Posted on 110 Comments

Angus, die kerk en die dor bene

Ons het op 8 Mei op ons Facebook die volgende gesê oor Angus Buchan se “Its Time”-biddag op Wildeals-Kloof naby Bloemfontein: “Angus Buchan het gekom en Angus Buchan het gegaan en daar was wind en daar was sonstrale…”

Maar daar het dit geëindig. Die miljoen gebede vir reg en geregtigheid, vrede en hoop het op Wildeals-Kloof se stof bly lê, want net daar het reg, geregtigheid, vrede en hoop op die vlug geslaan en sien ons daagliks net meer onreg, meer ongeregtigheid, meer onvrede en meer wanhoop.

‘n Swarte wat een van sy dienste bygewoon het, het na die tyd verwaand en vol bravade gesê: “Ons sal God ‘dwing’ om te doen wat óns wil hê Hy moet doen!”

Hoe is dit dan dat Angus Buchan, wat wyd en syd verkondig hy is deur God Self ‘geroep en gestuur ’, nié daardie God se stem kan hoor óf verstaan wanneer daar met hom gepraat word nie? Deur die profeet Jeremia het Hy Angus tog helder en duidelik laat verstaan: “Bid nié vir hierdie volk ten goede nié. As hulle vas, luister Ek nie na hulle gesmeek nie … Ek het in hulle geen behae nie; maar deur die swaard en die hongersnood en die pes maak Ek hulle tot niet.” Jer. 14:11-12). “ En jy (Angus), bid nie vir hierdie volk nie en hef vir hulle geen smeking of gebed op nie en dring by My nie aan nie, want Ek sal na jou nié luister nié!” (Jer. 7:16).

Maar Buchan volhard steeds in sy wederstrewigheid om sedert 1980 deur sy Shalom Ministries aanhoudend gebede vir hierdie onbehaaglike nasie op te stuur. Ons het dit weer op 19 November verlede jaar in die FNB Stadion in Soweto beleef.

Reeds so vroeg as 27 September het hy in die media hierdie reuse-‘versoeningsbyeenkoms’ aangekondig en voorspel dat hy 100 000 mense (skape en bokke) gaan versamel sodat “ons ‘n streep in die sand kan trek en vir die duiwel sê: Tot hiertoe en nie verder nie!” (Let wel, ‘ons’ gaan die streep trek en die duiwel besweer, en nie die God wat hom geroep het nie).

By daardie Sacred Assembly wou Buchan Suid-Afrika ‘versoen’ en ook verlos van ’n “vernietigende gees van geweld, korrupsie, haat, onvergewensgesindheid, woede en negatiwiteit … Ons is op ’n mespunt in hierdie land en net God kan ons red,” het hy gesê en bygevoeg: “South Africa has warm and loving people, but it is time for us to gather before God and to ask Him to break the spirit of destruction … Only a united church can heal a divided nation.” Maar tot nou toe sien ons nog geen versoening nie.

En ons eerste vraag is dan: As die Reënboognasie dan almal “warm and loving people” is, hoekom is dit nog vir God nodig om ‘n “gees van vernietiging” te breek? Dié twee loop mos nie hand aan hand nie! En ons tweede vraag: Hoe op godsaarde wil hy die meer as 3 000 verskillende kerkdenomiasies in Suid-Afrika verenig? Hy sal daarvoor wag totdat die Beuel eendag blaas, en dan sal dit nog nie moontlik wees nie, want dán word skaap en bok finaal van mekaar geskei!

Tydens die Sowetodiens het hy saam met die skare hierdie belydenis afgelê:
“I believe in God, the Father Almighty,
the Creator of heaven and earth,
and in Jesus Christ, His only Son, our Lord:
I believe in the Holy Spirit;
the holy catholic church…”

Hy het elders ook gesê hy wil graag alle Suid-Afrikaners onder die katolieke kerk se vaandel intrek, en hy maak geen geheim daarvan dat hy ‘n geswore katoliek is nie.

Die FNB Stadion-gebede het ewewel ook, net soos in Bloemfontein die geval was, in Soweto op die speelveld agter gebly, want die “vernietigende gees van geweld, korrupsie, haat, onvergewensgesindheid, woede en negatiwiteit”, het ons sedertdien met rente teruggekry.

Angus Buchan se noue verbintenis met die gekleurde rasse (dink maar aan die Beth-Hatlaim-weeshuis vir swart ‘weggooikinders’ op sy plaas in Natal) herinner nogal sterk aan ‘n ander Scott met dieselfde neigings, nl. Dr. John Philip wat in 1819 na die Kaap gekom het as hoof van die London Missionary Society. Hy het geglo hy is ‘geroep’ om die swart volke te evangeliseer en dan met die blanke te verenig. Maar net soos Buchan was hy ook totaal uit pas met die Voortrekker en Boer se volkskarakter, hulle diepgewortelde drang na vryheid en afskeiding.

