Posted on 203 Comments

Solidariteit, die Skepper se verordeninge en verregses

’n Persoon war homself Kood noem, lewer die volgende kommentaar op ons forum:

Adriaan ek is ook ’n boer maar jy hou jou so f*&^$^n slim en se almal sleg – met verwysing na Afriforum – nou se jy vir my as ’n boer en gatvol vir die land wat moet ons doen… gee ’n plan en vergeet om siener se goed elke keer so uit te le want dit irriteer die kak uit my uit – wat is jou plan slimjan?

Om mee te begin Kood, jou taalgebruik is nie dié van ’n Boer nie! Nee,ek het geen plan nie; ek het net my Bybel, die profete, asook ons eie profeet se profetiese oorsig van wat die Vader se Verhouding, Plan en Voorneme met sy volk is. Aanstons meer hieroor. Tweedens, jy kan nie nie ‘n Boer wees nie, want ’n ware Boer maak nie staat op Solidariteit, Afriforum, of wié ook al se vleeslike arm nie – hy wéét reeds waar sy Hulp vandaan kom! Derdens, ek het Afriforum nog nooit sleg gesê nie, maar hulle en ander sogenaamde ‘regse organisasies’ net ontbloot vir wie en wat hulle werklik is. En dan vierdens, dit wil vir my voorkom of Siener se profesieë glad nié vir jou bedoel is nie; want as dit was, sou jy geweet het hy het net vir ons kom bevestig en met praktiese voorbeelde toegelig wat reeds in die Bybel opgeteken is.

Die Vader het sy Verhouding, Plan en Voorneme met sy geroepe volk Israel (en met hulle alléén), baie duidelik vir ons uitgespel. Sy Verhouding: Jer. 31:3-4 — Jahweh het aan my verskyn uit die vêrte: Ja, Ek het jou (Israel) liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid. Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel!

Sy Plan: Openb. 3:19 — Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.  

Ps. 50:15 — …en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.

Siener gee vir ons ‘n baie mooi praktiese illustrasie hiervan waar hy aan Boy Mussmann sê: “Genl. Kemp moenie môre, oormôre sê dit is hý, die dapper generaal, of ék die Siener, of júlle die dapper burgers, wat julle hier uitgebring het nie, maar hy moet God die eer gee wat Hom toekom.”

(Omdat die Vader dit reeds by verskeie geleenthede beklemtoon het dat Hy net vir Israel liefhet, is géén ander nasie ter wêreld by hierdie belofte van redding ingesluit nie (ook nie die Jode nie!) Want:

Sy Voorneme is om: “…die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg, te maak dat hulle kom en voor jou (Israel se) voete neerbuig en erken dat Ek jóú liefgehad het.” Openb. 3:9.

In Psalm 106 moes Dawid ‘n blik op Suid-Afrika gehad het toe hy hierdie woorde geskryf het:

“Hulle het die volke nie verdelg soos Jahweh aan hulle gesê het nie, maar hul met die heidene vermeng en hulle werke geleer … En hulle het hulle afgode gedien, en dit het vir hulle ‘n strik geword … Toe het die toorn van Jahweh ontvlam teen sy volk … En Hy het hulle in die hand van die heidene gegee, en hulle haters het oor hulle geheers; en hulle vyande het hulle verdruk, sodat hulle onder hul hand moes buig … Nogtans het Hy hulle benoudheid aangesien toe Hy hulle smeking gehoor het; en Hy het tot hulle beswil aan sy verbond (by Bloedrivier) gedink en berou gekry na die veelheid van sy goedertierenhede…” 

Kood, soos ek reeds aan jou gesê het, het ek geen plan nie, maar ek weet die Almagtige wat ek aanbid, se Plan was reeds in plek die dag toe Hy die hemel en die aarde in aansyn geroep het. Ek kan jou ook presies sê wat daardie Plan is, want sy profeet Jeremia het dit vir ons aangeteken: as ons “na Hom toe terugkeer”, dan sál Hy ons “red uit die hand van die goddelose mense en  ons verlos uit die vuis van die tiranne.” (Jer. 15:21).

Wat ek nou by jou wil weet, Kood, is wat is AfriForum en al die ander organisasies na wie jy opkyk se plan om ons uit die vuis van die tiranne te red? Ons weet reeds AfriForum het met duur hofsake probeer om dorp- en straatname te behou, en misluk (terwyl daardie dorpe en strate vuil en smerig is en so na riool stink dat net ‘n tronkvoël en terroris se naam daarby sal pas!) Ons weet ook hulle het met nog duurder hofsake probeer het om Julius Malema te verbied om te sing dat hy die Boere gaan doodmaak, en ook hierin het hulle misluk.

