Byna drie dekades het verloop sedert wyle Adriaan Snyman in 1990 die pad met die Boereprofeet, Siener van Rensburg, en sy visioene begin stap het. Vir hom was dit van meet af aan ‘n taai en opdraande stryd, maar terselfdertyd ‘n heilsame reis besaai met wonderwerke. Die belewenisse op hierdie pad was vir Snyman net so ‘n groot gebeurtenis as die ontdekking van die visioene self. Dit was ‘n taak waarby talle volksgenote hom deur die jare bygestaan en die pad gelyk gemaak het.
In 1992 het sy bekende boek, Siener van Rensburg: profeet vir sy volk (en later Boodskapper van God), die verhaal en visioene van dié profeet na sewe dekades van stilte weer oopgevlek en volksbesit gemaak. Maar wat het agter die skerms afgespeel om daardie profesieë te herontdek en te publiseer?
In Wonderwerke op my Siener-pad neem Snyman die leser saam op sy reis van byna 30 jaar waartydens hy hom aan die profeet en sy gesigte toegewy het. Hierdie boek is nie net nog ‘n herhaling van visioene nie. Dit is die verhaal van die skrywer se eie pad wat gevul was met kontroversie, raaisels, gevare en merkwaardige ingrypings van Bo.
Die verhaal begin in die vroeë 1990’s toe hy soos ‘n speurder deur argiewe en biblioteke gesoek het na inligting. Hy vertel van sy ontmoetings met ouer generasies soos oom Paul Prinsloo en die familie van Boy Mussmann en hul getuienis aangaande die profeet. Snyman deel ook besonderhede oor hoe Nasionale Intelligensie en Binnelandse Veiligheid hom en sy gesin oor die jare dopgehou en ondervra het in ‘n poging om die verspreiding van Siener se boodskap te stuit.
Tydens sy landwye toere van meer as 70 000 km om die visioene aan die volk bekend te maak, het hy talle noue ontkomings beleef, gebeure wat hy toegeskryf aan God se genade en die profeet se bekende “wit seiltjie” van beskerming.
Omdat Snyman homself tot aan die einde met Siener se gesigte besig gehou het, openbaar hierdie boek ook heelparty nuwe visioene en verklarings. Dit gee vir ons volk ‘n duideliker prentjie van lotsbepalende gebeurtenisse wat nog moet plaasvind en wat die profetiese toekoms inhou.
Wonderwerke op my Siener-pad is as te ware sy nalatenskap en bied ‘n boodskap van hoop dat ons volk deur verootmoediging en geloof weer opgerig sal word.