John Philip is in sy tyd deur die Kaapse kerk gesteun, vandag geniet Buchan die steun van ál wat kerk is!

Dus is dié twee nie die enigste ‘geroepenes’ wat die profeet Jeremia se Goddelike Opdrag hierbo ignoreer nie. Sedert 1994 is daar reeds miljoene gebede uit die mond van ‘geroepenes’ van kansels af vanuit tienduisende kerke oor die land vir ‘vrede’ opgestuur, maar dit het elke keer leeg na hulle toe teruggekom. Of kan iemand dalk ‘n dag óf datum noem waarop ons al soveel as ‘n oomblik se ‘vrede’ in hierdie land van verdrukking en smart deelagtig was?

Nou wáár moet ons dan die fout loop soek? By ons voormanne, die politieke leiers? Die bedrieglike media? Of dalk albei? Ja, hulle het hulle pond vleis gegee. Maar hulle het net gedienstig die touleier gevolg – die kerk.

Heldedaad verag

Onthou u nog die St. James-bloedbad wat op Sondagaand 25 Julie 1993 tydens ‘n erediens by die St. James Kerk in Kaapstad plaasgevind het?

Daardie noodlottige aand terwyl jongmense voor die gemeente gesing het, het ‘n gemeentelid, Charl van Wyk, ‘n geluid by die voordeur van die kerk gehoor, en die volgende oomblik het ‘n bende swart terroriste deur die deuropening handgranate waaraan spyker geheg was na die gemeente oor die vloer gerol en terselfdertyd met aanvalsgewere op hulle losgebrand.

Charl van Wyk

Charl, wat in die vierde ry van agteraf in die kerk gesit het, het onmiddellik besef die gemeente word aangeval en hy het instinktief gehandel – op sy knieë neergesak en terselfdertyd sy .38 Special rewolwer uit sy enkelholster getrek, waarna hy twee skote op die aanvallers afgevuur het; daarna het hy na die gangetjie tussen die banke gekruip en by die agterdeur uitstorm met die hoop dat hy die aanvallers op kort afstand sal kan skiet.

Toe hy egter om die hoek van die kerkgebou kom, was die terroriste reeds in hulle voertuig en besig om weg te trek; hy het nogtans met sy laaste drie rondtes op hulle losgebrand.

In die aanval wat deur vier kaders van die Azanian People’s Liberation Army (APLA) uitgevoer is, het 11 gemeentelede gesterf en is 58 gewond.

Die terroriste was op die punt om petrolbomme tussen die sowat 1 000 kerkgangers te slinger toe Charl op hulle begin skiet het, en hulle het toe dadelik op die vlug geslaan. Met sy heldhaftig optrede het Charl waarskynlik honderde lewens gered.

“As ‘n boef my lewe of dié van iemand anders wil neem, óf my vrou of dogter wil verkrag, sal hy eers moet koes vir my koeëls!” het Charl later gesê. “In Afrika sien ons dikwels die verkragting van vroue en kinders deur rebelle en regeringsoldate. Die Christen het nie net die reg nie, maar ook die plig om hierdie misdadigers met alle geweld teen te staan.”

Sy mede-Christene se reaksie was egter vir hom ‘n groter skok as die bloedige aanval op die kerk self: “Hulle het my dit verkwalik en veroordeel omdat ek op die moordenaars geskiet het,” het hy teleurgesteld gesê, en bygevoeg: “My antwoord hierop is eenvoudig: om ons gesinne te beskerm, is om God te eer…” (Nie één van die vier barbare is deur Charl se optrede gedood of selfs net gewond nie; maar sy kerk braak gal daaroor. Hoekom? Omdat die kerk self hierdie wilde wese van die veld tot heilige verklaar het!)

Dit is in 1998 bevestig toe die vier moordenaars amnestie vir hul dade van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) ontvang. Die ‘kerkman’, eerwaarde Tutu, het van dankbaarheid saam op hul skouers daaroor gehuil.

Die St. James-kerk na die aanval

Met die Messias se Eerste Koms tweeduisend jaar gelede, het ook die swaard gekom. (“Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.” (Mat. 10:34). Hy het geweet dat van daardie dag af tot en met die voleinding, ons nooit vrede sal sien nie en daar die een oorlog op die ander sal wees. Daarom was sy opdrag aan sy dissipels met hul laaste sending dan ook: “verkoop jou kleed en koop vir jou ‘n swaard.” Hulle sê toe vir Hom hulle het twee swaarde, en sy antwoord was: “Dit is genoeg.”