In Desember 2016 het ‘n Volle regbank van die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria ‘n aansoek van AfriForum en Solidariteit verwerp dat die Universiteit van Pretoria se besluit om net Engels as die hooftaal van onderrig te gebruik, ter syde gestel word. UP was een van ons bekendste histories Afrikaanse universiteite, maar het op die oomblik nog net ‘n skamele 25.1% Afrikaanse studente.

Intussen het sommige van hierdie sogenaamde regse organisasies groot koste aangegaan om by die VN te gaan pleit vir ‘n stukkie afknypgrond in die land wat die Skepper gratis aan ons gegee het, maar andermaal het dit ook misluk.

Hulle kon al daardie geld en moeite gespaar het deur net die Skepper te gehoorsaam en ons na Hom en die ou paaie terug te lei. As hulle dít gedoen het, was ons al lankal uit die vuis van die tiranne verlos!

Of stem jy nie saam nie?

Jy sê Siener irriteer jou, dan geld dit seker ook vir profete soos Moses, Jesaja, Jeremia, Esegiël en al die ander, want die simbole en vergelykings wat in die Siener se gesigte voorkom, is dikwels feitlik dieselfde as dié waarvan die Bybelse profete gebruik gemaak het.

In die vroeë 90er jare skryf mnr. Johannes Gagiano aan my: “Die Bybelwaarhede word opnuut bevestig deur die visioene van ons eie profeet, wat ek bevoorreg was om self te ken. Hy het dikwels my kinderhand in syne gevat en dan aan ons (ek, my vader en oupa) die dinge bevestig wat soveel duisende jare gelede deur God geprofeteer is.”

Kom ons kyk of dit so is: In Deut. 28:44 waarsku Moses ons bv. dat as ons nie doen wat die Almagtige beveel nie, sal Hy ons, wat nog altyd die kop was, die stert maak, en die vyande rondom ons sal die kop wees.

Siener het gesê daar kom ‘n tyd wat ons as volk op dwaalweë gaan beland en alles in die land omgekeer en onderstebo sal wees, dan sal hulle (ons vyande) baas wees en ons klaas.

In Hoofstuk 10 vers 7 sê die Prediker “Ek het slawe te perd gesien en vorste te voet op die grond soos slawe.”

Op 5 Mei 1921 het Siener ’n gesig gehad dat ons nog gedwing sal word om van die wa af te klim waarna ons eertydse touleiers nie net op die wa gaan klim nie, maar ook nog die briek (of skroef) aandraai terwyl ons die wa deur ‘n moddervlei moet sleep.

Mar 4:22 —  Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom.

Op 10 Mei 1922 kry Siener ’n gesig van die hele land wat lyk soos ’n ou ashoop waardeur ‘n ploeg geloop het. Dit beteken dat die korrupsie en kullery, leuens en bose geheime van alle kante en partye op ’n  genadelose wyse oopgevlek sal word. (Soos Solidariteit en AfriForum se skandes nou ook op Facebook oopgevlek word).

Eseg. 37:19 — Kyk, Ek sal die stuk hout van Josef neem…en die stamme van Israel, sy bondgenote, en Ek sal hulle by hom voeg, by die stuk van Juda, en hulle een stuk hout maak; en hulle sal een word in my hand…

Die Siener se gesig is byna woordeliks dieselfde: Ek het die verdeelde volk gesien: twee houte, een met penne en een met gate. Die rooi kielhouer gaan oor hulle. Die penne steek dan in die gate en die twee houte voeg so goed dat geen mens die nate kan sen nie.

 Jer. 16:4 — Aan dodelike siektes sal hulle sterwe (vigs en die Swart Pes?); en hulle sal nie beklaag of begrawe word nie, hulle sal mis op die aarde wees; en hulle sal deur die swaard en die hongersnood verteer word, en hulle lyke sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde.

In een van sy gesigte het Siener vier perde bo in Afrika sien ry. Die vierde perd was ’n aaklige pes waaraan so baie sou sterf dat die lyke nie begrawe kon word nie.

Jes. 43:8 — Bring uit die volk wat blind is en tog oë het…

Luk. 11:34 — Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou hele liggaam ook donker.

Siener aan oom Paul Prinsloo se vader: “Ek sien die Boere loop in en uit hul huise. Hul hoede hang in hul oë en hul koppe hang laag. Ek sien kolle op hulle oë wat soos pêrels lyk.”  (Hulle is siende blind en verstaan glad nie wat besig is om rondom hulle te gebeur nie).

 Mark. 9:40 — Wie nie téén ons is nie, is vir ons. (Vgl. ook Luk. 9:50).

