Die Bybel — ‘n versameling mites?

Hand aan hand met die hedendaagse vrysinnige denkers se beskouing dat daar geen Opperwese bestaan nie, dat die “God van die Bybel” net ‘n beeld en skepping van die mens se verbeelding is en dat sy wette en verordeninge daarom geen plek meer het in ‘n demokratiese bestel nie, het hierdie hemelbestormers noodwendig ook die outentisiteit van sy Woord verwerp as bloot net ‘n versameling mites.

Johan van Wyk skryf onlangs op ons blog: “Jesus het nie vir Lasarus uit die dood opgewek nie en hy het ook nie duisende mense met vyf brode en twee vissies gevoed nie. Daar het tien teen een nooit ‘n Lasarus geleef nie en daar was definitief nooit vyftien na twintig duisend mense wat teen ‘n rantjie gesit het en na Jesus se preke geluister het nie … Wetenskaplikes het die resultate van hulle ondersoek begin verdiskonteer in hulle lewens- en wêreldbeskouing …en so het ons by ‘n punt gekom waar ons die kanoniek aanvaarde geestelike bundel (die Bybel) uit die eerste eeu ontmasker het vir wat dit werklik is, naamlik ‘n antieke bundel mitologiese verhale wat vertel hoe ‘n bepaalde groep mense op ‘n bepaalde stadium in die geskiedenis oor die goddelike en oor die wêreld gedink het.”

Johann van Wyk en sy hooggeërde “wetenskaplikes” (wat op geen manier hulle sogenaamde ontmaskering wetenskaplik en konkreet kon “bewys” nie) gee nie net te kenne dat hulle in hul “ondersoek” nooit kennis geneem het van ander “wetenskaplikes” wat bo alle twyfel wel konkrete bewys gelewer het van die Bybel se “Goddelike oorsprong” nie, maar ook dat hulle geen begrip, geen agting, geen liefde en geen affiniteit het met of vir die Outeur van die mens se kosbaarste besitting nie.

Net ‘n opperste dwaas en lasteraar sal, nadat hy die onderstaande gelees het, nog wil beweer dat die Bybelse geskrifte ‘n sameflasing van mites is:

Om mee te begin sal bewys word dat daar in al die Bybelgeskrifte ’n inherente, verborge boodskap-sisteem bestaan, en dat dit beslis nie net ’n aantal boeke is wat oor duisende jare geskryf en toe deur die kerkvaders byeengebring is nie; dit vorm ’n integrale geheel en dra die getuienis van ’n bonatuurlike samestelling.

Die bekende filosoof, Pythagoras, het gesê “alle dinge is getalle”, en dit was hierdie uitgangspunt wat een van die wêreld se beroemdste wiskundiges, Sir Isaac Newton (1643-1727), in die laaste jare van sy lewe daartoe genoop het om na die ?geheime getallewaardes of kodes’ in die Bybel te soek. Hy het dit as van groter belang beskou as sy veel geroemde Teorie van die Heelal.

Newton was vas oortuig daarvan dat daar ’n verborge kode in die Bybel moet wees wat alle toekomstige dinge vir die mens openbaar. Om hierdie verborge boodskap te ontrafel, het hy homself Hebreeus geleer en toe die oorspronklike Skrifte begin ondersoek. Kort vóór sy dood het hy nog verklaar dat die Bybel, en inderdaad die ganse skepping, ’n kriptogram (dokument in geheimskrif) is wat deur die Almagtige daargestel is, en dat hy nie sal ophou probeer om die raaisel van die Godheid te ontdek nie.

Maar met sy afsterwe op 74-jarige ouderdom het dit hom steeds ontwyk.

Dr. Iwan Panin is 13 jaar ná Isaac Newton se dood in Desember 1855 in Rusland gebore. In sy later jare verhuis hy na die VSA om sy studies aan die Harvard Universiteit in 1882 te voltooi.

Sy latere intense belangstelling in die Bybel het daartoe gelei dat hy in 1890 ’n aantal fenomenale wiskundige verskynsels ontdek het wat in beide die die Hebreeuse teks van die Ou Testament en Griekse teks van die Nuwe Testament voorkom. En omdat hy geen logiese verklaring kon vind vir die unieke wyse waarop die hele Skrif geformmateer was nie, het hy sy wetenskaplike navorsing laat vaar en hom die laaste 50 jaar van sy lewe met die ontsyfering van die Bybelkodes besig gehou.

