Boervolk | Siener van Rensburg | Vaandel Uitgewers

Ons sewevoudige gelofte

2023-12-15

Deur Adriaan Snyman

Avatar photo

Ons volk herdenk Saterdag die 193ste Bloedrivier-gelofte. Die vraag is net, hoeveel van ons volksgenote is daar wat hierdie dag nog eer; dit as ’n dankdag soos ’n Sabbat deurbring? En wie van ons volk se ouers het nog die moed om dit aan hulle kinders oor te dra sodat hulle met ons daarin kan deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte?

Baie van hulle sal Saterdag na die sportvelde stroom om hulle sporthelde aan te spoor en toe te juig; ander sal weer op die strand deurbring, nog ander sal dit saam met hul 1994-aangelapte broers en susters dit as ’n dag van “versoening” vier.

Dit maak nie saak dat hierdie versoening geen vrede of veiligheid gebring het nie, want solank hy nog sy gerieflike huis, sy spog kar, sy goeie werk, vet salaris en vele vriende van alle kleure en geure het, is alles nog Honkie dorie, soos D.J. Opperman sê!

Enkele jare gelede het iemand die opmerking gemaak dat met elke gelofte wat nog afgelê is, het duisende lewens in die slag gebly. Hy het toe Israel as voorbeeld genoem; want, het hy gesê, die dag toe Israel teen die Kanaäniete te staan gekom het, het hulle God met ’n gelofte ‘versoek’ dat Hy die Kanaäniete in hul hand moet oorgee, dan sal hulle al die Kanaäniete met die banvloek tref. En hierdie persoon het hierdie “versoek” (m.a.w. die gelofte wat afglê is) as ’n gruwel beskou.

Die uitredding wat dit vir Israel as volk gebring het, was nie vir hom ter sake nie. Daarom wil hy ook niks weet van óns Bloedrivier-gelofte nie.

Maar vir u wat dit nog eer, wil ek tog ’n paar interessanthede noem:

Die Bloedrivier-gelofte is meer omvattend as enige gelofte wat in die Bybel opgeteken is.

Die Trekkers het hulle nie net sewe agtereenvolgende dae voor hul Skepper verootmoedig nie, maar terselfdertyd ook ’n sewevoudige eedaflegging gedoen.

(Terloops: Hulle het die Almagtige nie gevra om hulle te help om met die vyand te versoen óf om met hulle ‘n vredesverdrag te sluit nie. Maar net soos Israel van ouds was hulle pleidooi dat Hy die vyand in hulle hand sal oorgee. Wat Hy toe ook op wonderbaarlike wyse gedoen het!

(Hierteenoor het Piet Retief-hulle met daardie selfde vyand ’n verdrag/ ooreenkoms aangegaan waarvoor hy en al sy manne met hul bloed betaal het!)

Ek beskryf hier net kortliks wat Andries Pretorius en Sarel Cilliers se sewevoudige eedaflegging behels:

  1. Hulle het erken die Opperwese is die Skepper van hemel en aarde. Dusdoende het hulle onderneem om nóóit voor enige ander god of afgod te buig nie.

  2. Hulle het belowe om dié dag en datum elke jaar as ’n Sabbat deur te bring.

  3. Belowe dat hulle ’n tempel tot sy eer sal stig waar dit hom behaag. Die woord ‘tempel’ verwys nie na ’n gebou nie. Die Skepper sê Self Hy woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie. Want “julle (Israel) is ‘n tempel van God en die Gees van God woon in julle”. (M.a.w. sy volk is sy Woonplek). Die Vader verwys ook Self na die volk as die ‘huis van Israel’.

  4. Ook belowe dat hulle die gelofte aan hulle kinders sal oordra.

  5. En so ook aan die opkomende geslagte.

  6. Want die eer van sy Naam sal daardeur verheerlik word. (En dan die laaste en seker ook die heel belangrikste eed ivan almal):

  7. Hulle sal die roem en eer van oorwinning net aan Hom gee.

n Gelofte is niks anders as ’n eedaflegging nie ― niks mag daaraan bygevoeg of daarvan weggeneem word nie.