In ’n brief wat mnr. H.J. Dreyer van Senekal aan Die Volksblad geskryf het, het oom Nicolaas aan hom gesê: “Wie nie met ons is nie, is teen ons…”

Jesaja 48:10 — Ek het jou beproef in die smeltkroes van ellende.

 Tydens die 1914-Rebellie het Siener ons deur ’n sif sien gaan, maar in die verre toekoms sou ons in ’n smeltkroes gelouter word.

Die vleeslike arm van Solidariteit en Afriforum

Flip Buys, die eertydse segsman van Constant Viljoen se Afrikaner Volksfront (AVF), sou later na vore tree as hoofsekretaris van Solidariteit, een van die organisasies wat vandag verbete veg om die grondwet wat die ANC aan bewind hou ‘te maak werk’.

Nadat De Klerk Mandela touleier gemaak het, was die Boervolk se lot verseël: …Julle land is verwoes, julle stede is verbrand, voor julle oë verteer vreemdes julle landerye. Hulle het dit ’n verlate wêreld gemaak. — N.A.V.-1983. En Hosea bevestig dit: “Hulle belieg mekaar, hulle breek in en steel, hulle beroof mekaar op straat… — Hos. 7:1. En Nehemia het tevergeefs by ons gepleit: Julle moet nie bang wees vir hulle nie; dink aan die grote en gedugte Yahweh, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise. — Neh. 4:14.

Maar ons wou nie luister nie, want: met die ontbanning van die ANC deur FW de Klerk begin Mandela, Ramaphosa, Mbeki en Zuma gesprekke voer met ‘skyn regse Afrikaners’ (nie Boere nie!) Daar was in daardie stadium sowat 200 regse organisasies. Op 11 Maart 1993 stig Constand Viljoen en andere die Afrikaner Volksfront as oorkoepelende organisasie. In September 1993 besluit die Volks Front om direk met die ANC te onderhandel. ’n Dokument oor selfbeskikking word opgetrek vir ondertekening op 21 Desember 1993 in die Carlton Hotel in Johannesburg.

Op 24 Julie 2008 reël Flip Buys dat Zuma ’n blanke plakkerskamp in Pretoria besoek. Sowat 1 000 armblankes was teenwoordig en ons moes op TV aanskou hoe van die blanke vroue Zuma letterlik omhels nadat hy aan hulle hulp belowe het. Maar hy is glimlaggend daar weg en hulle het nooit weer van hom gehoor nie. Ook Flip Buys en sy Solidariteit het heeltemal van hierdie beloftes vergeet en tot vandag toe swyg hulle soos die graf daaroor! Daardie ontmoeting was net ‘n foefie deur Solidariteit om publisiteit te kry en nuwe intekenare te werf.

Ons weet nou al dat AfriForum en Solidariteit daarbo vanuit hul morele hoëgrond-torings NIKS en NIEMAND sal steun as húlle, in hul eie woorde, nie die aksie SELF geloods het nie. Anders gestel: ‘As ons nie publisiteit én geld daaruit kan maak nie stel ons nie belang nie!’. En dit het so pas weer gebeur.  AfriForum is deur Wessel Basson en sy groep genooi om mee te doen aan ’n #RedDieBoer-optog op 1 Desember. Maar wat gebeur? Soos altyd besluit AfriForum op die plek  om sy eie ding te doen en hy reël ’n ander optog vir 25 Noverber en wil natuurlik ook niks met Basson se groep te doen hê nie.

(Terloops, ons is gekant teen hierdie skielike vlaag optogte, soos uiteengesit op die Vaandel Facebook).

Net so het Solidariteit ook geweier om deel te neem aan die blanke “protesaksie” op Kerkplein in April 2015, want, volgens Jaco Kleynhans, distansieer Solidariteit en AfriForum hulle van sulke ekstremistiese en rassistiese optrede.

Buys aan Mbeki: “Daar moet gefokus word op ‘gemeenskaplike belange’.”

Want na Flip Buys se mening moet daar nou gefokus word op wit, swart, bruin en geel se ‘gemeenskaplike belange’. Wat die stomme Buys nie besef nie, is dat ’n Boer net gemeenskaplike belange met ’n mede-Boer kan hê.

Hierdie volksvreemde nuk van Buys moet gesien word teen die agtergrond van Constand Viljoen se bedrieglike agenda tydens sy onderhandelings met die vyand toe hy namens die Afrikaner Volksfront ’n ooreenkoms met Thabo Mbeki en die kommunistiese ANC aangegaan het, ’n ooreenkoms waarin die AVF (en dus ook Flip Buys) die Nuwe Suid-Afrika se ‘grondwet’, wat toe reeds met die onderhandelings in die World Trade Centre in Kemptonpark in ’n ver gevorderde stadium was, aanvaar het.

