Oor Ons

Dit was op ‘n vroegoggend in Mei 1990 toe Adriaan Snyman sy Bybel oopslaan en in I Samuel lees van die siener wat die Israelvolk van ouds geraadpleeg het. Op daardie oomblik het hy skielik onthou dat ons volk mos jare terug ‘n eie siener gehad het, ‘n profeet van God. In die loop die volgende jaar het hy dwarsdeur die land gereis opsoek na elke brokkie inligting wat hy oor die ou Boerprofeet kon bymekkaarmaak. En uiteindelik, in 1991 is Deel I van ‘n reeks van ses monografieë, wat hy, sy vrou Annelize en hulle vyf kinders letterlik op die kombuistafel, saamgestel, gedruk, gekram en landswyd versprei het onder die banier van Hugenote Publikasies. In 1993 het die eerste vollengte boek oor Siener, Stem van ‘n profeet, verskyn. In 1996 het die uitgewery se naam verander na Vaandel Uitgewers.

Vir bykans 20 jaar, met die genade en beskerming van God se hand, is ons al besig om die misleide Afrikaner, en ons medevolksgenote (die Boervolk), se oë oop te maak sodat hulle kan weet hoe hulle ondergrawe, verraai en verneder is en uitgebuit word. Alleenlik as ‘n mens met kennis van jou God en jou vyand gewapen is, het jy ‘n kans op oorwinning, maar dit is baie duidelik – hierdie volk het ten gronde gegaan weens gebrek aan kennis. Dit was dus van die begin af ons strewe om nie net die volk in te lig en te waarsku oor belangrike sake wat hulle raak nie, maar ook om hulle te herinner aan die Vader se oproep dat ons moet terugkeer na Sy wil en liefdevolle ontferming. Want slegs met hierdie wapenrusting kan ons saam as volk die toekoms met Hom tegemoetgaan.

Ons het gesien hoe die land begin verkrummel in 1990 – ten spyte van al die waarskuwings; en ons het gesien hoe dit verder uitrafel in 1994, sodat ons vandag volkome in die hand van ons vyand sit. Maar soos die jare verbygestap het, het ons ook gesien hoe die volk se hart begin terugkeer na die paaie van ouds en hoe hy, deur die woorde van sy profeet, weer moed geskep het vir die toekoms. Baie het egter landuit gevlug, maar baie met geen heenkome nie en die bittereinders, glo ons, is deur God self hier geplant, en kon daarom nie hul wortels lig nie.  En vir hierdie oorblyfsel sal ons onvermoeid voortgaan totdat die Vierkleur weer wapper oor ‘n vrye volk.

Adriaan en Annelize Snyman