Dus. elkeen wat vandag Versoeningsdag vier, is skuldig aan meineed en wag die straf wat vir hom/haar uitgemeet is.

n Gelofte verteenwoordig ook afskeiding

Volgens die Pharos-woordeboek is ‘n gelofte “iets wat vrywillig beloof is”. Die aflegging van ‘n gelofte is dus nie net ‘n bindende ooreenkoms nie, maar dit dra ook ’n boodskap van oorgawe en algehele gehoorsaamheid aan dit wat in die gelofte onderneem word.

Met die aflegging van die 1838 gelofte het die Trekkers die Almagtige Skepper van hemel en aarde onder andere belowe dat hulle hul van alle wetteloosheid en ongeregtighede sal “afsonder”.

En dis wat die Hugenote in die sestiende eeu in Frankryk nagestreef het. Maar in die laatnag ure van 23-24 Augustus 1572 in Parys het Katoliek-gesindes duisende Hugenote juis om hierdie rede oorval en vermoor. Die slagting van Protestante het later oor die hele Frankryk uitgekring. En sowat 5 000-8 000 Protestanse Hugenote is in ’n paar weke uitgemoor.

Byna 250 000 het na buurlande gevlug. Min of meer 200 Hugenote het in 1688-1689 na die Kaap de Goeie Hoop gekom om hulle hier te vestig.

Maar toe die Kaapse kerk hulle met die gekleurde rasse wou gelykstel, het hulle weer opgepak om die wildernis in te trek.

Volgens Siener gaan dieselfde lot Christen-gelowiges in Europa weer tref, en duisende van hulle sal dan oppak om na Suid-Afrika te vlug, waar hulle hul in “wit tente in die Karoo/woestyn/Kalahari/Namib” gaan vestig. Wit tente is simbolies van Gods beskerming…

Twis, tweedrag en verdeeldheid

Wanorde en wetteloosheid het begin die dag toe die mens uit Eden geban is. Die vrede wat hy daar geken het, was nou iets van die verlede. Twis, tweedrag en onderlinge verdeeldheid was aan die orde van die dag.

Aan die een kant was daar “wet en orde” en aan die anderkant “wetteloosheid en wanorde” Vandag ken ons dit as “regs” en “links”. En geen mens kan terselfdertyd aan beide kante staan nie. Jy is óf “regs” (dus afgeskei (apart), van dié wat hulle aan die linkerkant bevind; en dieselfde geld vir die “linkse” groepering).

Die Almagtige self is die groot Skeidings-Maker; die Skepper van wet en orde. Die Hoofboodskap, van sy Handboek (die Bybel) vir sy leerlinge is dan ook dat hulle hul moet afskei van ’n “sondige lewe” deur “wet” en “orde” te handhaaf. Hulle moet hul losmaak, afskei (“apart” hou) van elkeen en alles wat links is; m.a.w. “wetteloosheid” en “wanorde” bedryf.

Reeds met die Skepping het die Almagtige skeiding of apartheid as wet neergelê.

En ek wil dit graag aan u verduidelik aan die hand van ‘n voordrag wat die bekende Afrikaanse skrywer en digter, Totius (hy was ook mede-vertaling van die 1933-Bybel) tydens ‘n Kongres oor die Rassebeleid in 1944 in Potchefstroom gelewer het.

Jacob Daniël du Toit beter bekend as Totius

Hy begin sy toespraak met hierdie woorde: ‘n Liberale vriend en teenstander van apartheid sê: “Gee my ‘n Bybelteks wat bewys dat apartheid in ooreenstemming is met die uitsprake in die Heilige Skrif.

My antwoord was: “Vriend, ek het geen verse nie.”

Hy sê toe: “Dan het ek die argument gewen.”