In sy navorsing het hy gevind dat verskeie Skrifkenners al sedert die vroegste tye melding gemaak het van die ingebedde kodes in die Bybel, maar die kompleksiteit daarvan het hulle afgeskrik om dit te probeer verstaan of ontsyfer. Panin sou die taak seker ook nie aangepak het as hy nie op ’n dag na die sin en betekenis van sy eie bestaan begin soek het nie. Dit het hom genoop om in die wetenskappe te begin delf, om die geskrifte van die ou Griekse, Latynse, Middeleeuse en selfs die meer moderne geleerdes en wysgere te ondersoek. Mettertyd het hy sy ondersoek verskuif na die groot werke van wêreldberoemde skrywers, musici en selfs die Oosterse godsdienste. Maar geeneen van hierdie studierigtings kon aan hom bevredigende antwoorde verskaf nie.

Dit was eers toe hy in die Bybel gelees het dat “…Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here (YHWH) en kennis van die Heilige is verstand” (Spreuke 9:10), dat daar ’n nuwe wêreld vir hom oopgegaan het. Sy eerste groot ontdekiking was dat daar altesaam 30 wiskundige veelvoude van 7 in die Hebreeuse woorde van Genesis 1:1 voorkom en wat hy in geen ander buite-Bybelse teks kon vind nie. Verder het hy in dieselfde vers ‘n merkwaardige kode-profesie ontdek, nl. dat die ganse verloop van die menslike geskiedenis (van Adam tot die Wederkoms) in daardie eerste sewe woorde van Genisis 1:1 gekodeer is; en dat die sondeval én die Eerste Koms van die Messias weer opgesluit is in die name van Adam se geslagsregster. Net so het hy die kode vir die Wederkoms in Daniël hoofstuk nege ontrafel. Maar nog meer verstommend vir Panin was die bevinding dat hierdie struktuurkodes nie slegs tot die Ou Testament beperk was nie, maar ook deurgaans in die Griekse teks van die Nuwe Testament voorkom!

As wetenskaplike en navorser het Dr. Panin vroeg reeds geweet dat die ganse natuur onderwerp is aan ’n ewigdurende reëlmaat van wet en orde, en dat daar ’n vaste wisselwerking is in elke denkbare natuurverskynsel. Uit sy vroeëre kennis van musiek, was hy bewus daarvan dat klaviernote se rangskikking in reekse van sewes voorkom, en ook dat die note se aantal lugtrillings per sekonde, vir elke noot wat opgaan in die skaal, veelvoude van 11 is, sodat die note ook onder mekaar verskil met veelvoude van 11 lugtrillings meer of minder per sekonde. Tot sy verbasing het Panin bevind dat hierdie vaste patroon ook in die bestanddele van alle materie teenwoordig is; maar pleks van lugtrillings, vind hulle rangskikking plaas volgens hul onderskeie atoomgewigte wat op sy beurt reekse vorm van vier, vyf en nege elemente met eenderse eienskappe, en dat daar hoofsaaklik sewe sulke saamgestelde reekse bestaan.

Hy gee vir ons etlike mooi voorbeelde hiervan in ‘n verskeidenheid mineraalkristalle met hulle vaste patrone van groeirigtings volgens reëlmaat van die natuur. Selfs in die blare van plante, blomme en bome is daar ook ’n verskeidenheid van reëlmatige rangskikkings om die stammetjies, en hierdie reëlmaat loop dwarsdeur die hele skepping.

Die Christus-lantern

Christus-lantern (Ekself het as kind op skool in die Bybelklas by ou meneer Van der Dussen die geheim van die Passieblom ontdek. Hy het dit soveel keer aan ons vertel dat ek nou nog sy swaar Hollandse aksent kan hoor: “By die geleerdes is dit bekend as die Passiflora; die ou mense noem hulle passieblomme; dominee praat van die Bethlehemsterre; maar vir my is hulle die apostelblomme of Christus-lanterns, want hulle boodskap is vir ons almal bedoel.” Sy vingers het oor die skutblare beweeg. “Hier sien julle tien apostels (sonder Judas die verraaier en Petrus wat gesê het hy ken Hom nie) – en daar, in die middel, staan ons Heiland met die geelvissies en vyf garsbrode in sy hande. Die wetenskaplikes noem dit die stamper en meedraadkrans. Julle moet dit nie glo nie, nog minder as hulle die skare mense wat rondom Christus saamdrom, die helmdraadjies noem. En as hulle praat van die stingelstuk, moet julle nie dink hulle is slim nie – hulle wil net nie erken dis Christus wat daar aan die kruishout hang nie. Wonderwerke is vir hulle maar net legendes en fabels waaraan kinders en ou mense glo. As hulle ons Heiland geken het, sou hulle van hierdie blom meer kon leer as uit al hulle boekke saam…”)

Dit was eers na sy bekering dat Panin op die gedagte gekom het dat die groot Argitek van die heelal dieselfde is as die Outeur van sy geopenbaarde Woord, en dat as Hy as Alwyse Opperwese sodanige ‘stempel’ op al sy handewerk in die natuur geplaas het, waarom dan nie ook op sy Woord nie. Gevolglik het hy in 1890 begin om die Skrifte in hierdie opsig te toets.