Die Bybelse opdrag van skeiding tussen rasse se dae was nou getel.

En sedertdien het elke Solidariteit, elke Afriforum, elke FAK, elke ATKV, elke Voortrekker, elke skool, elke priester, elke predikant, elke pastoor en elke eerwaarde in hul swerftog op die breë paaie uitgeroep: “Ons swerf vry rond, ons sal nie meer na U toe kom nie!”  (Jer. 2:3.) Blymoedig het hulle ook apartheid afgesweer.

Pas nadat De Klerk in Junie 1996 uit die Regering van Nasionale Eenheid onttrek het, het die CIA  begin om met die Afrikanerbond saam te werk om as Interim-regering oor te neem nadat die ANC onder druk van ’n ‘CIA-konsepplan’ die ANC tot ‘n val gebring het deur doelbewus anargie, korrupsie, wanorde en totale chaos in die land aan te blaas. (Hulle is reeds ’n geruime tyd volstoom daarmee besig! Of het u miskien gedink die toenemende aanslae op blankes, die plaasmoorde, geweld, byna daaglikse dorp- en stadblokkades en die wilde tyre danse was ’n breinkind van die swart elite? Nee, die opdrag daarvoor kom direk uit die Britse troonkamer en word gefinansier vanuit ’n geheime diverse rekening onder beheer van Lord Robin Renwick, Malema se hanteerder).

Destyds is daar van De Klerk verwag om belowende jong vrydenkers  by die Afrikanerbond in te trek en te slyp. En dis hoe Solidariteit en sy bondgenoot, Afriforum, by die Interim-kommando beland en na Dingaan Zuma se kraal vertrek het. Langs die breë pad het hulle die Voortrekkers, ATKV, die FAK, Orania Beweging en Radio Pretoria op die lyf geloop wat almal staan en duimgooi het om ook ’n lift te kry.

Slegs ’n klein handjie vol Bloedrivier-nakomelinge het nog op die ou, gevestigde smal pad probeer voortgestrompel.

Die politici, kerk, instansies soos Solidariteit, Afriforum en ook hulle kamerade die ANC met al sy tentakels, verafsku en haat hierdie ou paaie; want om daarheen terug te keer, vra ook vir ’n terugkeer na die wet, na die eerbiediging van die Sabbat en dat versoeningsdag en Geloftedag weer moet plekke ruil. Dan vra dit ook vir hervorming soos in die dae van Nehemia, m.a.w. afskeiding van die gruwel nasies, lofgesange sonder die baster, geen ooreenkomste met die heiden nie en om tot in der ewigheid ook nie sy vrede of geluk te soek nie. En laastens moet die sodomiet, die pedofiel en die vrugafdrywer weer terug in die buitenste duisternis gewerp word!

Maar volgens ons uitgelese professore, die politici, die kerk en Afrikanerleiers is hierdie wandelaars van die ou paaie godsdienstige ekstremiste (prof. Andries Raath), ketters (prof. Johan Malan), verkondigers van ‘n dwaalleer (prof. Ben du Toit – hy ontken ook die bestaan van Satan) en ’n klomp idiote (Flip Buys van Solidariteit).

Ons lees in Beeld: “AfriForum maak sy stem dik deur Afrikaanssprekende studente by Tuks opdrag te gee om ferm te staan vir Afrikaans”.

(Dis opvallend dat nóg AfriForum, nóg Solidariteit, nóg die politici óf sogenaamde Afrikanerleiers al ooit hulle stem dik gemaak het en studente of enige ander groep wittes opgevorder het om “op te staan vir hulle God, hul blanke vel en om nie te verbaster nie”.

Hulle durf nie, want dit sal hulle swart broers aanstoot gee en dis ook teenstrydig met Reënboogland se grondwet.

Ja, soos Piet Retief ook verkies het om liewer met Dingaan te gaan Kodesa — die pad van die lafaard en ook die minste weerstand — net só wil Solidariteit en Afriforum vandag ook in sy voetspore volg. Maar hulle moet net weet – die Piet Retief-spisode gaan hom herhaal!

Ons moet Flip Buys se uitlatings sien vir wat dit werklik is. Hy weet sy organisasie beskik nie oor die morele moed en durf om, in die aangesig van die vyand se naakte rassisme, teistering en dreigemente, vreesloos vir God, volk en vaderland op te staan nie! Dus buig hulle maar gedienstig die knie en besing ook uit volle bors die afgod Nkosi.