Daarom moet Charl se woorde ‘n elk en ‘n ieder van ons laat besef dat die lamsak, jelliedrisel predikante, pastore en priesters met hulle sagte lyfies, sagte handjies, sagte stemmetjies, sagte boodskappies en sawwe ruggraatjies hul gemeentes se hartjies net so saf gemaak het “…sodat hulle nie sien met hul ogies en met hul oortjies nie hoor en hul hartjies nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en (hulle land) gesond word nie.” (Jes. 6:10).

Dus is dit heeltemal ondenkbaar dat een van hierdie voorbeeldige ‘geroepenes’ óf sy gemeentelid, Jan Salie, ooit vir hom ‘n sweep sal vleg en ‘n tafel of ‘n stoel sal omkeer! Of wié van hulle sal ooit die moed hê om prontuit aan die skeinheilige huigelaars te sê “Julle slange en addergeslag – julle voorland is die hel!” Hulle ‘Jesus’ het dit gedoen. Wanneer gaan hulle dan in sy voetspore begin loop?

Só het hulle ‘godsdiens’ dan ook saf en weerloos geword, soveel so dat dit vandag geen weerstand kan bied teen die aanslae van buite nie. Algaande word dit op haas elke lewensterrein ondergrawe en vertrap, terwyl die kerk en sy herders ander pad kyk.

Hierdie ‘geroepenes’ het net so ook stilswyend ook ander pad gekyk toe sy vyand sy Naam in die hoogste vergadering gemuilband het; stilswyend ander pad gekyk toe selfs ons kinders verbied is om in die skool net sy Naam te prewel. Daar was selfs ‘n hofuitspraak om seker te maak dat dié reël nie oortree word nie: “Geen bepaalde geloof mag in openbare skole as dominant geag word nie.”

Selfs die regter, Willem van der Linde, het hom by die ruggraatloses geskaar: “Dit is nodig om diversiteit (ook ander gelowe) in die land te bevorder.”

Die God van ons vaders staan nou letterlik buite die deur en klop met die hoop dat Hy weer ingenooi sal word.

En wat was hierdie ‘ander gelowe’ se reaksie op die hofuitspraak? Hulle is doodtevrede daarmee – solank die ‘Christelike geloof’ net nie gehoor word nie!

Die vloek van Afrika

Miskien het dit tyd geword dat oom Angus ‘n slag kennis neem van ‘n Amerikaanse joernalis en Afrika-kenner, ene Amos, se uitspraak in 2007 oor die Afrikaan en sy land: “Van al die lande is Afrika vir my die beste voorbeeld om die verskil in die handewerk van God en Satan te illustreer: “In die begin het God uit niks ALLES geskape. In Afrika het Satan uit ALLES niks voortgebring nie!” En dan voeg hy hierdie betekenisvolle woorde by: “Om die een of ander rede, dink ek, rus daar ‘n vloek op Afrika…”

Is dit dalk hoekom die Vader vir ons deur sy profeet gesê het: “Word aan die goddelose genade bewys, dan leer hy geen geregtigheid nie; wat onreg is, doen hy in ‘n land van reg, en hy sien die hoogheid van die HERE nie.” (Jes 26:10).

En op ‘n ander plek word ons uitdruklik gewaarsku: “Jy mag hulle vrede en hulle geluk solank as jy lewe, vir ewig nie soek nie.” (Deut. 23:6).

Of onthou u nog die Meester se laaste gebed? “Ek bid vir hulle; Ek bid nié vir die wêreld nié, maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort.” (Joh. 17:9).

Hoekom wou Hy nie ook vir die ‘wêreld’ bid nie? Dis omdat Hy Self gesê het: “ Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid!” (Luk. 13:27).

Maar die kerke wat uit die wêreld is, bid Sondag na Sondag net vir die ‘wêreld’ en “…daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle.” (1 Joh. 4:5).

As die doodsbeendere opstaan

Ons het reeds in Februarie vanjaar Esegiël se gesig van die doodsbeendere in die laagte bespreek; maar by nadere ondersoek lyk dit of dit ‘n veel dieper betekenis kan inhou – iets wat nou, in ons dag, besig is om te gebeur:

Daar is min twyfel dat die volk wat in die Tuin van Eden gebore is, aan die uitsterf is, want hy gee lankal nie meer gehoor aan die opdrag wat hy daar ontvang het nie – ‘vermeerder en vul die aarde’. Ook sy taal, kultuur en geloof word onder druk.

En dit was die eintlike doel van die ongewenste Immigrant in die Tuin en later ook dié van sy Kain-spruite. Hulle wat al van toendertyd af die Adamiet se troon beklim het; wat hom van sy Eden en erfgoed beroof het; wat hom die stert gemaak het; wat die duisternis lief het en die lig haat, wat aborsies en kindermolestering goedpraat, wat sê jy kan kies aan watter geslag jy wil behoort, wat ‘hom’ met ‘hom’ laat trou en ‘haar’ met ‘haar’; wat sê hy is Adam se gelyke en wie se grootste begeerte dit is om hierdie Adam te verbaster.