Sy bevindings oor ’n tydperk van meer as 50 jaar van moedige, onafgebroke arbeid is wonderbaarlik, ontsagwekkend en onomstootlik.

’n Insig daarin kan nie anders as om elke regskapene te besiel met volslae bewondering vir die onbegryplike Opperwese dat Hy so ’n gans bomenslike ‘stempel’ in die wese van sy Woord geplaas het nie. Hierdeur het Hy tegelyk op ’n volkome doeltreffende wyse sy Woord beskerm teen alle moontlike vervalsing van watter aard of met watter doel ook al. Dit kan vergelyk word met die honderde of duisende herhalings van ’n bankinstelling se naam op sy bankwissels, waardeur die wissels teen vervalsing beskerm word.

Dr. Panin het egter bevind dat die geheime ‘stempel’ wat dwarsdeur die ganse Heilige Skrif versteek is op ’n nog veel meer ingewikkelde patroon in beide die oorspronklike Hebreeuse en Griekse tekste voorkom. Hoe ongelooflik dit ook al mag klink, maar élke Bybelboek, elke Bybelnaam, elke Bybeljaartal, elke hoofstuk, elke paragraaf, elke versie, elke sin, elke sinsnede, elke woord, elke letter is presies daar waar dit móét wees—netjies op sy plek ingepak, ingevoeg, soos wat geen mens op aarde dit kon gedoen het nie. Dit is tewens in hierdie noukeurige, bomenslike rangskikking van elke woord en letter waar die onomstootlike bewys lê dat die hele Skrif deur God geïnspireer is.

(Hierdie bevindige van Dr. Panin word meer breedvoerig bespreek in Die Messias-kode wat ons in 200 gepubliseer het)

Die sewevlak-struktuur

Met sy navorsing het Dr. Panin ‘n ongelooflike sewevlak-struktuur ontdek wat dwarsdeur die Bybel voorkom. Die herhaling van die nommer sewe — of ’n presiese veelvoud van sewe — kom in ‘n vaste patroon voor. Die Sabbat val op die sewende dag; die sewe goeie jare en die sewe jaar van hongersnood in Egipte; die sewe priesters wat met die sewe trompette rondom Jerigo gemarseer het, en dan nog elke sewende Sabbatjaar wanneer die land moet rus, is maar ’n paar van die bekende voorbeelde. Ook Salomo wat die Tempel in sewe jaar voltooi het; Naäman wat opdrag gekry het om hom sewe maal in die rivier te gaan was; en die sewe gemeentes, die sewe seëls, sewe trompette, sewe houers, sewe sterre waarvan in die boek van Openbaring gepraat word, dui almal op die konstante gebruik van die nommer sewe.

Maar dit blyk dat daar nog baie meer onder die oppervlak verborge lê. Iwan Panin het hierdie verborge numeriese eienskappe van die Bybeltekste waargeneem, en dit was vir hom nie net oorweldigend nie, maar ook ‘n demonstrasie van die ingewikkelde struktuur wat getuig van ’n bonatuurlike oorsprong!

So het hy bv. vasgestel dat as hy enige reeks verse neem wat saam hoort en dus ’n paragraaf vorm — soos sê maar die eerste vyf verse van Genesis 1 of Matteus 1 vers 1 tot 11 of 1 tot 17, dan vind hy gegewens van die volgende aard: Die aantal woorde (Hebreeus of Grieks) in so ’n paragraaf is telkens ’n getal wat deelbaar is deur sewe:

Die woordeskat is ’n getal deelbaar deur sewe; die selfstandige naamwoorde daarin is deelbaar deur sewe en dus ook die aantal oorblywende woorde; die woorde wat begin op ’n klinker is in veelvoude van sewe en dus ook dié wat met ’n medeklinker begin; net so ook is die aantal woorde wat op agtereenvolgende groepe van letters van die alfabet begin, veelvoude van sewe; die aantal lettertjies van al die woorde saam, is veelvoude van sewe; voorts is die groottotaal klinkers veelvoude van sewe, en daarom ook al die orige letters, om nie eers te praat van ander dergelike repeterende faktore nie. Wetenskaplikes aan Harvard universiteit het tevergeefs probeer om in die werke van verskeie wêreldberoemde skrywers, soos o.a. Flavius Josefus, Homerus en Shakespeare na ’n geslagsregister te soek wat aan die kriteria van die Messias se stamboom (Mat. 1:1) beantwoord, nl. dat die somtotaal van elk van die volgende numeriese waardes presies deelbaar is deur sewe:

  • Die aantal woorde.
  • Die aantal letters.
  • Die aantal klinkers.
  • Al die woorde wat begin met ’n klinker.
  • Al die woorde wat begin met ’n konsonant.
  • Al die wat meer as een keer voorkom.
  • Al die woorde wat in meer as een vorm voorkom.
  • Al die woorde wat net in een vorm voorkom.
  • Die aantal selfstandige naamwoorde.
  • Slegs 7 woorde mag nie s.nw. wees nie.
  • Die getal name in die geslagsregister moet deur 7 deelbaar wees.
  • Slegs 7 ander tipe s.nw. word toegelaat.
  • Die aantal manlike eiename moet deur 7 deelbaar wees.
  • Die aantal generasies moet 21 wees en ook deelbaar deur 7.

Daar is selfs meer kenmerke in die numeriese struktuur van die woorde self. In beide Grieks en Hebreeus het die letters van die alfabet numeriese waardes. Die numeriese waardes word verkry deurdat die letterwaardes van elke woord bymekaargetel word.

Ander navorsers

Die ontsaglike navorsing wat Dr. Iwan Panin in verband met die Bybelkodes gedoen het, het later die grondslag gelê vir mense soos H.M.D. Weissmandl, David Ordman, prof. Daniel Michaelson en ander se ontdekkings wat hulle met behulp van die rekenaar verkry het.

Kort vóór die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het die Tsjeggiese astronoom en wiskundige, dr. H.M.D. Weissmandl, ’n 14de eeuse manuskrip van ene Rabbeynu Bachayah onder oë gekry waarin hy gelees het dat ál die letters in die Tora deur ’n kode in ’n vaste patroon saamgebind word. Weissmandl het die kodes begin ondersoek en besef dat die obskure verwysing van Bachayah wel meriete het, want sekere sinvolle woorde of frases is in eweredig gespasieerde letters gekodeer. Hoewel Weissmandl tientalle kodename gekry het deur eenvoudig die letters in ’n teksgedeelte te tel, het hy nooit moeite gedoen om sy bevindinge te boekstaaf nie. Maar gelukkig het van sy studente dit wel gedoen en sodoende is heelwat van sy navorsing vir die nageslagte bewaar.

’n Hebreeuse professor, Dawid Ordman, het in 1982 die ontdekking gemaak wat Newton so hardnekkig ontwyk het, nl. dat die getallewaardes van elke letter in die Bybel ook gekodeer is. En danksy die rekenaar kon hy ’n aansienlike hoeveelheid geheime ontrafel. “Sonder die rekenaar,” sê hy, “sou ek die ‘verborge’ en ingewikkelde kodeslot van die Bybelteks nooit kon ontsluit nie.”

In 1994 het ’n groep Israeli-wiskundiges onder leiding van dr. Eliyahu Rips, ’n reeks artikels oor die Bybelkodes in die Statistical Science gepubliseer. Dit is deur ’n Joodse joernalis, Michael Drosnin onder oë gekry en aan die hand daarvan het hy sy eie ‘kodestelsel’ ontwikkel. Drie jaar later publiseer hy toe ’n boek daaroor, nl., The Bible Code, wat spoedig ’n wêreldtreffer geword het, grootliks omdat Drosnin daarin die mens se soeke na oppervlakkige sensasie uitgebuit het.

Hoewel hy aan dr. Eliyahu Rips erkenning verleen het as die `ontdekker’ van die kodestelsel, het Rips dit ontken en hom ook geheel en al van die boek gedistansieer. Nogtans is daar sedertdien miljoene eksemplare in verskeie tale verkoop.

Drosnin het met behulp van sy kodes allerlei toekomstige voorspellings gemaak, soos o.m. die moord op die Israeliese eersteminister, Yitzhak Rabin, op 4 November 1995.