Ek antwoord toe: “Ek het geen vers nie, vriend. Ek het net die Bybel – die HELE Bybel, want van Genesis een tot Openbaring spreek dit van apartheid.”

En dan verduidelik Totius dit so: “In die tweede vers van Genisis een lees ons die aarde was woes, leeg en in totale duisternis. M.a.w. in chaos gedompel.

Toe maak die Almagtige lig, en omdat lig en duisternis nie saam kan bestaan nie – het Hy hulle van mekaar geskei.

Hierna maak Hy toe die uitspansel en bring ook skeiding tussen waters en waters. En onder die uitspansel maak Hy skeiding tussen see en droë grond.

Die son kry die bevel om te heers oor die dag en die maan moes heers oor die nag.

En daardie heerskappy staan tot vandag toe nog.

Die Almagtige het egter nie net dinge van mekaar geskei nie, maar terselfdertyd ook dit wat bymekaar hoort (soort volgens soort) bymekaar gevoeg.

Die aarde was dus woes en leeg en chaos het daaroor geheers, totdat Hy dit Herskep het om alles wat nie bymekaar hoort nie, van mekaar te skei. En daarmee is die wet ingestel wat bepaal dat “soort” net “soort” kan voortbring. En eers toe hierdie wet in werking kom, het die chaos plekgemaak vir volmaakte orde in die skepping.”

Totius gaan dan voort: “Dieselfde skeppingswette wat vir die lig, duisternis, aarde, see, diere en plante geld, het ook vir Adam gegeld. In Gen. 2:18 het God nie net vir Adam ‘n hulp gemaak nie, maar ook een wat by hom pas – dit kon nie anders nie, want die wet sê: Eva moet soort van sy soort wees.”

(En hier verwys Totius toe na Johannes van der Kemp,’n sendeling van die Londense Sendinggenootskap wat aan die Kaap vir hom ‘n swart vrou gevat het wat nié (volgens God se orde) by hom gepas het nie).

Net soos die son en maan opdrag gekry het om oor die dag en nag te heers, so kry Adam ook die opdrag om nie net te vermeerder en die aarde te vul nie, maar hy moes ook daaroor heers. Die aarde kon net gevul word as sy nakomelinge weggetrek het om hulle te gaan vestig op plekke waarvan God reeds vooraf die grense bepaal het.

Hierdie wegtrek- of skeidingsbevel is letterlik na die Sondvloed ook aan Noag en sy seuns herhaal: ‘Wees vrugbaar, vermeerder en vul die aarde…’ Maar hulle kry nie weer die opdrag om oor die aarde te heers nie, want die heerskappy daarvan het hulle in die Tuin van Eden aan Satan afgestaan.

Nimrod, die geweldenaar, was die nuwe heerser wat namens Satan die Babelse Ryk in die laagte van Sinear gevestig het. Hy het dan ook die Almagtige se opdrag om die aarde te vul – m.a.w. om oraloor heen te versprei, doelbewus en moedswillig geïgnoreer. Hy sou vir sy heer en meester (Satan) ‘n stad bou en die mense daarin verenig sodat dit nié vir hulle nodig sou wees om die ‘aarde te vul nie’.

(Dis interessant om daarop te let dat nóg Abraham, nóg Isak, nóg Jakob ooit stede gebou het!)

Want alles was in sy guns om ‘n “nuwe orde” tot stand te bring, ‘n orde waarin vryheid, gelykheid en broederskap sou heers – hulle het reeds één taal gepraat; hulle was almal ‘gelyk’ en hulle het ook almal dieselfde ‘doel’ nagestreef, nl. om (sonder God) op eie krag op te klim en die hemel te annekseer.

Toring van Babel deur Pieter Bruegel (1563)

Maar deur “taalverwarring” het die Almagtige hulle planne verydel en is hulle gedwing om oor die aarde verstrooi.

En tot vandag toe is dit die ‘taal’ wat ‘n volk praat wat hom saambind. Kultuur, Godsdiens en geskiedenis kom eers tot uiting wanneer hulle mekaar verstaan en saamwoon.

