier-laer afgelê het om op dié dag hulle Skepper te eer vir die oorwinning wat Hy aan hulle gegee het.

In die Gelofte-belydenis is daar geen sprake van versoening.

‘n Belangrike punt wat ons in gedagte moet hou, is dat net die Almagtige kon geweet het dat toe Sarel Cilliers-hulle die Gelofte op 9 Desember die eerste keer afgelê het, hulle dit sewe maal sou doen voordat die vyand hulle in die laer gaan bestorm om uit te wis.

Dit was beslis nie toeval nie. Hy het dit so bepaal om te verseker dat daardie Gelofte aan Hom en wat sewe maal geheilig is, nooit weer opgehef mag word nie. Nêrens in die bewoording van die Gelofte-teks word melding gemaak van enige toekomstige versoening met die vyand nie.

Brug van verraad

Dit is ‘n eed wat afgelê is ― niks mag daarvan weggeneem of daar bygevoeg word nie.

Met die koms van die Nuwe Suid-Afrika het die volk jammerlik nie net van hulle Gelofte vergeet nie, maar ook van Hom aan wie hulle dit gemaak het!

En vandag, vandag staan ons voor ‘n Tweede Bloedrivier, ‘n smeltkroes en donkerte waarin jy nie jou hand voor sal kan sien nie.

Maar die Vader was ons genadig en het sy profeet na ons gestuur met hierdie trooswoord: “Elkeen wat in sy hart reg is, sal in die Tweede Bloedrivierlaer wees.”

En hoe kan ons weet en seker maak dat dit wel sal gebeur?

Die antwoord op hierdie vraag het ek op 10 Januarie 2001 aan huis van mnr. PW Botha in die Wilderness gekry.

Ek en my vrou, Annelize is die aand genooi na ‘n geselligheid vir die viering van mnr. Botha se 85ste verjaarsdag.

Nadat die heildronk ingestel is, het een van die gaste, ‘n Engelssprekende persoon gevra of hy ‘n gebed vir mnr. Botha kan doen. (Ek het later verneem sy naam is Sandy Gush en dat hy ‘n narkotiseur by die George-hospitaal is).

Onder sy gebed vra hy toe vir God om die Boervolk wat Hy so baie, baie liefhet by te staan en te beskerm in die tyd wat voorlê. Na sy gebed is tee bedien en ek stap toe oor na Sandy en wou by hom weet wat hy daarmee bedoel het toe hy gevra het dat God die Boervolk wat Hy so baie, baie liefhet, moet bystaan en beskerm?

Toe vertel hy aan my die volgende verhaal. “Ek was verlede jaar in Jerusalem saam met ‘n groep Christen-Jode wat die Loofhuttefees gevier het, en terwyl die verrigtinge aan die gang was, kom daar twee jongmanne by die saal ingestap en gaan praat met die programleier op die verhoog. Hy vra toe oor die mikrofoon of daar ‘n persoon in die saal is met die naam Sandy. Ek kyk toe rond, en toe niemand reageer nie, steek my hand op.

“Die twee jongmanne kom toe na my en sonder om hulleself voor te stel, sê die een: ‘Jy is van Suid-Afrika, nie waar nie?’ Ek was heeltemal uit die veld geslaan, want ek ken hulle van geen kant nie, en wou toe weet wat ek vir hulle kan doen. Hy sê toe vir my ‘God het ons met ‘n boodskap na jou gestuur. Daar is twee dinge waarvoor Hy baie lief is. Die een is kinders, en dit bedroef Hom om te sien wat vandag aan kinders gedoen word en een van die ergste misdade is om ongebore kinders in die baarmoeder te vermoor’.

“Ek het saamgestem dat dit ‘n gruwel is. En wou toe weet waarvoor God nog lief is. Toe sê hy aan my: ‘God loves the Boer nation very, very dearly’.

“Dit het my voete onder my uitgeslaan, want ek moet eerlik wees, ek as Engelsman het in daardie stadium nie veel liefde vir die Boervolk gekoester nie. Sy volgende woorde het my nog meer geskok: ‘God het ons met hierdie opdrag na jou toe gestuur. Jy moet teruggaan huis en elke dag in jou binnekamer op jou knieë gaan en met jou aangesig teen die grond vir hierdie volk bid; en jy moet aanhou bid totdat jou trane loop!’

“Ek het hulle so gekyk en ek vra, hoekom? Waarom? En hy sê vir my ‘daar kom in die nabye toekoms ‘n verskriklike ding oor hierdie volk en hulle sal elk gebed nodig hê’.

“Na afloop van die Huttefees het ek na Suid-Afrika teruggekeer en tot vandag toe nog nie één dag oorgeslaan om vir jou volk te bid nie…”

As ons Vader dan ‘n Engelsman opdrag gee om vir ons as volk te bid, hoeveel te meer sal Hy dit nie van onsself verwag nie? Hy het dan ook by monde van sy profeet Nicolaas van Rensburg  die volgende boodskap aan ons as volk oorgedra: “Kom buig die knie voor My – verootmoedig julle – en Ek sal julle uit die hand van jul vyande verlos!”

SIENER VAN RENSBURG

Lorem ipsum dolor sit amet consectetur adipiscing elit dolor

RAAD VIR KWALE

Vir slegs R120

Die verborge boeke van Eden
Openbaringe van Paulus & Petrus
Die Boek van die Opregte

R370

R470