Anders as Drosnin se twyfelagtige bevindinge, was die bekeerde Rus, dr. Iwan Panin (en later ook Dawid Ordman), se navorsing van veel groter betekenis en het hulle bo alle twyfel daarin geslaag om ’n reuse-aantal ‘egte’ kodes in die Bybel bloot te lê. In 1989 het prof. Dawid Ordman tydens ’n seminaar oor die onderwerp, die volgende gesê: “Ek het nog altyd gewonder waarom Grieks juis as Nuwe Testamentiese taal gebruik is en nie ook Hebreeus nie; totdat ek met groot verbasing ontdek het dat die volledige Griekse teks, net soos Hebreeus, ook matematies perfek gekodeer is. Eers tóé het ek besef: Die twee Testamente is in werklikheid EEN OPENBARING VAN YAHWEH! Net soos in die Tora en res van die Ou Testament, is YHWH se ‘Waarmerk’ of ‘Handtekening’ ook oral in die Griekse Nuwe Testament ‘aangebring’!” Ordman het toe die volgende twee voorbeelde genoem:

  • “In Grieks is die numeriese waarde vir Messias (IESOUS— IHEOYE) = 888. Ons kry dieselfde nommer in die Ou Testament. Die eerste twee woorde van Deuteronomium en die laaste twee Hebreeuse woorde daarvan gee vir ons die kode, nl: Hierdie woorde is—almal (vir) Israel. Die totaal van die eerste twee is 297, en die laaste twee 591. Elke letter het die ekwivalent van die Grieks, waarvan die somtotaal 888 is”.
  • So het hy bevind dat die syfer 8 ook staan vir ’n nuwe begin, maar wanneer dit as simbool in algebra gebruik word (oo), beteken dit oneindigheid. Die somtotaal van 8+8+8 = 24 = 6, wat weer die getal van die mens is. Al drie hierdie eienskappe is op die Messias van toepassing: Hy het as mens (6) gekom om ’n nuwe begin (8) (Koninkryk) te vestig waaraan daar geen einde (oo) sou wees nie!

In Maleagi 3:6 kry ons andermaal sy ‘Handtekening’: “Ek, Yahweh, het nie verander nie”. As ons dit nou kodeer, dan kry ons die volgende: ‘Ek’ se numeriese waarde is 61; ‘Yahweh’ is 26; ‘verander’ is 770 en ‘nie’ is 31. Tel dit nou bymekaar en u kry andermaal 888!

Genesis 17:1 lewer ook ’n ‘Handtekening’ op waar die woorde ‘Almagtige God’ (Elohim) vir die eerste keer in die Tora voorkom. Die numeriese waarde van ‘Almagtige God’ is 345; en nou lees ons weer vir die eerste keer in Eksodus waar Yahweh sê: ‘Ek is wat Ek is’. Dit gee aan ons ’n totaal van 543; terwyl die somtotaal van 345+543 = 888 (die getal van die Messias!)

’n Ander bekende Bybelnavorser, Chuck Missler, verklaar in ’n insiggewende bandreeks (The E.T. Scenario) wat hy gemaak het oor die Messias en die profesieë in die Ou Testament, dat alhoewel die 66 boeke van die Bybel die werk van 40 verskillende skrywers oor etlike duisende jare was, het dit tog sekere ingeboude, ooreenstemmende eienskappe:

  • ’n Ingewikkelde boodskapstelsel, en
  • die boeke se oorsprong is van buite ons tydgrens.

“Tyd op sigself is ’n fisiese eienskap,” sê Missler. “Dit varieer met massa, versnelling en gravitasie. Die ewigheid beteken egter nie die besit van onbeperkte ‘tyd’ nie, maar om buite die fisiese heelal te bestaan — dus buite ‘tyd’ self…”

Hy sê ons vind die bewys daarin dat die Skepper van die Bybelboodskap dit demonstreer deur die geskiedenis te skryf nog vóórdat dit gebeur. So kry ons bv. in die Ou Testament meer as 300 profesieë oor die Messias; en saam gee hulle vir ons ’n merkwaardige prentjie van sy Eerste Koms, sy omwandeling op aarde en sy uiteindelike kruisdood. Die Geskrifte waarin hierdie voorspellings voorkom, dateer van 2 000 tot 520 vóór die Messias se geboorte in Betlehem.

Op die vraag: Hoe kan daar bewys word dat die skrywers van die Ou Testament nie hul Geskrifte ná die Koms van die Messias geskryf het nie? verskaf Missler die volgende ‘bewyse’: In die jaar 285 v.C. het 72 geleerdes opdrag gekry om die Hebreeuse Skrifte in Grieks oor te vertaal. Dit is eers 15 jaar later in 270 v.C. voltooi, en staan vandag bekend as die Septuagint (wat ’70’ beteken).

Vir eeue was daar diegene wat probeer het om die geskiedkundigheid van die Messias se bestaan te probeer ontken. Die voorstanders van hierdie teorie beweer dat die enigste historiese verwysing na die Messias in die Nuwe Testamentiese manuskripte is en die geskrifte van die vroeë kerkvaders. Maar ’n kort oorsig van ’n aantal buite-Bybelse antieke manuskripte, geskryf deur Rabbynse en Romeinse historici, sal sulke beweringe onmiddellik weerlê.