Siener: “Ag, my volk vermeng so baie. Hulle praat nie meer die taal van ’n Verbondsvolk nie. Ek sien die tyd word min, die Volk afvallig. Die leiers is lief vir plesier. Twee soorte mense: dié met geld en mag, en dié wat honger ly, weer soos in die Woord — swaar pakke word saamgebind en op die skouers gelaai van die wat ween. Die ander deel van die land eet en drink, hulle oë peul uit van vet.”

Deut. 32:15 “Toe het Jesúrun vet geword en agteropgeskop — hy het vet geword, dik geword, spekvet geword — en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag.”

Maar al hierdie euwels het salig by Adam verbygegaan: “Want die HERE het oor hom uitgegiet ‘n gees van diepe slaap, en Hy het sy oë—die profete—toegesluit en sy hoofde — die sieners — toegebind.”

Siener: “Ek sien die Boere se hoede hang oor hul oë en hul koppe hang laag. (Hulle lyk baie moedeloos). Ek sien hulle het kolle op die oë wat soos pêrels lyk.” (Hulle word verblind en kan nie sien wat werklik besig is om rondom hulle te gebeur nie).

En hoe moet hy dan weet die nag is nou op sy donkerste? Of dat die ‘dagbreek’ dalk net om die draai lê?

Hy het sy Skepper vergeet. Maar sy Skepper het hóm nie vergeet nie. Dus het Hy sy profeet Esegiël geroep en hom na ’n laagte vol doodsbeendere geneem.

En by die aanskoue daarvan het die profeet bedroef gesê: “…Hy het my uitgebring deur die Gees van die HERE en my neergesit in die laagte; en dit was vol bene … En Hy het my by hulle laat verbygaan na alle kante toe; en kyk, daar het ’n groot menigte oor die laagte gelê, en kyk, hulle was baie dor.”

Daarop sê Hy vir my: “Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die HERE! … Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word. En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en ‘n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal weet dat Ek die HERE is.”

Toe het ek geprofeteer soos my beveel was. En sodra ek geprofeteer het, was daar ’n geruis, en kyk — ’n beroering! En die bene het nader gekom, elke been na sy been.

Daarop sê Hy vir my: “Profeteer tot die gees, profeteer, mensekind, en sê aan die gees: So spreek die Here HERE: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word.”

En ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Toe het die gees in hulle gekom, en hulle het lewendig geword en op hulle voete gaan staan—’n ontsaglike groot leër!

(Maar hulle het geweeklaag en uitgeroep): “Ons bene is verdor, en ons verwagting is verlore; dit is klaar met ons!” (Eseg. 37:11).

Toe sê Hy vir my: “profeteer en sê aan hulle: So spreek die Here HERE: Ek sal julle (weer) vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, die HERE, dit gespreek en gedoen het, spreek die HERE…” (Eseg. 37:12).

Slot

En in ons dag is hierdie magtige profesie voor ons oë vervul en kan ons nou eerstehands daarvan getuig: Van dwarsoor die wêreld het sy volk – en nét sý volk – uit al vier windrigtings, sy Gees soos die aandwindjie in die Tuin van Vrede oor hulle voel opkom. Die Griek en Italianer het dit beleef; die Fransman, die Duitser, die Hollander, die Engelsman, die Noorweër, die Sweed, die Switser, die Hongaar, die Boer, die Amerikaner, ja, selfs die Rus.

Oraloor het verdorde beendere in die laagtes lewe gekry en half skugter orent gekom. Maar by die aanskoue van al die plundering, chaos, wanorde en verwoesting rondom hulle, het hulle soos uit één mond na die ou paaie begin vra, na die Huis waaruit hulle weggeloop het om verstote en verhonger in ‘n Godlose land verlangend te moet toekyk hoe die varkgespuis by die krip staan en gulsig peule verorber.

Eers na die verloop van vele dae het hulle opgestaan om die ou pad terug te vat na die Vaderhuis.

En reeds van ver af het hulle Hom met groot blydskap sien aankom. Hy het hulle met ‘n hartlike omhelsing en ‘n kus gegroet en met groot deernis gesê: “My klein kuddetjie, Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! Jou gesug en geweeklaag en hulpgeroep vanweë die slawerny het tot My opgeklim.Nou sal My diensknegte vir jou die beste kleed aantrek, ‘n ring vir jou hand gee en skoene vir jou voete. Dan sal My diensknegte die vetgemaakte kalf  slag, sodat ons weer saam kan eet en vrolik wees…” (Luk. 15:23).

En die geplunderde, chaotiese, verwarde en verwoeste wêreld het hierdie woorde verslae aangehoor…