Buys en sy bondgenote het vroeg reeds die swaard getrek teen behoudende groepe wat weier om met die barbaar te onderhandel; weier om met hulle kompromieë aan te gaan. Buys-hulle sien veragtend op hulle neer as verregse randeierfigure. Maar kan een van hulle my sê waarom het God oor ‘n tydperk van sesduisend jaar uitsluitlik ‘verregse randeierfigure’ geroep om sy werk vir Hom te doen?

Geeneen wat ooit met sy vyande onderhandel het, was deur Hom gereken nie! Dus, behoort Solidariteit en Afriforum te weet waar hulle met Hom staan.

En dan wonder ek of dié menere wat so graag ‘rassissme!’ saam met die barbaar skree, weet dat die woord ‘rassissme’ sinoniem is met ‘nasionalisme’, ‘volkseie’, ‘erflikheid’ en ‘rasbeskermend’? Alles eienskappe en karaktertrekke van ‘n ware patriot.

Rassisme word vandag as skelwoord gebruik vir iemand wat sy eie ras, godsdiens, kultuur en vaderland liefhet.

Elke ras met selfrespek, behoort so te dink, insluitende Solidariteit en sy bondgenote!

Flip Buys het pas weer sterk standpunt ingeneem teen Afrikaanssprekende blankes wat verkies om oor hulleself te regeer; hy gee te kenne dat dit net die ‘vêrregses’ is wat nog vasklou aan apartheid.

Hier is enkele uittreksels uit Buys se betoog, en daaruit is dit baie duidelik dat hy geen vriend is van die behoudende blanke Afrikaanssprekende landsburger nie.

Hy het hom reeds in 1990 met oorgawe vereenselwig en neergelê by sy boesemvriende FW de Klerk en Madiba se Nuwe Suid-Afrika; en veg nog steeds saam met De Klerk en Mandela se barbare om ontslae te raak van al die sinnelose, uitgediende wette en verordeninge wat die Almagtige destyds by monde van Moses aan ons oorgedra het.

Ook verafsku hy die Almagtige se Skeppingswet van ‘soort volgens soort’, want in Buys se alwyse oë is daar hoegenaamd géén verskil tussen wit, swart, rooi, geel en bruin spoortrappers nie! Dit is dan ook net die lae klas wittes wat daarop aandring om hulle ras eenkant en suiwer te wil hou ooreenkomstig die Skepper se opdrag.

Saam met De Klerk, die ANC, EFF en die VN spoeg hy vuur teen hierdie witnerwe: “Die probleem is dat Afrikanerselfbeskikking in Suid-Afrika ’n verregse kleur gekry het en met ’n vasklou- of terugkeer na apartheid vereenselwig word. Dit spruit veral voort uit die politieke vergiftiging daarvan deur sommige verregse heethoofde wat die begrip met koddige neo-apartheidsplanne belaglik gemaak het. Terselfdertyd het dit ammunisie gebied vir teenstanders (dit sluit nou in Solidariteit, AfriForum en die anti-God, anti-wit, anti-verbasteringaanhangers) om dié planne as agterlik en rassisties af te skryf. Daarby het die ANC natuurlik ’n sterk magspolitieke beweegrede om die gevaar van ’n ‘terugkeer na (God se) apartheid’ te gebruik om hul strewe na totale oorheersing van die samelewing te regverdig.

“Soos enige ander reg, is die reg op selfbeskikking nie absoluut nie en moet dit opgeweeg word teen ander ewe geldige regte, oftewel kwalifiserende ‘bepalings en voorwaardes’. Die belangrikste hiervan het te make met die menseregte (m.a.w. gebooie van mense) van die gebied se ‘ander’ inwoners wat geraak word.” (Dit gaan vir hom dus oor die ander se menseregte, want God se ‘regte’ is verouderd en uitgedien!)

Hy noem dan ’n rits ‘projekte wat kan werk’, mits dit van enige sweem van rassisme ontkoppel word.

Flip Buys se bedoeling met ‘geen sweem van rassisme’, is dat blankes niks mag doen wat slegs tot voordeel van medeblanke volksgenote strek nie? Inligting wat ons bekom het dui daarop dat blanke personeel wat by Afriforum se Helpende hand werksaam is, verbied word om slegs hulp aan blanke kinders te verleen. Sommige werknemers wat dit wel gedoen het, is glo afgedank. In Oudtshoorn het Afriforum met die geld wat hy van blankes ontvang ’n paar jaar gelede slegs aan Kleurlinkinders nuwe skooltasse geskenk het. Arm blanke kinders is oor die hoof gesien.