In die eerste eeu n.C. het ’n Joodse priester met die naam van Josefus ben Matthias (wat later die Romeinse naam Flavius Josefus gegee is) opdrag van die Romeinse regering gekry om ’n geskiedenis van gebeure in Juda te boek te stel. In sy groot werk, Oudhede van die Jode, maak Josefus een van drie verwysings na die Messias en sy dissipels:

“Gedurende hierdie tyd was daar ’n man Jesus, ’n wyse man. As dit geregverdig is om hom ’n man te noem, want hy het wonderlike dade gedoen. Hy was die Christus. En die nakomelinge van Christene wat na hom vernoem is, bestaan tot vandag toe nog”.

Dit is ’n belangrike historiese verwysing na die Nasarener, want dit kom uit ’n bron wat beswaarlik as eensydig beskou kan word óf dat dit die Christelike geloof wil propageer.

Van 200 tot 500 n.C. het antieke Rabbyne hulle kommentaar op die Bybel saamgestel, Joodse sosiale gebruike en historiese gebeure in die Talmoed (daar is in werklikheid twee weergawes van die Talmoed, nl. die Babiloniese Talmoed, saamgestel deur die Jode in Babilon, en die Jerusalem Talmoed, wat later saamgestel is deur die Jode in Israel). Omdat dit saamgestel is deur die Rabbyne wat leiers was in die Rabbynse akademie, word die Talmoed selfs vandag nog deur Jode as baie gesaghebbend beskou.

In die Babiloniese Talmoed is daar verskeie verwysings na die historiese bestaan van die Messias. In die traktaat bekend as Sanhedrin, 43A, kry ons ’n fassinerende verwysing na Hom: “Dit is geleer dat op die vooraand van die Nagmaal hulle Yashua (Jesus) gehang het. En ’n aankondiger het voor hom uitgegaan vir veertig dae en gesê: ‘Hy gaan gestenig word omdat Hy heksery beoefen het en die mense opgesweep en Israel verlei het. Enige iemand wat enigiets weet in sy guns laat hom vorentoe kom en pleit om Sy ontwil’. Maar omdat niks in sy guns gevind is nie, het hulle hom op die vooraand van die Nagmaal gehang”.

In hierdie uitsonderlike verwysing na Jesus (Yashua in Hebreeus) word ’n hele aantal aspekte van sy prediking bevestig. Eerstens, die feit dat Hy bonatuurlike dade verrig het wat deur die Jode en Fariseërs as heksery beskou is, bewys dat hulle Hom verwerp het, en tweedens, die feit dat Hy gehang is op die vooraand van die Paasfees is ’n buitengewone bevestiging van die historiese gebeure soos dit in die Nuwe Testamentiese Evangelies opgeteken staan. Dit sou belaglik wees om te argumenteer dat die antieke Rabbyne, wat die Christelike geloof verafsku het, die kerk se aansprake sou steun deur in hulle geskrifte na ’n man te verwys wat nooit bestaan het nie.

In ’n brief wat deur Len’tulus, ’n Romeinse Centurion, aan die Romeinse Senaat geskryf is terwyl hy Pontius Pilatus in Jerusalem besoek het, is daar ’n beskrywing wat Len’tulus van die Messias gegee het:

“’n Baie buitengewone man woon vandag in Palestina. Hy word die Groot Profeet deur die massa genoem, maar sy boesemvriende noem Hom die Seun van God. Hy wek die dode op en genees allerhande soorte siektes. Hy is lank, regop en goed geproporsioneer. ’n Opvallende kalmte in sy houding trek die liefde en eerbied van diegene wat hom sien, aan. Sy goudbruin hare is in die middel verdeel en hang in krulle af tot by Sy skouers volgens die gebruik van die Nasareners. Sy voorkop is hoog en intelligent. Sy gelaat is sonder vlek of plooitjie. Sy wange het ’n blos. Sy baard is dik en die kleur van Sy hare. Sy oë is ’n gryserige blou en baie lewendig en deurdringend. Sy betigtiging is skerp, maar Sy vermaninge en instruksies is liefdevol en hoflik. Daar is iets wonderlik bekoorlik in Sy gesig alhoewel erns behoue bly … Hy is die aantreklikste man in die wêreld.”

Hierdie brief is bewaar deur ’n vroeë historikus (Esebius) en is vandag in besit van die Vatikaan.

Rekenaar bewys Bybelse watermerk

David Ordman was vyf jaar oud toe sy pa hom vertel het dat Yahweh 2 400 jaar gelede op die berg Sinaï nie net die Tien Gebooie nie, maar ook die volledige teks van die eerste vyf boeke van die Ou Testament (die Tora) aan Moses oorhandig het.