Uit die voorafgaande is dit dan duidelik dat sedert die dae van Noag word die ganse mensdom beheer deur óf die Babelgees óf die Trekgees.

Volgelinge van die Babelgees hoor nog steeds Nimrod se stem wat hulle opkommandeer om ‘n Wêreldstad te bou, ‘n stad met ‘n Nuwe Orde waarin almal gelyk is, almal dieselfde taal praat, een staatsbestel het en aan dieselfde god onderdanig is.

Hierteenoor staan die draers van die Trekgees. Hulle hoor die stem van die Almagtige wat sê: ‘Skei af en trek weg sodat Ek van jou ‘n nasie kan maak’. Dit is woordeliks wat die Vader aan Jakob sê toe Hy hom beveel het om na Egipte op te trek (Gen. 46:3).

Dit was dieselfde Trekgees wat ons voorouers uit Europa hierheen laat vlug het toe die gees van Babel uitgeroep het: Vryheid, gelykheid en broederskap…” Tot sover Totius se voordrag.

Iemand het eendag hieroor gesê: Die gees van Babel oorval jou soos mistige weer en varkmasels, en eer die Franse Hugenote hulle hier in Suider-Afrika kon kry, was die Babelgees weer in hulle midde.

Anna Steenkamp

In haar gedenkskrif oor die Voortrekkers skryf Anna Steenkamp hoekom hulle andermaal en net soos in Europa, weer noodgedwonge huis en haard, goed en bloed moes verlaat om hulle in die woeste vreemde te gaan vestig: “Ons het angs en benoudheid, pyn en smart, honger en kommer van vyand en vriend verduur…” En dan noem sy o.a. die volgende:

Die voortdurende plundertogte deur swartes.

Die gelykstelling van slawe met ons Christengelowiges, en dat die Goewerment aan die Kaap verklaar het dat na 1 Januarie 1827 Engels die enigste amptelike taal van die geregshowe sou wees. Die taal van 90% van die bevolking is daarmee uit die regswese geban. Kort na die vrystelling van die slawe kom ook die verpligting om Engels as omgangstaal (veral in die skole) te gebruik.”

(Vandag verkeer ons in ‘n veel erger situasie: Ons word nie net deur die swartes geplunder en beroof nie, maar ook wreedaardig uitgemoor.

In ons skole en kerke het die verskillende godsdienste en gelowe ook reeds tot een brousel versmelt.

En in die openbare sektor hoor jy niks anders as Engels nie.

Tereg sou mens die vraag kan vra: Is Engels nie dalk die Babelgees se Nuwe Wêreldorde-taal nie? Want almal sal vir jou sê – sonder Engels kan jy nêrens kom nie. Ja, selfs daar in die mees afgeleë plekke van Donker Afrika hoef jy net ‘n mikrofoon onder koning Stertriem se neus te druk en hy sal jou onmiddellik in sy beste, onverstaanbare Ingels te woord te staan!

(Maar oom Siener voorspel dat die dag as ons ons vyande landuit verdryf het, sal ons tot in der ewigheid nooit weer Engels hoor nie!)

Soos wat ons voorouers uit Europa gevlug het om van die Babelgees vry te kom, so het die Voortrekkers ook uit die Kaap wegtrek, getrou en gehoorsaam aan die stem wat sê:

Kom uit haar uit my volk en gaan na waar Ek vir julle voorafbepaalde grense getrek het…”

En met hierdie gehoorsaamheid het hulle hulself waardig gemaak om ‘n gelofte voor die Vader af te lê.

Want het hulle in die Kaap agtergebly, sou hulle uiteindelik ook deur die Babelgees opgeslurp word, en was daar nie net geen Gelofte nie, maar ook geen Boervolk vandag nie!

Die vraag is: beskik ons nog oor die mense materiaal om buite die Babelgees as volk voort te bestaan?