Ons wil Buys net daarop wys dat die Skepper wat deur sy gehate ‘verregses’ aanbid word, deur al die eeue nog steeds staan en val by Sy Voorgeskrewe Apartheidswette; want álles wat Hy geskape het, het Hy ‘soort volgens soort’ gemaak, en sy opdrag aan almal wat asemhaal (mens, dier, voël en plant) is om nié daardie verskillende ‘soorte’ te besoedel deur verbastering nie. (“Jou akker moet jy nie met twee soorte saad besaai nie. En ‘n kleed van twee soorte goed, van gemengde stof, mag nie op jou kom nie” (Lev. 19:19) “… jy mag geen verbond met hulle maak en hulle nie genadig wees nie. Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie.”  .(Deut.7:2-3).

 

Phyllis Godber en Cecil Hartwig 1932.

Maar meneer Flip Buys beskou hierdie opdrag van Hom as ‘belaglik’ en ’n ‘vergiftiging deur verregse heethoofde’. Dus moet ons aanneem dat die Almagtige in Flip Buys se alwyse oë ook maar net nog ‘n ‘Verregse Heethoof’ is!

Is dit dan nie Hy wat ook gesê het: “onderhou My gebooie, dan sal jy lewe” nie?

“The most diverse race on earth is the white race and yet we are not diverse enough for the zionist globalists an liberals. All other races look more or less the same, they all have dark hair and dark eyes, only the Asians show some differences.”

 

 

Posted on 115 Comments

Angus Buchan en die Siener

Ons verneem dat Siener se ‘vriendelike Ingelsman’, oom Angus Buchan, (in Afrikaans lees dit oom Angus Bakhand) gereedmaak om op 22 April buite Bloemfontein een miljoen gebede op te stuur na die Troonkamer om te pleit dat FW de Klerk se beloofde paradys tog nou ’n werklikheid moet word, want niemand kan dit meer in hierdie nekropolis (stad van die dooies) uithou nie.

Maar eer ons by oom Angus se gebedsaksie kom, laat ons net eers ’n bietjie in die geskiedenis terugloop.

Kort vóór die 1994 verkiesing het mnr. FW de Klerk in ’n volblad Rapport-advertensie en op TV as ’t ware ’n eed afgelê dat as ons hom en sy NP dat vertrou, dat hy ons nooit, maar nooit in die steek sal laat nie. Ons moes hulle vertrou dat hulle nog altyd gedoen het wat hulle belowe, en ook dat hulle by die waarheid sal staan en val…

Toe gaan KODESA hy met die ANC. Maar sommer in die tweede ronde gooi hy namens die blanke volk die handdoek in. Toe kondig hy ’n regering van nasionale eenheid aan, net om weke later weer die handdoek op die krytvloer te laat beland. Hy kapituleer, vat sy hoed en verlaat met ’n glimlag op sy tronie, nie net die NP nie, maar ook die volk.

Hierna verlaat hy toe sommer ook sy vrou. En tóé eers kon hy aankondig ons bly nou in die paradys. Maar skaars weke later, op 4 Desember 2001, word sy vrou, Marike, ook een van die duisende blankes wat met hul lewes moes betaal vir sy voorreg om sy en Evita se klein ‘paradysie’ te kon betrek.

Nou ontstaan die vraag: Wanneer en deur wié was hierdie paradys geskep?

Gelukkig staan dit dag en datum in die geskiedenisboeke opgeteken, en miskien onthou u dit nog:

Op 9 Junie 1982 skryf 123 gelegitimeerde NG priesters in ’n Ope brief in Die Kerkbode aan die blanke volk van SA, en lig hulle in oor waarom ons nog buite die paradys oor distel en doring moet hink en hyg om aan die lewe te bly.

Ons talle gruwelike sondes is die rede. Ten eerste weier ons om met die ander nasies rondom ons te versoen, want, om die paradys binne te gaan, moet “ons en hulle tot een nuwe mensheid verenig.”

Tweedens het ons ’n soliede apartheidsmuur van graniet tussen hulle en ons opgerig. En God is vertoornd daaroor.

Watter ‘God’? Want die God waaroor daar in hulle Handboek geskrywe word, het gesê: “Ek het soort volgens soort gemaak … en gesien dat dit goed is, baie goed!”

Toe voeg Hy by: “En Ek het grense tussen hulle vasgestel.”

En sy Seun kom en gewaarsku ons: “Ek het nié gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.”

Dus, sou julle tot een nuwe mensheid verenig, gaan daar bloed loop, strome bloed…”

En vandag kan ons almal daarvan getuig:

Gedurende die tydperk 1948 tot 1989 het daar sowat 7 000 swartes gewelddadig in SA gesterf. Vanaf die ANC se ontbanning in 1990 tot 1994 is 14 000 swartes deur ander swartes vermoor. Maar vanaf 1994 tot vandag het reeds meer as 70 000 duisend blankes met hul lewens betaal vir De Klerk se paradys.