Klein David het nie vir ’n oomblik die waarheid van sy pa se woorde in twyfel getrek nie; nié voordat hy as jong student in die Bybelkunde deur van sy medestudente uitgelag is omdat hy so naïef is om dit te glo nie.

“Die Tora is ’n Israelse geskiedenisboek wat oor ’n tydperk van 400 jaar deur priesters saamgestel is,” het hulle gesê.

“Nee, dis deur Yahweh self geskryf!” het David volgehou.

“Bewys dit!” het hulle hom toe uitgedaag.

David was so geskok daaroor dat sy vriende aan die egtheid van die Tora kon twyfel, dat dit by hom ’n obsessie geword het om, soos hy dit self stel: “Die Goddelike oorsprong daarvan te ‘bewys’. Maar na meer as tien jaar se nougesette Bybelstudie, het David nog geen enkele konkrete bewys tot sy beskikking gehad nie. Sy harde werk was egter nie heeltemal vrugteloos nie: want, net soos dr. Panin, het hy tot die ontdekking gekom dat die Tora meer is as net ’n boek oor Israel se geskiedenis:

“Binne-in die Tora het ek ook ’n ingewikkelde kodelys ontdek,” het hy aan ’n koerantman van The Mail on Sunday (Aug. 4, 1985) verduidelik: “kodes wat uit getalle en name bestaan en wat dwarsdeur die vyf boeke van Moses ingebed is.”

Nie lank daarna nie verneem die hoofrabyn van Engeland, Sir Immanuel Jakobowitsj, van die 40-jarige professor in Jerusalem se verstommende ontdekking oor die magdom kodes wat al die eeue in die Tora opgesluit lê, en hy nooi David na ’n seminaar in Londen. Die oggend toe David die groep Tora-kenners toespreek, was daar onder hulle ook van sy ou studentemaats.

Selfs hulle was nie juis opgewonde oor David se lesing getitel: “Die kodes van die Tora” nie. Maar sommer met sy eerste woorde het hy die hele vergadering laat regop sit: “Menere, ek het uiteindelik bewyse dat net Yahweh alleen die Tora kon geskryf het!”

Sy volgende woorde het hulle nog meer laat regop sit: “Wat ek nou aan u gaan verduidelik, is die resultaat van meer as vyf jaar se Bybelnavorsing op ’n rekenaar, want dit was sleg met behulp van ’n rekenaar moontlik om te bewys dat die Tora wat 2 400 jaar gelede in die Sinaï-woestyn in Israel se besit gekom het, beslis nie die werk van ’n gewone mens kon wees nie; dit was Iemand wie se intellek die wêreld se mees gevorderde rekenaar van ons dag (1989) na die van ’n telraam sal laat lyk! “En boonop was dit só kompleks en in perfekte patroon geplaas dat geen gewone mens dit in die vyf boeke van Moses kon ingeskryf het en ook nog daarin kon slaag om die inhoud daarvan verstaanbaar te hou nie!

“Ek het vroeg reeds besef dat ek hier op iets groots en ontsagwekkende afgekom het, maar die hele opset daarvan was so ineenverstrengel dat ek nie veel daarvan kon begryp nie en ook nie die doel of betekenis van die geheime kodes kon bepaal nie. Dit was tóé dat ek die ingewing gekry het om die rekenaar in te span in ’n poging om hierdie versteekte ‘kodes’ uit te lig en te ontsyfer…” Hy verduidelik self verder: “Sowat agt jaar gelede (1981) het ek eendag agter een van die mees gesofistikeerde rekenaars ter wêreld (die Amerikaanse Prime-stelsel) gaan sit en met pynlike noukeurigheid die Tora in dié rekenaar se kragtige geheue ingevoer.

Dit het my etlike maande geneem om die volledige oorspronklike Hebreeuse teks van 125 000 woorde oor te plaas. “Dit was natuurlik uiters belangrik dat daar nie ’n enkele jota of titel weggelaat óf bygevoeg word nie,” het hy bygevoeg, “want ek was bang dat dit die uitslag van my navorsing kon beïnvloed.” Met behulp van die rekenaar wou hy dr. Panin se moeisame en tydrowende wiskundige berekeninge vergemaklik en ook ’n stap verder gevoer deur vas te stel of daar nog ánder kodes in die Skrif verborge was waarvan Panin nie kennis gedra het nie.