Ek wil net twee voorbeelde uit ons geskiedenis aanhaal.

En beide kom uit Dr. P. Pistorius se boek, Wag op die môre, my volk, wat in 1996 gepubliseer is.

Hy sê in die tyd van die Voortrekkers en 2de Vryheidsoorlog het ons helde gehad waarna ons kon opsien. Dan noem hy Dirkie Uys en komdt-genl. Piet Joubert se vrou, Hendrina, wat as agtjarige dogtertjie in die laer by Weenen met ‘n byl ‘n Zoeloe se hand afgekap het toe hy ‘n doringtak tussen die waens probeer uitruk het.

Die ander voorbeeld wat hy noem is, genl. Christiaan de Wet. Byna sestig jaar gelede verskyn daar in Afrikaans ’n vertaling van Heinz Konsalik se Duitse boek, Die snydokter van Stalingrad, wat handel oor Duitse gevangenis in Russiese konsentrasiekampe in Siberië. Daar het Konsalik eendag in ’n hut van ’n medegevangene op ’n portret van genl. De Wet afgekom. Hy wou toe weet wie dit is. Die gevangene verduidelik toe dis ’n Boeregeneraal wat in die 2de Vryheidsoorlog geveg het, en hy voeg toe by: “Die dag as daar ’n man soos Christiaan de Wet onder ons opstaan, sal ons uit hierdie helkamp bevry word.”

Vóór die uitbreek van die 2de Vryheidsoorlog was Christiaan de Wet maar net nog ’n doodgewone medevolksgenoot. Maar die oorlog het die heldegees in hom wakker gemaak.

En sonder twyfel sal die sluimerende Christiaan de Wets met die uitbreek van ons Finale Vryheidstryd, ook opgewek word.

Die benoudheid van Jakob

Daar was niks voortvarend en/of arrogant met die aflegging van die gelofte by Bloedrivier nie. Die Trekkers het (net soos Jakob by Bet-el) in groot benoudheid verkeer en het voor die Almagtige neergebuig om sy hulp af te pleit. Die gelofte was nie ‘n ‘opdrag’ aan Hom nie; maar ’n totale oorgawe en smeekgebed om uitredding. Want as sterflike ‘mens’ het hulle niks anders gehad as net hulself om Hom aan te bied nie – dit, saam met hul nageslag en die beloifte dat hulle Sy Naam sou verheerlik deur die roem en die eer van oorwinning aan hom te gee.

Gen. 28:20-22 “En Jakob het ‘n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek. en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees. En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.”

In Gen 31:13 gee die Almagtige erkenning aan Jakob se gelofte: “Ek is die God van Bet-el waar jy die gedenksteen gesalf het, waar jy aan My ‘n gelofte gedoen het. Maak jou dan nou klaar, trek weg uit hierdie land en gaan terug na jou geboorteland.”

En in Deut. 23:21, 23 lees ons: “As jy aan die HERE jou God ‘n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die HERE jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word. Wat oor jou lippe gaan, moet jy hou en doen soos jy aan die HERE jou God vrywillig beloof het.”

In een van sy gesigte het die Boereprofeet, Nicolaas van Rensburg, “gesien” ons volk gaan in die verre toekoms weer soos destyds, met die rug teen die muur staan; maar hierdie keer in so ‘n groot benoudheid verkeer dat jy nie jou hand voor jou oë sal kan sien nie. Want, het hy gesê, die Almagtige gaan ons dan in ‘n smeltoond van verdrukking, ellende en smart dompel totdat ons die knie voor Hom buig en Hom aanroep soos by Bloedrivier.

Hy het toe bygevoeg daar wag vir ons ‘n “Tweede Bloedrivier” – ‘n Bloedrivier waar ons dan weereens soos Sarel Cilliers-hulle op 9 Desember 1838 by Wasbank, en soos Paul Kruger en sy medeburgers op 13 Desember 1880 by Paardekral, ’n nuwe gelofte sál moet aflê.