Dit is so erg dat selfs die liberaliste nou daagliks in vrees en angs lewe. En volgens Siener gaan daar nog ’n tyd aanbreek dat hulle sal bid dat die onheile wat besig is om oor hulle te kom, tog nie moet plaasvind nie. Maar dis nie al nie — hy het ook gesien dat hy en genl. Koos de la Rey se seun, Adaan, nog oor hulle sal huil. Toe Adaan sê dit sal nooit gebeur nie, was Siener se antwoord: “Ek sien nie ons huil omdat ons hulle jammer kry nie, maar omdat ons nie vandag in hulle skoene staan nie…”

Daardie gesig gaan miskien nog hierdie week bewaarheid word, want ons verneem dat oom Angus Bakhand die voortou geneem het en ’n nasionale biddag uitgeroep het, juis om dit wat hulle nooit wou glo sal gebeur nie, te probeer keer!

Hierdie reuse-biddag word gehou op ’n plaas Wildeals Kloof, naby Bloemfontein om 2-uur Saterdagmiddag 22 April.

“Ons gaan dan ’n nasionale dag van gebed hou,” sê Buchan, “en ek doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners van alle rasse van regoor die land, van Tzaneen tot in die Kaap en van Upington tot in Durban, om bymekaar te kom — een miljoen van ons.”

Hy glo dit is ons laaste kans om weer normaliteit terug te bring na Suid-Afrika. “Kanselleer al jou afsprake en vergaderings en maak seker dat jy dié dag hier is. Ons is moeg daarvoor dat mense (hoekom noem hy hulle nie by name nie?) reg in eie hande neem. Ons gaan die Here vra om geregtigheid, vrede en hoop vir ons geliefde Suid-Afrika te bewerkstellig…”

Maar geloof of gebed sonder die werke is dood? Ons het dit by Bloedrivier gesien. Sarel Cilliers-hulle het sewe dae lank élke dag gebid vir verlossing. Maar daarna nie op hul louere gaan rus nie. Hulle het uur na uur hard geswoeg en gesweet (m.a.w.‘gewerk’) om gereed en voorbereid te wees vir wat ook al mag gebeur. Daar is veghekke gemaak, koeëls gegiet, gewere geolie en nagesien en ook verkenningstogte uitgestuur.

Hierteenoor wil Angus Buchan en sy volgelinge Saterdag na ‘n eenmalige gebedsaksie terugkeer huis toe om te sit en wag dat God nou vir hulle die ‘werk’ moet doen. Dit was ook die geval met sy destydse eerste ‘Mighty Men’-konferensie in 2003. Hy en sy ‘Magtige Manne’ (almal met vleeslike arms) het herhaaldelik dwarsoor die land bymekaargekom om te bid vir herlewing en vrede, om dan weer rustig huiswaarts gekeer. Hulle het nooit by die ‘werke’ uitgekom nie, want die aanrandings, kapings, rooftogte, plundering, verkragtings en doodslag het net vermeerder sodat Suid-Afrika vandag as die moordhoofstad van die wêreld bekend staan.

Die vraag word gevra of hierdie misdadiger wat moor, steel en verkrag, enige wet in eie hand geneem het om dit te doen? Is daar dan wette wat hom die mag daartoe gee? M.a.w. is daar aansoekvorms ingevul om 70 duisend blankes te vermoor? Die wat moor, steel en verkrag is mos ‘wetteloos’ en dus praat Buchan nie van hulle nie! Hy praat nie van swart op wit misdade nie, maar wel van wittes se dade op die swartes. Die witman is die gehoorsame wat wet en orde wil handhaaf en daarbenewens die wet gebruik om hulleself te beskerm.

Oom Angus is ook oënskynlik baie bly oor die ‘bloedige tydperk’ wat Suid-Afrika tans ondervind. Die 70 duisend moorde en 700 duisend plakkers is vir hom net ‘n oorgangsfase wat moet geskied sodat samesmelting tussen al die rassegroepe kan plaasvind. Hy sê ook dat dit sy laaste vergadering sal wees, want hy is nou tevrede met waar die land homself bevind. Daar moet nog net gebid word dat dié wat die reg in eie hande neem, gestop word!

Kan iemand nie asseblief sy oogklappe loop afhaal nie?

’n Groot aantal blankes wat met Siener se profesieë bekend is, is oortuig daarvan dat Buchan die man in die grys pak klere is waarna die Siener verwys het. M.a.w. hy is die geestelike leier uit die Oos-Kaap wat die Boervolk weer bymekaar gaan maak en na God teruglei.