Hy en sy kollegas het toe sagteware geskryf wat hom in staat gestel het om letterlik miljoene berekenings per sekonde te doen. Die resultaat het hom letterlik stomgeslaan: Die hoofonderwerp van ’n hoofstuk was nie net één maal nie, maar dwarsdeur die hoofstuk en volgens ’n vaste patroon gekodeer. So het hy bv. gevind dat in ’n 13 vers lange hoofstuk van Levitikus waar daar oor Aäron gepraat word, sy naam op 25 verskillende plekke met perfekte reëlmatige tussenposes gekodeer is. In Genesis is die woord Eden 16 keer in ’n hoofstuk gekodeer. Soms was die gekodeerde woord die onderwerp, maar is nie so in die hoofstuk genoem nie, asof dit meer subtiel moes wees. Die hoofstuk het soms weer ’n ander titel gehad, maar die onderwerp was in die teks gekodeer, en op dié wyse het hy oral nog kodes gevind.

Met die verloop van maande en jare het hy vers vir vers ontleed en besef dat daar in die oorspronklike Hebreeuse teks reekse en reekse ‘verborge kodes’ aangebring is — ’n onafgebroke kodeketting wat die hele Tora aanmekaar gebind het. (Nuwe, komplekse kodes waarvan selfs dr. Iwan Panin glad nie geweet het nie).

Net soos vir die meeste Tora-studente het sekere getalle in Moses se vyf boeke prof. Ordman ook gefassineer. Hy was veral geïnteresseer in die `Goddelike sewes’, soos sy pa dit genoem het, en een van die eerste vrae wat hy aan die rekenaar gevra het, was: “Wat is besonders aan die getal ‘sewe’, behalwe dat dit dae en jare aandui. Die antwoord wat hy gekry het, het hom verbyster:

Die eerste keer wat die getal `sewe’ in Genesis gebruik is, is waar dit verwys na God wat op die sewende dag gerus het, en presies van daar af het die ‘sewe-kode’ in ’n vaste patroon voorgekom.” Net soos dr. Panin het hy ook ’n paar eienaardighede omtrent die Tora opgemerk waarvan weinig geleerde kennis gedra het, of van notisie geneem het. Hy het opgemerk dat die syfer 7 in die Bybel ’n baie besondere betekenis het, o.a. dat YHWH eers op die sewende dag van die week gaan rus het, dat Hy die sewende dag geseën en geheilig het; dat Noag se ark in die sewende maand op Ararat geland het, dat Israel sewe dae lank ongesuurde brood moes eet, ens. Maar die getal sewe het ook vele ander verborge betekenisse gehad:

Ordman het in daardie stadium reeds geweet dat die hoofonderwerp van elke hoofstuk in die Tora (bv. Adam, YHWH en Noag sonder uitsondering sewe keer vermeld word! Anders as dr. Panin, wat net met die bestaande Hebreeuse teks in die Tora kon werk, het die rekenaar Ordman-hulle in staat gestel om ook heeltemal vreemde woorde in die rekenaar in te voer. Een so ’n woord was ‘galut’, wat banneling beteken. Die rekenaar is toe gevra om plekke aan te dui waar dit in kodevorm voorkom met reëlmatige tussenposes van 3 tot 150. Die eerste keer wat dit voorgekom het, was met die verhaal van Adam en Eva toe hulle uit die Tuin van Eden verban is. Die tweede is gekry in die gedeelte wat handel oor Kain se verbanning nadat hy sy broer, Abel, doodgeslaan het. Die derde was in die profesie waar God aan Abraham gesê het dat Israel in ’n ander land (Egipte) sou vertoef (in ballinskap gestuur word). Elke keer was die woord daar in ’n tydkapsule; en elke keer was verbanning ter sprake, al is dit nie in soveel woorde gesê nie. Die woord ‘galut’ verskyn nêrens direk in die Tora nie, maar slegs as kode (7X7) in die gedeeltes wat op die `verbanning’ van iemand of Israel betrekking het.

Prof. Ordman-hulle het in hul navorsing ook gevind dat wanneer daar met tydperke gewerk word, is sewe altyd ’n aanduiding van voltooidheid of einde. (Agt het weer ’n nuwe begin aangedui. En daar is ’n pragtige voorbeeld hiervan in die apokriewe boek van Barnabas waar die skrywer sê dat YHWH eers ná afloop van die Duisendjarige Vrederyk, die agtste dag sal skape —’n dag waaraan daar geen einde sal wees nie).

(Dele van hierdie artikel kom uit Die Messias-kode wat in 2000 deur Vaandel Uitgewers gepubliseer is)

SIENER VAN RENSBURG

Lorem ipsum dolor sit amet consectetur adipiscing elit dolor

RAAD VIR KWALE

Vir slegs R120

Die verborge boeke van Eden
Openbaringe van Paulus & Petrus
Die Boek van die Opregte

R370

R470