Die Skepping in II Henog

Die skeppingsverhaal in 2 Henog is 'n vreemde gedeelte in die wat soms moeilik is om te volg. Die illustrasies in hierdie toepassing is bloot bedoel om die konsepte visueel voor te stel, en nie om dit teenoor die Bybel se skeppingsverhaal te regverdig nie.

Daar bestaan in werklikheid twee manuskriptradisies. Die Afrikaanse vertaling bevat die langer, uitgebreide weergawe. Dit is egter uiters moeilik om met sekerheid te sê watter weergawe nader aan die oorspronklike was. Francis Andersen en Andrei Orlov reken die langer weergawe was die ouer teks, aangesien Slewiese kopiiste heel waarskynlik vreemde of ingewikkelde dele uit die teks sou uitsny. André Vaillant en Józef Milik reken weer dat daar onder kopiiste ook 'n neiging is om tekste met ekstra kommentaar uit te brei.

Terwyl Genesis die bevel op elke trapsgewyse oomblik van die skepping stipuleer, verduidelik 2 Henog die meganika daaragter: God roep Adoil, en Adoil bars oop om daardie primordiale lig vry te stel.

'n Paar goed om inag te neem:

  • Genesis 1 begin met 'n aarde wat "woes en leeg" is, bedek met die duisternis van tehom (die diep waters). Sommige teoloë redeneer dat die beskrywing in 2 Henog neig na die Hellenistiese en Gnostiese idee dat die heelal uit primordiale "stowwe" ontstaan het eerder as deur die Woord van God. Aan die ander kant kan Adoil (die lig/hemel) en Aroegas (die donker/materie) bloot beskou word as die manifestasie van twee dimenesies (hemel en aarde) deur die Woord wat dit by name geskep het. Dit is 'n beskrywing van hoe die vormlose "waters" stol en verdig het tot fisiese elemente voordat droë grond verskyn.
  • Die beskrywings van Adoil en Aroegas moet nie as twee aparte fisiese entiteite beskou word nie, maar as twee kante van dieselfde vorm. Net soos 'n mens 'n lewende siel is wat uit 'n fisiese liggaam (materie) bestaan met 'n hoër geestelike aspek daarin, verteenwoordig Adoil die geestelike realiteit en Aroegas die stoflike. God plaas dan sy troon in die middel van alles sodat sy soewereine mag kan strek oor beide die hemel en die aarde.
  • Sommige geleerdes beskou die sewe elemente waaruit Adam geskep word as teenstrydig met die Bybel, waar die mens bloot uit stof gemaak is. Aan die ander kant ontken 2 Henog nêrens dat die mens uit die "stof van die aarde" gemaak is nie. Dit beskryf eenvoudig in poëtiese terme hoe die mens intiem aan die hele skepping gekoppel is — die mens se liggaam as 'n direkte weerspieëling van die kosmos.
  • Die "rotse" waaruit die engele gevorm word, verwys nie na aardse klippe of droë grond nie, maar na die primordiale, gestolde waters van "kristal" (soos die troon van kristal in Esekiël) waaruit die hemelse gewelf en die bane van die sewe sterre gevorm is.

Daar is verskeie opinies oor waar hierdie unieke beskrywings vandaan kom. Sommige geleerdes meen die beelde spruit uit 'n versmelting van antieke Israelitiese teologie en Grieks-Egiptiese filosofie in 1ste-eeuse Aleksandrië, met duidelike ooreenkomste met die Griekse Orfiese Kosmiese Ei en Egiptiese lig-mites. Verskeie kosmologiese en teologiese idees in die antieke Joodse wêreld oorvleuel immers met Hellenistiese konsepte — soos die Logos, wat deur denkers soos Philo van Aleksandrië beskou is as die goddelike Verstand of Woord waardeur God die heelal orden (’n gedagte wat ook in Johannes 1 na vore kom). Alhoewel dieselfde antieke begrippe gebruik word, sal niemand vandag die Bybelse of Henogiese boodskap met bloot heidense filosofie verwar nie.

Scroll to Top