Toe ’n vriend hom onlangs skakel en voorgee dat hy nie goed Engels kan praat nie en of Buchan sal omgee as hy Afrikaans praat, was Buchan se antwoord: “Ek verstaan nie Afrikaans nie en kan dit ook nie praat nie.” Of dit werklik die geval is, weet ons nie.

Op sy plaas is daar ’n weeshuis Beth-Hatlaim (Huis van die Lammers), vir wat hy noem ‘weggooi-kinders’ en sovêr ons kon vasstel is daar nie een blanke kind onder hulle nie. Dit bestaan reeds sedert 1995 en word grootliks onderhou met donasies van blankes.

’n Mens sou ook verwag dat ’n gesant van God uit eerbied en respek darem sy hoed sal afhaal wanneer in die teenwoordigheid van die Almagtige optree. Buchan is nog nooit met ontblote hoof op ’n verhoog gesien nie.

Siener het in ’n paar gesigte verskeie tonele waargeneem waarby ’n ‘vriendelike Engelsman’ betrokke is: ’n Vriendelike Engelsman kom hier aan. Ek sien wingerdlote (geloof) kom opmekaar uit, maar ’n groot vlam verteer hulle. (Deur die ‘vriendelike’ Engelsman se toedoen (misleiding), word die mense se geloof geblus). Hy kom van ’n Afrikaland (Zimbabwe). Ons sal lank nie van hom weet nie. Dan loop baie agter hom aan na die Oostelike provinsie (Natal) met groot verwagtinge. Maar hy lei hulle na ’n muur sonder ’n deur (daar is geen uitkoms nie). Siener sê hy sien ’n man wat die geel broek uittrek, maar die onderbroek is grys … hy hardloop dan na die ooste toe. (Geel is die kleur van verraad).

Dat hy die geel broek uittrek, wys sy verraad word ontbloot. Die grys onderbroek beteken hy probeer nog voorgee om ’n geestelike leier te wees, maar niemand vertrou hom meer nie en hy vlug (terug) na die ooste (Oostelike Provinsie).

Revolusie ons voorland

Die swart joernalis, Andile MngZitama, beweer die finale revolusie het reeds in SA begin met die Marikana-slagting en dat ’n volskaalse revolusie in Suid-Afrika nou onafwendbaar is.

Sy waarskuwing oor die revolusie, sluit aan by Siener se gesig van 6 Maart 1914 waarin hy hierdie revolusie in drie fases voorspel het — dit sou ook die begin wees van ons volk se laaste smeltkroes en suiweringproses, het hy aan ’n vriend, Kerneels Nieuwenhuizen, gesê: “Aan Rustenburg se kant brand ’n vuur anderkant die bult (die Marikana-Wonderkoppie) nie ver van Pretoria nie” (die Siener het self gesê vuur is ’n teken van geweld, bloedvergieting en/of doodslag). Hierdie gebeure is die eerste fase en die begin van die revolusie.

In die tweede fase sien hy misvure wat brand. In Siener se tyd was dit algemeen bekend dat swartes saans wanneer hulle van die werk afkom in die lokasies misvure maak. (’Misvure’ dui op geweld gepleeg deur swartes, en die geweld het sedert die Marikana-slagting so erg toegeneem dat daar net in die afgelope maar byna drie duisend betogings-, opstande- en geweldsituasies landswyd plaasgevind het.

En dis opvallend dat die hoofstroom media ’n doodse stilte daaroor handhaaf. Net soos wat die Boereprofeet dit ook vooruitgesien het: “In ons dag sal ons in die duister verkeer oor wat in die land aan die gang is.”

In die derde en laaste fase sien hy baie mense in Bloemfontein sterf “Aan Bloemfontein se kant is ’n swart wolk vol mense” (Met genl. De la Rey se dood het Siener ook ‘n ‘swart wolk’ bokant Lichtenburg gesien — maar hierdie keer is die wolk ‘vol mense’ — dit lyk dus of baie mense nog naby Bloemfontein gaan sterf.

Dis ook opmerklik dat hy nie die ‘swart wolk’ bokant Bloemfontein sien nie, maar ‘aan Bloemfontein se kant’. Buchan se byeenkoms kan ook gesien word as ‘aan Bloemfontein se kant’, wat dit vind plaas sowat 4½ kilometer buite Bloemfontein.

Ons wil nie sê dit is so nie, maar moontlik het Siener se gesig betrekking op hierdie gebeurtenis; óf ’n insident wat nog in die toekoms gaan plaasvind.